People

’n Boerdery met ’n siel

’n Boerdery met ’n siel

Kinnie, wat in die Marble Hall omgewing groot geword het, sê dat sy van jongs af wou boer.

Kinnie boer nou maar eers vir die laaste paar jaar voltyds, nadat sy in 2015 by die Christelike Maatskaplike Raad afbetaal is.

Sy het daar as kinderterapeut gewerk en het reeds ’n gedeelte van die grond gehuur waarop sy nou voltyds boer. Voor 2015 het sy ’n paar skape en perde op die plaas aangehou.

Dit vat nie lank nadat jy op Kiewietspruit Boerdery aangeland het, om agter te kom hoekom Middelburg se Kinnie Scholtz onlangs uit meer as 140 kandidate as Mpumalanga se vroueboer van die jaar gekroon is nie.

Tydens haar tyd as kinderterapeut by die CMR, waar sy terapie met kinders asook assesserings vir die Kinderhof gedoen het, het Kinnie die waarde van perdeterapie begin besef.

“Kinders sukkel partymaal om met ’n mens te praat, maar vir perde vertel hulle alles,” sê sy. Op die plaas is daar ’n spesiale area waar mense kan sit en dinge bepeins. Daar is ook ’n doolhof wat terapeuties is om spanning en trauma op te los en wat al deur maatskaplike werkers by die CMR gebruik is om self hul werk se uitdagings te verwerk.

Nadat Kinnie afbetaal is, het die geleentheid opgeduik om die grond waarop sy bly te koop.

Kinnie, wat in die Marble Hall omgewing groot geword het, sê dat sy van jongs af wou boer. Nadat sy die grond bekom het, het die aanhou van ’n paar skape en perde uitgebrei na ’n varkboerdery, die aanplant van mielies om die varke mee te voer, asook die verbouing van kool en ander groente.

Sy het ook nou begin om melkkallers groot te maak en verkoop.

Kinnie sê dat haar buurman, Stanley Bolt, haar baie help met raad en advies oor die boerdery.

Kiewietspruit Boerdery is pynlik netjies met nie ’n dingetjie uit plek nie. Kinnie sê dat sy glo diere moet ’n lekker lewe hê en dat hul waarde dan sal opskiet.

Daar is oral humoristiese bordjies op, soos die skape se drukgang wat die ‘Drive-Through’ heet en die hokke waar die speenvarkies gehou word wat

‘Kiewietspruit Piggery Primary’ genoem word.

Buiten vir kool word ander groente seisoenaal aangeplant. Dit word aan plaaslike smouse verkoop en mark toe gevat.

Kinnie behoort ook aan die Good Agriculture Practices program wat dit vir verbruikers moontlik maak om vars produkte in die winkel tot by die plaas waar dit verbou word, na te gaan.

Die Departement van Landbou se Vroueboer van die Jaar kompetisie is volgens baie streng reëls beoordeel. Kandidate wat vir die kompetisie in ag geneem word, moet 100 % in vroue besit wees.

 

Daar word noukeurig gekyk of al die arbeidswette nagekom word, of jou papierwerk in orde is en of jou boerdery omgewingsvriendelik is.

So word al Kinnie se varke se mis in ’n dam opgevang wat dan deur middel van swaartekrag op haar aangeplante weiding uitgespuit word vir bemesting.

As een van meer as 140 kandidate, sê Kinnie sy het nie verwag om te wen nie. Die provinsiale prysuitdeling is by die Banketsaal in Middelburg gehou.

“Ons het die aand gegaan met die idee dat ons ’n lekker bord kos gaan eet en ’n glas wyn gaan drink. En daar wen ek!” vertel sy verleë.

Haar aankondiging as wenner het gepaard gegaan met ’n jillende toejuiging van ander vroue in die Nkangala distrik wat vir die eerste keer met die louere wegstap.

Die R150 000 prysgeld was ’n welkome hupstoot vir Kinnie wat meen dat dinge maar swaar gegaan het in die landbou industrie die afgelope ruk.

Sy sê dat beoordelaars vir haar gesê het dat haar goeie boekhoudingsisteem sowel as haar veiligheidsmaatreëls, haar die eerste plek besorg het.

 

Get it Middelburg/Witbank November 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.