Fashion & beauty

Vené se skoonheid kom uit haar hart

Vené se skoonheid kom uit haar hart

Hulle sê altyd dat skoonheid vergaan, maar dat deug bly staan. Nou wat kry jy, liewe vriende, as die mooiheid van jou hart net so mooi is as die skoonheid van jou glimlag? Die antwoord hierop is eenvoudig: jy kry vir Vené van Rooyen.

Dié matrikulant aan HTS Middelburg is ’n model met ’n passie vir die platteland en vir wie sy is.
“My grootste droom as model is om eendag op die internasionale verhoog te verskyn as ’n passievolle, plattelandse Suid-Afrikaanse meisie wat nooit ophou droom het nie. Terselfdertyd wil ek vir almal wys dat ons land se meisies vir ander kan wys presies waar Dawid die wortels begrawe het. Ek wil ’n verskil maak in mense se lewens.

Die pad na haar lewensdroom blyk seepglad te loop en sy het verlede jaar die Miss Teen Nkangala-kroon gedra, terwyl sy vanjaar die Queen de Provincia-titel het.

“Min mense weet dit, maar ek is eintlik al vir my hele lewe ’n model. Ek het weliswaar op sesjarige ouderdom besluit om ’n breek te neem, maar het op 16 weer die hakke en krone van ’n professionele model begin dra. Tans is ek ’n Trained by An3s-model.

Uit die aard van haar passie, moet sy baie voor die kamera verskyn. Is sy dan nie op haar senuwees wanneer die ligte flits nie?

“Ja, ek is baie senuweeagtig,” vertel sy laggend.

“Dit is nie altyd maklik nie en dit voel soms of jy in ’n strik gaan trap, maar jy moet net kalm bly en die bul by die horings pak!”

Volgens Vené is dryfkrag die belang-rikste eienskap waaroor ’n model moet beskik – jy moet die wil hê om harder as ander te werk. “Jy moet dinge wat jy wil hê, maak gebeur en jy moet ’n passie hê vir dit wat jy doen. Laastens is selfvertroue en geduld ook van kardinale belang om seker te maak dat dit wat jy wil doen, ten volle realiseer.”

As model is fiksheid ook van reuse belang en Vené is tans ’n lid van dr. Retha Calitz se U-Gym in Middelburg. “Ek besoek die gimnasium wanneer ek tyd het en neem dikwels aan nagwedlope deel. Dan glo baie min mense dié, maar modelwerk hou jou fiks – al lyk dit nie altyd na baie harde werk nie!”

Sy sluit die onderhoud met ’n glimlag en iets oor haar gunsteling TV-program – The Blind Side – af.

“Hierdie storie leer jou dat elke persoon ’n held of heldin in hom- of haarself opgesluit het. Jy moet net toelaat dat die wêreld die held binne jou sien.”

En almal sien die heldin wat binne Vené opgesluit is.

 

 

Get it Middelburg – October 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.