Décor & Gardening

’n Nuwe uitkyk op ontwerp

’n Nuwe uitkyk op ontwerp

Corien se gunsteling ontwerp is multi-funksionele meubels

’n Oud-leerling van Hoërskool Middelburg is besig om naam te maak as mede-ontwerper van unieke meubels.
Corien Botha het vroeër hierdie jaar begin werk by Luvarre, ’n meubelontwerp besigheid wat verlede jaar gestig is.

Corien is die dogter van bekende Middelburgers Christo en Magriet Botha.

Sy het haar laerskoolloopbaan aan Laerskool Kanonkop voltooi en was daarna in graad agt en nege in HTS Middelburg. Vanaf graad 10-12 was sy ’n leerling aan Hoërskool Middelburg.

Sy doen haar voorgraadse studies by die Tshwane Universiteit (TUT), waar sy haar diploma (2015) en BTech (2016) in Binnenshuise Ontwerp (Interior Design) gekry het.

Corien het direk na Btech haar nagraadse studies begin by die Universiteit van Pretoria, waar sy haar honneurs (2017) in Binne-Argitektuur behaal het.

Vandat sy kon onthou is sy dol om te ontwerp, nuwe dinge uit te toets en om dit te maak. “Dit is tot vandag toe steeds so en dit is juis hoekom ek binnenshuise ontwerp gaan studeer het.”

Haar grootste passie in ontwerp is verseker interieure artikels soos meubels en al die aspekte rondom dit.

“My gunsteling deel van die ontwerpproses is as ek met my hande kan werk. Die proses van ontwerp fassineer my ook elke keer. Om terug te kyk na waar mens begin het met ’n idee en waar mens geeïndig het, is altyd ’n verrassing.”

Sy sê die meeste van die tyd is die beginpunt en die eindresultate totaal verskillend. “Maar daardie eerste gedagte is altyd nodig om die nuwe ontwerp vlam te gee.”

Omdat ontwerp so ’n groot rol in haar lewe speel, sê Corien dat sy verseker nooit verveeld sal wees nie, want daar is altyd iets nuuts om te ontwerp of iets om te verbeter.

“Ek glo daarin dat ontwerp nie net as ’n instrument gebruik moet word om iets mooi’s te skep nie, maar om die lewe van ander te probeer verbeter, verander en te vergemaklik.”

“Dit is vir my persoonlik elke keer uitdagend as ek iets multi-funksioneels probeer ontwerp. Om te probeer dink hoe ek ’n tafel, stoel, lessenaar of spieëlkas nog ’n funksie kan gee, sonder om weg te vat van die oorspronklike funksie van die produk, is ’n baie groot uitdaging.”

Sy verduidelik dat dit dan ook moeiliker is om materiale te kies, omdat die materiaal nou meer as een funksie moet akkommodeer.

Dit is juis daarom dat sy so opgewonde en toegewyd om vir dié nuwe besigheid te werk en vertel meer van wat hulle doen.

.

Luvarre se meubels word alles gemaak van beton, staal, hout en leer. “Ons uitkyk op meubels is dat dit funksioneel, maar ook ’n kunswerk moet wees. Ons glo dat ’n meubelstuk geen agter- of onderkant moet hê nie, jy moet die meubel in die middel van die vertrek kan sit, omdat alle kante van die meubelstuk afgerond is. Ons fokus ook baie op detail en die fyner afwerking van elke stuk.”

Hulle was vanaf 8-12 Augustus een van die uitstallers by die “100% Design” uitstalling wat saam met Decorex in Midrand by die Gallagher Convention Centre gehou is. Dié uitstalling is elke jaar ’n uitdagende hoogtepunt vir alle ontwerpers.

Corien sê haar toekomsdrome behels om eendag haar eie besigheid te hê wat spesialiseer in multifunkionele binnenshuise ontwerp wat gekombineer word met die ontwerp van multifunksionele meubels.

“Ek glo dat dit die perfekte kombinasie is, want dit gee my die geleentheid vir soveel meer kreatiwiteit.”

Nog ’n droom is om haar meestergraad te behaal.

“Ek glo ook met mense wat meer en meer begin soek na ’n unieke ervaring by restuarante en hotelle dat binnenshuise ontwerp nog belangriker gaan word. Ek is baie opgewonde en passievol oor my beroep, dis ’n wêreld van sy eie en ontwerp is die toekoms!”

 

Get it Middelburg – October 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.