Entertainment

Pastoriedogter se eerste  gospel CD

Pastoriedogter se eerste  gospel CD

 

’n Pastoriedogter het pas haar eerste gospel CD uitgebring met die naam ‘Loop’, omdat “’n mens moet kan glo dat jy op water kan loop.”Nolene Aucamp (27) het geen bekendstelling nodig nie, want sy het die afglope tyd al by talle funksies opgetree.

Sy is die dogter van die bekende past. Freddie van der Merwe, waar sy ook al lank die voorsang in hul kerk hanteer.

Maar hoekom ’n gospel CD?

Nolene vertel dat sy van kleintyd af sing, maar was nie seker of dit sekulêr of gospel moes wees nie.

In haar matriekjaar het sy ’n vertoning van Leon Goosen bygewoon, wat vir haar duidelik gesê het dat die Here sê dat sy beslis nie sekulêr nie, maar gospel moet sing.

“Gospel is dus my roeping, my passie. Ek moet die Wood uitdra na buite. Ek doen waarvoor die Here my geroep het. Die talent wat ek by Hom gekry het, gebruik ek vir Hom.”

Haar CD glo sy, het ook van Bo af op haar pad gekom.

Christo Stemmet het haar gehelp om ’n musiekvideo te maak van Kruiskyk.

Bekende sanger, Willie Botha, wat al by geleentheid by hul kerk opgetree het, het die opname te siene gekry en hulle dadelik gekontak.

Hy het soveel in Nolene geglo, dat hy gesê het dat sy teen ’n verlaagde prys by Crystal Music Productions haar eerste CD kan kom opneem.

Alhoewel dit heelwat goedkoper was, was dit steeds vir haar en haar man, Barend, ’n uitdaging om die fondse bymekaar te kry.

“Die Here was ons genadig. Die geld het net ingekom.”

Hierna het alles baie vinnig gebeur. In April het hulle die opnames gedoen en op 3 Junie was die CD’s hier.

“Loop” is ’n getuienis van haar vaste geloof dat “enigiets moontlik is as jy in God glo. Loop op water, gaan uit, loop en verkondig God se Woord! Staan op uit jou comfort zone en loop.”

Daar is 12 bekende Afrikaanse en Engelse gospelliedjies op die CD, waaronder haar eie weergawe van die “Oorwinningslied”, “Hy wat in my is” en “Jy is en bly My kind.”

Die foto van Nolene op die buiteblad van die CD, noem sy “’n familiepoging.”

Haar sussie, Laetitia van der Merwe, het die foto’s geneem, haar sussies het haar hare gedoen en haar ma se vriendin het haar grimering vir die foto gedoen.

Nolene sê sy luister nie graag na haar eie CD nie, maar as haar dogtertjie, Bea, moeilik is, en hulle sit die CD op, is sy dadelik rustig. Andersins sing sy sommer self vir haar ’n liedjie.

Nolene is beskikbaar vir optredes en haar CD’s sal daar beskikbaar wees.

Mense kan haar ook gaan volg op haar Facebookblad, “Nolene Aucamp” of CD’s, teen R100 per CD, bestel by 082 780 8988 of 084 281 2737.

 

 

Get it Middelburg – October 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.