People

Gestremde vrou se droom bewaarheid

Gestremde vrou se droom bewaarheid

Vriendinne se pelgrimstog in Spanje

Twee vroue, waarvan een ’n gestremde, het met ’n nuwe prototipe rolstoel ’n pelgrimstog in Spanje aangepak wat nie net ’n droom bewaarheid het nie, maar ook hul uitkyk op die lewe.
Tussen honderd foto’s en staaltjies wat 10 tydskrifte sal volmaak, probeer Rensche du Toit en Corine de Jonge hul verhaal in ’n neutedop saamvat.

Rensche, wat op ’n jong ouderdom polio opgedoen het, loop bykans haar lewe lank met ’n loopraam en droom nog altyd daarvan om ’n pelgrimstog aan te pak.

Sy het in 2017 afgetree as assistent direkteur van die Limpopo maatskaplike dienste kantore met supervisie oor die aannemingskantoor.

Aftrede het nie beteken dat sy “met pensioen” is nie en sy het dadelik vir haarself gesê: “wat doen ek nou vorentoe? Ek het die wêreld se tyd.”

Geskiedenis en die stories van die katedraal wat op die graf van die apostel Jakobus gebou is, het haar gefassineer.

Tydens ’n CMR-konferensie het sy met iemand gepraat wat al die Camino, Madrid na Santiago roete, aangepak het oor honderde kilometers. Sy het ook Ernst Grundlingh, joernalis van die “Weg” tydskrif se boek gelees wat hy geskryf het oor die Camino en die TV-reeks op KykNET gevolg. Net daar het sy besluit. Sy gáán dit doen, maar het besef dat sy dit nie alleen sal kan aanpak nie.

Sy het haar vriendin, Corine, vertel van haar planne, wat dadelik aangebied het om te help.

Om sekere gedeeltes waar gestap moet word, vinniger af te lê, moes Rensche ‘n spesiale rolstoel kry. Hulle het Schalk van der Merwe gekontak, wat pas ’n Prototipe 1 rolstoel ontwerp het vir ruwe terrein in Afrika.

Rensche het geweet sy sal op sekere plekke trappe moet klim en ook by busse self moet inklim en daarvoor moes sy intensief oefen onder leiding van ’n biokinetikus van Johannesburg om meer soepel en mobiel te wees en ook om haar spierkrag te verbeter.

Corine kan weens ’n rugprobleem nie ’n rugsak dra nie en die rolstoel is in ’n driewiel verander, sodat ’n mens ’n rugsak of ander pakkies voorop kan laai.

Gedurende September het die vroue die roete aangepak.

Dit is moeilik vir Rensche om hoogtepunte te kies. Maar ’n paar staan tog uit.  Daar was die kerk in Muxia uit die elfde eeu wat agt jaar gelede deur die weerlig raakgeslaan is. Omdat die Kerk heeltemal uit klip gebou is, is net die houtwerk vervang.

Net ’n paar maande na hierdie hartseer voorval is die area “kus van die dood” genoem toe ’n olietenkskip op die rotse geloop het.

Mense van regoor die wêreld het gekom om te help opruim.

’n Gedenkteken uit klip is opgesit in herinnering aan al die vrywilligers wat gehelp het. In die middel van die klip is ’n groot skeur wat die hartseer simboliseer.

Sy onthou ook die een “eindpunt” by “Funisterre” wat die eindpunt van die wêreld genoem word met sy loodregte kranse. Hulle was selfs op die Romeinse muur en het vreesvry in die aande nog tot na 23:00 in die strate rondgedwaal.

Wat beide opgeval het, is hoe elke persoon in die groep ingestel was om te help. “Dit is die filosofie van die Camino, om ander te help.” Vele het teen steiltes gehelp om die rolstoel op te trek en by trappies was daar oral ’n helpende hand beskikbaar.

Met net 300m oor tot die einde, het een vrou haar knie beseer en het sy besluit om maar net daar klaar te maak. Rensche het uitgeklim en gewag, waarop Corine die vrou met die rolstoel gestoot het tot by die eindpunt, terug geloop het en vir Rensche gaan haal het sodat hulle saam kon klaarmaak.

As sy terugdink aan die uitdagende roete van sowat 600km wat hulle met busse, taxis, die rolstoel en te voet aangepak het, is dit ’n gevoel van innerlike oorwinning.

Rensche sê dit het ook haar geloof versterk. “Dit was ’n geloofsaak, want ek het geleer hoe afhanklik jy regtig is.”

Natuurlik is daar nóg drome en uitdagings wat die twee wil aanpak.

“Argentinië fassineer my ook, maar nou moet ons net eers weer geld bymekaarmaak om daar uit te kom,” sê Rensche laggend.

Sy het dié besondere boodskap geskryf die Sondag na hul pelgrimstog (toe hulle nog in Spanje was).

“Vandag is ’n rusdag. Gister was die laaste deel van ons roete. So vol indrukke dat mens vandag net wil stil wees en bepeins. 

Van Pontemaceira, ’n bewaarde 12 eeuse gehuggie deur Muros, ’n vissersdorpie, na die Ezaro Waterval

Finisterre, die einde van die wêreld, om dan in Muxia te eindig.

Starend oor die kus van die dood na miswolke oor die see en ’n vuurtoring wat sereniteit en daglig uitstraal.

Een ding bly my by: wat het Stephen Hawking, die aartsatiës, gedryf om die eindpunt van die Camino te besoek?

Het hy ook maar bly soek, al het hy die teendeel uitgeskreeu?

Een ding weet ek: ’n Hand het oor my gevou die hele reis deur. Daarvoor loof en prys ek Hom met my hele wese.”

 

 

Get it Middelburg/Witbank November 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.