Décor & Gardening

Van ’n boom kan jy hom min vertel

Van ’n boom kan jy hom min vertel

Watter boom kan jou tuin versier?  Watter boom gaan jou tuin ontsier? Francois Bekker het die antwoord.  Na 32 jaar in munisipale diens het Francois ’n totale beroepsverandering ondergaan vanaf brandkundige na die veld van boomslopings!

Vandag kan hy bekendstaan as die dorp se Boomman.

Francois was vroeër jare adjunk brandweerhoof op Uitenhage, later die hoof van die nood-dienste op Middelburg waarna hy adjunkbestuurder van maatskaplike dienste was.

Hy het aanvanklik begin met ’n tuindienste, maar gou besef dat daar ’n aanvraag is vir boomsnoei- en sloping.

Hy vertel dat die ondervinding wat hy opgedoen het gedurende sy diensjare as brandweerman hy sy kennis van toue en lere en die gebruik van kettingsae by rampe en storms, handig kon gebruik met die skuif na boomslopery.

Met die groot tornado en donderstorm gedurende 2005 en ook die storm in 2007 het hy dadelik sy plek as boomsloper gevestig toe hy bome van huise, opritte, motorhuise en selfs vanaf voertuie moes verwyder.

Die oomblik toe hy begin met boomslopery, het hy te goed besef dat dié gevaarlike besigheid sy kennis as veiligheidsbeampte op die proef sal stel. “Daarom word alle take met groot omsigtigheid beplan en uitgevoer.”

Selfs waar groot bome met hys-krane afgesaag word, is veiligheid vir hom baie belangrik en doen hy al dae vooraf beplanning voor die “groot operasie” plaasvind.

Volgens Francois is die uithaal van groot bome en stompe altyd ’n hoë risiko. “Selfs klein boompies kan erge skade of beserings veroorsaak. Daarom moet die uiterste sorg en dissipline gehandhaaf word, wanneer bome uitgehaal, gesnoei of gesny word.

Hy is baie trots op sy span wat hom die afgelope tien jaar ondersteun. Hierdie span word gelei deur Erick Chauke en ondersteun deur raakvatters soos Johannes Tshehla en Joseph Mahudu.

Francois sê alhoewel hy nie gestudeer het in die landbou- of bosbou rigting nie, het hy sy kennis van plante en bome opgedoen by kliënte, ander boomslopers en tuinmakers.

Hy het in detail inligting gegee oor watter indringerplante en -bome (ka-tegorie een) nie geplant mag word nie.

Daar is byvoorbeeld die Luisboom, Kanferboom en die Maanblom waarvoor jy ’n boete van tot R10 000 of twee jaar gevangenisstraf (of beide) opgelê kan word as jy gevang word dat jy dit plant of invoer.

Indringerplante wat gekontroleer moet word (kategorie twee) en wat nie naby vloedlyne of natuurlike waterkanale mag kom nie, is byvoorbeeld die Rooikrans, Groen- en Swartwattel.

Daar is ook indringers wat in stand gehou kan word (kategorie drie), tensy hulle binne 30 meter vanaf die vloedlyn of ’n rivier is. Hierdie plante mag egter nie geplant, verkoop of ingevoer word nie. Dit sluit onder andere in: Hemel-, Lukwart-, Jakaranda en Tipoeboom en selfs die boomtamatie.

Francois sê volgens wet mag bome en plante in hierdie kategorieë gekontroleer word deur biologiese kontrole, behandeling van onkruiddoders, slopling en afbranding.

Bome wat aggressiewe wortelstelsels het is: Witstinkhout-, Akker-, Kampher-, Moerbei- en Peperbome.

Van hierdie bome is vinnige groeiers en met gunstige tuinomstandighede (baie water en kunsmis) groei die boom soms vinniger as wat die wortelstruktuur kan groei.

Doringbome is gewoonlik hier van toepassing en sal gedurende windstorms of swaar reën eerste omval.

Witstinkhoutbome en Vaderlands-wilge is vinnige groeiers wat groot en swaar sytakke vorm wat maklik in die mikke afskeur. Die Witkaree het dieselfde probleem en kan ook maklik ontwortel.

As jy ’n klein erf het soos in ’n meenthuiskompleks, raai Francois jou aan om baie selektief te wees as jy ’n boom aanplant. Aggressiewe groeiers groei wel vinnig, maar kan later groot en duur probleme veroorsaak.

Bome wat inheems geplant kan word, is die Olienhoutboom, wat stadig groei en nie-bladwisselend is. Met kleiner erwe word struike aanbeveel, wat maklik gesnoei kan word.

’n Inheemse boom met penwortelstelsel wat hy en Ninfa Kwekery-eienaar, Nico Taute, aanbeveel, is die Podocarpus (Geelhoutfamilie), wat ook die 2018 boom van die jaar is.

Die Geelhout het ’n regop groeiwyse wat geskik is waar privaatheid verlang word.

Die Olea (Olienhout) het ’n sambreelvorm en maak klein vruggies wat voëls na die tuin sal lok. Beide bome is bladhoudend.

Klein erwe kan groot struike oorweeg, wat as klein skadubome gevorm kan word.

Hier kan die Bottelborsel, Heuningklokkies, “Trots van Indië” en selfs Berkebome aanbeveel word. Selfs ’n vrugteboom soos ’n suurlemoen kan as skaduboom gebruik word met die bonus van vrugte.

Vir groot tuine is daar groot skadubome soos die Karob wat aanbeveel kan word. Dit is immergroen, het donkergroen blare en het ’n penwortelstelsel. Die boom kan, soos die Olienhout, mooi gesnoei word.

Die Wilde Olyf het soortgelyke groei as die Olienhout, maar het mooi roomwit blomme.

Mense wat meer inligting verlang, of Francois en sy span wil kry om ’n boom te snoei of te sloop, kan hom bel by 072 998 8331.

  • Francois wil graag die volgende bronne erkenning gee vir inligting wat hy beskikbaar gestel het: Nico Taute (Ninfa Tuinsentrum), “Alien Weeds and Invasive Plants – a Complete Guide to Declared Weeds and Invaders in South Afriva – Lesley Henderson”, “Control of Unwanted Plants – Xact Information”, “Trees of Southern Africa – Braam, Piet en Ben-Erik van Wyk”.

 

 

Get it Middelburg/Witbank November 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.