People

Trou is nie perdekoop nie

Trou is nie perdekoop nie

Juan en Deidré Pruis wat onlangs op die televisieprogram Sakpas Troue verskyn het vertel meer oor wat gedoen kan word om ‘n droom troue te kan hê wat binne jou begroting val

Trou, en die beplanning van die hele affêre, is ‘n opwindende tyd in jou lewe, maar troues kan ook verskriklik duur wees. Maar as jou bepanning reg is en jy jou geldsake deeglik bestuur kan ’n paartjie ’n volmaakte troue hê sonder om onnodige lenings aan te gaan.

Ons het gaan kers opsteek by Juan en Deidré Pruis wat onlangs op die televisieprogram Sakpas Troue verskyn het, om ons meer te vertel wat om te doen sodat julle ‘n droom troue kan hê wat binne julle begroting val.

Die paartjie is op 12 Augustus verlede jaar getroud en met ’n hele rits vindingryke selfdoen-idees het hulle sommer ’n hele paar rand gespaar.

“Ons het R100 000 begroot en op die einde net R75 000 spandeer,” het Juan vertel.

Juan en Deidré het vyf jaar terug by ’n vriendin se verjaarsdagpartytjie ontmoet. Na vier jaar saam het hulle gegaan vir ’n fotosessie en dis toe tussen die mooiste hoë bome in Middelburg wat Juan die groot vraag gevra het.
Toe begin die beplanning vir die groot dag.

“Ons het ‘n jaar voor die troue reeds begin spaar deur ’n ekstra spaarrekening oop te maak en elke maand geld weg te sit. Juan het baie oortyd gewerk, en ons het ons leefstyl só aangepas dat ons nie nodig het om ekstra geld te spandeer nie. Nader aan die tyd van die troue het beide my en sy ouers ons geseën deur ook vir ons geld by te dra” het Deidré vertel.

Hul keuse op ’n venue het op Casa-Lee geval.

“Ons was op soek na ‘n venue wat ‘vintage’ is maar nog steeds elegant. Casa-Lee country Lodge het presies in daardie kategorie geval. Met ons eerste afspraak by die venue het ons die wonderlik personeel ontmoet, wat ons baie welkom laat voel het. Ons is in kennis gestel dat die kostes vir ‘n winter troue baie goedkoper is, en hoe meer gaste jy het, hoe minder is die prys per kop. Dit was vir ons ‘n groot pluspunt, aangesien ons ‘n groot gastelys het wat ons moes akkommodeer. Die onthaalsaal en die kapel was groot genoeg vir al ons gaste,” het Deidré gesê.

Die venue het die bruidspaar verras met gratis verblyf as ’n geskenk.

Die paartjie het op elektroniese uitnodigings besluit wat hulle self ontwerp het. Hier het Deidré, wat ’n kunsonderwyseres by Laerskool Klipfontein is, se kunssinnigheid heeltemal oorgeneem.

“Die uitnodigings was ‘n foto van ons met al die nodige inligting. Ons het die uitnodigings per sms gestuur, meeste mense het hulle fone altyd by hulle. Sou die persoon die uitnodiging verloor, kan ons die elektroniese boodskap net weer aanstuur,” het Juan gesê.

Die enigste drukwerk wat hulle gedoen het was tafelnommers en spyskaarte.

“Die spyskaarte het ek self gedruk en die tafelnommers het ons laat druk vir ‘n baie bekostigbare prys.”

Juan en Deidré het besluit om laventel en silwer te gebruik omdat dit die ‘vintage’ tema gekomplimenteer het.

’Less is more’ was hul motto en hulle het hoofsaaklik blomme wat ook pers rose, Lucianthims, en Daisies ingesluit het as dekor gebruik. Die blomme was in ‘n ringvorm wat rondom die groot silwer kandelare op die tafels gestaan het. Bo-op die kandelaar was kerse wat ‘n romanties effek geskep het. Elke vrou het ’n enkel laventel blommetjie bo-op hulle spyskaart saam met hulle geskenkie, wat ‘n sakkie badsout was gekry. Die badsout is ook deur Deidré gemaak. Die mans het elkeen ‘n Forerro Rocher sjokolade op hulle spyskaart gekry.
Deidré wou oorspronklik ’n rok huur, en na ’n geselsie met ’n vriendin besluit om haar rok van ’n oorsese webtuiste te bestel wat die trourok volgens jou mate maak. Haar strooimeisies se rokke is by die China Mall in Johannesburg gekoop.

Juan se troupak is by Hub gekoop, hy en sy strooijonkers se dasse, strikdasse en die hofknapie se swart pak klere is ook by die China Mall gekoop.

Om nog kostes te bespaar het die paartjie op ’n platejoggie besluit eerder as ’n orkes, ’n prokureur het hul huwelikskontrak teen ’n spesiale prys gedoen. Op die tafels was nie-alkoholies vonkelwyn aangesien dit baie goedkoper is as die alkoholiese vonkelwyn. Die strooimeisies het die helfte van hul rokke betaal en die strooijonkers het hul eie uitrustings gekoop. Casa-Lee het die dekor gratis aan hulle verskaf en hulle het net vir die blomme betaal. Die vrouens se geskenkies is self gemaak en verpak. In plaas van ’n duur gasteboek het hulle grys klippies gekoop waarop elke gas ’n boodskap geskryf het. Die klippies kan na die tyd in ‘n glasbak vertoon word.
’n Vriendin wat ook ’n fotograaf is, Michelle Faber, het Deidré se grimering gedoen en die troufoto’s geneem

En dan die baie belangrike troukoek.

“Ons het met vorige troues wat ons bygewoon het al gesien hoe die koek mors waarvoor mense ten duurste betaal. Ek het bietjie gaan navorsing doen oor alternatiewe troukoeke en het op Pinterest dié oulike idee gekry om eerder doughnuts te gebruik. Die gaste kon dit eet sonder om te mors en al die verskillende geure geniet,” het Deidré gesê.

 

Get it Middelburg – October 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.