Fashion & beauty

Elma en Annemie  skitter soos diamante

Elma en Annemie skitter soos diamante

Elma Juweliers is al sinoniem met eMalahleni. Aan menigte inwoners se vingers, polse of om hul halse skitter ’n ontwerp wat uit die juwelierswinkel gebore is.

Ons het by ma en dogter, Elma en Annemie gaan inloer om uit te vind hoe kry hulle dit reg om so ’n gedugte span te wees.

Elma het die jaar voor haar en ds. Louis Cloete, predikant in NG Klipfontein gemeente se troue by RSA diamante, haar ouers se juweliersbesigheid in Pretoria gewerk.

Kort na hul troue het sy afgeskop met ’n baie klein voorraad juwele. Aanvanklik het sy begin as ’n verlenging van haar ouers se juweliersbesigheid. Na harde werk en ongeveer vyf jaar se uitstallings, amper dwarsoor die land, het sy Elma Juweliers geopen.
In die afgelope 22 jaar het Elma Juweliers al twee keer vergroot en die span het uitgebrei.

Annemie het haarself na haar oorbruggingsjaar bekwaam as juweliersontwerper en ses jaar gelede by die besigheid aangesluit.

Sy het sommer spoedig die besigheid se karakter kom verryk met vindingrykheid. Sy het haar groot bydrae ingedra, die 3D ontwerp van juwele, op die Rhino program op die rekenaar. Dit het nou ’n onmisbare deel van Elma Juweliers geword.

Wedersydse respek is die basis van die ma en dogter se saamwerk verhouding.
Elkeen bring haar eie persoonlikheid en talent tafel toe.

“Ons erken die sterk punte in die ander. Soveel keer sit ons bymekaar met ’n projek en beplan ons saam. Ons maak staat op mekaar se opinie en wyer visie as gevolg van ons verskillende idees oor die sake. ’n Dag by Elma Juweliers, werk soos ’n klomp ratte wat goed geolie saamwerk, om die wa deur die drif te trek,” het hulle in een stem gesê.

Elma en Annemie het hulle eie afdelings waarvoor hulle verantwoordelik is.

“Daar is ’n unieke karakter in ons besigheid en ons maak seker dat ons span altyd die karakter toets en seker maak dat ons nog karaktervas optree,” het Elma gesê.

Annemie sien haar ma as die een wat die visie van die besigheid dra. Die een wat die groot skuiwe beplan en haar hand op die groei van die besigheid hou.

“My ma is die een wat seker maak dat daar heeltyd nuwe moontlikhede ondersoek word sodat die besigheid sy eietydse karakter behou.”

Elma geniet en bewonder die volwasse insette en stylvolle idees wat Annemie indra tot verryking van die besigheid.

“Annemie se groot bydrae is haar noukeurigheid, puntenerigheid en die feit dat sy dit werklik geniet om by Elma Juweliers te werk.”

Die duo poog altyd om op die snypunt te bly van wêreld tendense. So het hulle al die ‘nuwe’ gaan invoer op oorsese skoue. Elma sê dat sy ervaar dat die besigheid se groei en potensiaal ‘n lewendige element van die besigheid is, wat altyd so ‘n opwindende sy bly.

“Ons groot vreugde is wanneer kliënte vir ons sê hoe ’n lekker atmosfeer daar in die winkel is. Dis ’n riem onder die hart as mense kom inloer en ons hulle kan bedien, met hulle behoefte om iets te maak, of te koop…. maar ook om ’n gebed te doen as jy swaarkry of as jou gemoed swaar is oor iets. Die sneesdoekies staan altyd gereed om saam met kliënte te huil of fees te vier oor iets in hulle lewens.”

Die ma en dogter span los ons met bietjie oor die nuwe modegiere.

“Die heel nuutste tendens in die juweliersmark is dat geelgoud weer grootliks sy plek gaan oopskop. Vir jare het witgoud en silwer die mark oorheers. Roosgoud het self sy buiging kom maak, maar geelgoud het aan die kort end getrek. Die ‘stapel-effek’ is ook ’n nuwe tendens. Dis waar ’n paar ringe aan een vinger gedra word of ’n paar stringe pêrels saamgedra word. Wat dit lekker maak is dat die verskillende kleure metale soos roosgoud en witgoud effektief op die manier saamgedra kan word. Jy kan in jou oorheersende witgoud juweliersversameling, nou net ’n roosgoud ringetjie of twee inbring en op die manier vars jy jou juwele mooi op en lyk alles weer nuut.

“Die ‘Gatsby’ era was gekenmerk deur lang stringe of lang kettings om die nek, baie armbande of ringe wat saamgedra word. Dis vir ons asof daardie era herleef. ’n Lang mooi nekketting met verskillende hangertjies wat daaraan gedra word, is nuut. ’n Baie mooi, duurder opsie bly die versameling diamantpantjies wat jy kan kombineer soos geel met wit en wit en roos. Jy dra hulle in kombinasie met bestaande items in jou versameling of gooi hulle almal saam op een of twee vingers en geniet die dramatiese effek daarvan.”

Annemie en Elma stem saam dat pêrels ’n nuwe lewe kry. Dit word op soveel verskillende manier gedra, met groot effek.

“Ons beveel kliënte aan om hulle eie ouer juwele in te bring, dan wys ons aan hulle hoe jy die nuwe saam met die oue kan dra.”

 

Get it Middelburg – October 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.