Latest News

Stephanie Botes se “Vloedhawe”

Stephanie Botes se “Vloedhawe”

Stephanie Botes het pas haar debuutroman, ‘Vloedhawe’ in ons omgewing, tydens ’n geselligheid by Olifants River Lodge, bekendgestel.

Hierdie is ’n boek vol intriges en lewenswaarhede wanneer ’n boorling van die Groot Karoo verlief raak en trou met ’n Italianer.

In haar nuwe omgewing, die klein dorpie San Miniato, draai haar omstandighede haar lelik vas. Dit noop haar om God te soek. Tussen die beelde se blink gevatte hande en voete, midde bende geweld, liefdeloosheid en angs vind sy Hom wel.

Uiteindelik vlug sy terug na haar geboortegrond, net om uit te vind dat die vrou wat haar in Italië in die steek gelaat het, intussen haar skoonsuster geword het.

Vloedhawe speel deels af in Italië, deels in die groot Karoo. Omdat Stephanie self hierdie plekke besoek het, kon sy met gesag oor die plekke skryf.

So het sy haarself dan in die hartjie van die Tankwa Karoo bevind, met vier pap wiele en geen selfoonopvangs nie.
Die Groot Karoo se hardheid, eensaamheid, maar ook vriendelike mense, het sy dus aan haar eie lyf beleef. Hierdie eie ervaringe is dan ook in die hoofstukke ingeweef.

Maar waarom die naam, “Vloedhawe”? ’n Vloedhawe se rus kan net binne gevaar word midde ’n vloed of ’n storm. Die titel opsigself vertel dus dat daar soms lewensstorme nodig is om ons na vele omswerwinge, uiteindelik na vrede te lei

“Verder handel die boek oor teleur-stellings, vergifnis, die huwelik, oor vasbyt, nie moed opgee nie. Moeilike lewenservaringe en hoe om dit te hanteer,” beskryf sy kortliks die inhoud van die boek.

Die boek is geproeflees deur taalkenner en Middelburger, Louise Nel, wat die boek beskryf as “’n boek vol wysheid, diepte en geloof, wat oopgebreek word.

“……..Ook ’n weerspieëling van die skrywer se verhouding met ons Hemelse Vader en kennis van Sy Woord.”

Stephanie het opgewonde vertel dat daar binnekort ’n oudioboek beskikbaar gaan wees wat in Worcester opgeneem gaan word. Sy gaan self die voorlesing vir die oudioboek doen.

’n Moontlikheid van selfs ’n Braille-uitgawe van Vloedhawe, vir blindes en swaksiendes, is moontlik in die pyplyn .
Al is Vloedhawe haar eerste roman, is Stephanie ’n gesoute skrywer en kunstenaar, asook `n bekende radio omroeper.

Stephanie se skryftalent het sy reeds in haar kinderjare ontdek. Sy onthou hoe sy inderhaas, in standerd vyf, ’n konsert by ’n landsdienskamp moes skryf en hoe hulle groep toe wel, met die stukkie skryf-werk, die talentkompetisie gewen het.

Deur die jare het sy talle skoolkonserte geskryf en onthou sy hoe die mense van baie ver gekom het om na die skoolkonserte en Passiespel, wat sy geskryf het tydens haar verblyf in die Kalahari, te kom kyk.

“Daardie Passiespele was `n hoogtepunt. Boere, skrynwerkers, mynwerkers wat saans tydens oefening, Jesus, Petrus, Johannes en Jakobus geword het. Dis wonderlike herinneringe.”

In Middelburg self het sy verskeie produksies vir hulle kerk geskryf, asook ’n Passiespele wat by die NG Wes gemeente op die planke was.
As radio omroeper het sy haar eie programme geskryf.

Sy vertel dat sy oorspronklik vir die radio opgelei is deur Heinrich Marnitz en het selfs ’n rukkie saam met die alombekende, Tossie Lochner, uitgesaai. Dis Tossie se vertellings van haar lewe in Italië wat Stephanie se skrywersbrein aan die werk gesit het.
Talle radiodramas kom uit haar pen en het sy dan ook by RSG ’n prys gewen vir die radiodrama, “As die Poelpetaan roep”.

Stephanie dink terug aan hulle goeie jare in Middelburg, maar onthou ook die moeilike tye, soos toe sy en haar man, Dutch, vir ure deur rowers in hulle huis aangehou is.

Daar is egter ’n glimlag by die onthou,

“Ons was tydens die rooftog die hele tyd bewus van die Here se teenwoordigheid en het daar soveel wonderwerke plaasgevind dat ons beter mense daaruit gekom het.”

Na hierdie slegte gebeurtenis het sy ’n radiodrama geskryf.

“Tussen Skilla en Charibdis.” Dit was die regte terapie en het haar heeltemal van die trauma genees.

Die vervolgverhaal, “Skons en Kotteljons”, wat sy vir Radio Kragbron geskryf het, word af en toe nog op die senders van Radio Kragbron gehoor, waar Step-hanie ’n omroeper was.

“Baie van die omroepers en kantoorpersoneel, het die karakters in die verhaal vertolk. Ons het ure se pret gehad met die opname daarvan,” vertel sy laggend.

Sowat 15 jaar gelede het sy begin skilder en meeste van haar skilderye hang in familielede se huise.

Haar boek, Vloedhawe, se omslag is ook ’n produk van haar eie verfkwas. Die boot, wolke en selfs die arend hoog in die lug, is simbolies van dit wat tussen die twee buiteblaaie van die boek plaasvind.

Sy sluit die onderhoud af met:

“Ek sien nie myself as iemand met ’n boekrak vol Stephanie Botes boeke nie. Glad nie. Wel met ’n paar boeke waarna mense kan terug verwys en sê: “Hierdie boek het ’n verskil in my lewe gemaak.”

Die boek is beskikbaar by 082 499 8680 of stuur ’n e-pos na spbotes22@gmail.com. In Middelburg kan die boek bekom word by Elsie Cross by 083 236 5547.

•Buiten die bekendstelling by Olifants, was daar ook ander bekendstellings-geleenthede soos die Wildernis se Karos Hotel, (waar die skrywer tans woon) asook Fire & Ice in Pretoria.
•Stephanie is tans besig met die skryf van ’n Kinderbybel. Ons hoop om spoedig weer van dié oud Middelburger te hoor.

 

Get it Middelburg/Witbank November 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.