Décor & Gardening

Maak jou groot dag moeiteloos

Maak jou groot dag moeiteloos

Mense skrik as hulle hoor dat daar ‘n troubeplanner gebruik word. Die luukse is net vir rykes en beroemdes… nie vir Jan Alleman. Get It het met Leticia Rivas van Loveliness Events gaan gesels wat haar werk behels.

Baie mense skrik vir die idee van ’n troubeplanner omdat hulle dink dat die ‘luuksheid’ net vir ‘rykes en beroemdes’ beskore is. Get It het met plaaslike trou en funksie koördineerder, Leticia Rivas van Loveliness Events, gaan gesels oor wat haar werk behels en hoekom ‘Jan Alleman’ ook daarby kan baat.

Leticia het van jongs af aangebied om vriende en familie se partytjies te reël. Sy het later, vir ekstra inkomste, deeltyds partytjies begin reël, terwyl sy in die elektriese bedryf gewerk het. In 2016 het haar stokperdjie egter so gegroei, dat sy moes kies tussen die twee.
Sy het deeltyds by SA School of Weddings begin klasloop en later by plaaslike trou venues begin uithelp om haar praktiese ure te bekom. In Desember 2016 het sy Loveliness Events gestig.

Leticia stem saam dat baie mense skrikkerig is vir die idee om iemand te betaal om jou troue te beplan. Maar, sê sy, daar is dikwels gevalle waar sy eintlik haar bruide geld spaar. In plaas daarvan om ’n ekstra uitgawe te wees, kan ’n trou beplanner elke sent werd wees.
’n Troubeplanner kan jou help met enige iets, van die kleinste detail tot om net op die dag van jou troue by die kerk en onthaal seker te maak dat alles glad verloop. Een van hul belangrikste funksies is ook om te sorg dat jy binne jou begroting bly.

Leticia sê dat haar dienste van so goedkoop as R1 500 tot meer uitspattige pakette van R10 000 kan kos. Alles hang af van wat die bruid van haar verwag.

“Daar is bruide wat wil hê dat ek alles moet reël, van die trourok tot die onthaal. Hulle gee vir my ’n aanduiding waarvan hulle hou en ek kom met voorstelle en kwotasies, tot hulle gelukkig is,” vertel Leticia.

In ander gevalle word sy deur bruide gekontak wat self hul troues begin reël het, en later oorweldig word deur al die draadwerk. Leticia vat dan met liefde oor en maak seker dat alles gefinaliseer word.

Dan kan sy ook help met troues wat klaar gereël is deur net op die dag teenwoordig te wees en seker te maak alles verloop soos die bruid dit beplan het.

“Baie keer soek mense net iemand wat op die dag daar kan wees om seker te maak daar is nie probleme nie. Die belangrikste ding is dat ’n bruid die dag van haar troue moet geniet en haar nie oor onbenullighede bekommer soos of al die servette uitgepak is nie. Dit is my werk om seker te maak dat sy haar dag ten volle geniet,” verduidelik Leticia.

Buiten om krisisse uit te sorteer, kan ’n troubeplanner jou help om op ander maniere kostes te bespaar. Hulle is deel van ’n groter netwerk en weet gewoonlik uit vorige ervaring waar om goeie produkte te huur of blomme te koop teen ’n goeie prys.

Sou daar ’n krisis opduik, soos as al jou blomme op die dag van jou onthaal skielik verlep hang, sal ’n troubeplanner jou beste opsie wees om die krisis uit te sorteer, heel moontlik sonder dat jy eens daarvan bewus is.
Hulle het ook handige wenke waaraan bruide dalk nie gedink het nie.

“Sommige bruide wil trou met rooi rose in Februarie. Rooi rose kos in Februarie, as gevolg van Valentynsdag, amper dubbel soveel soos normaalweg. In ander gevalle wou bruide al blomme wat hul op Pinterest gesien het hê, sonder dat hulle besef dat daai blomme nie in Suid-Afrika voorkom nie en dus ingevoer sal moet word,” verduidelik Leticia.

Sy sê dat dit ’n fyn lyn is om almal, die bruid, en soms ook haar ma en skoonma, gelukkig te hou.

Sy het al snaakse versoeke van bruide gehad, soos dat sy asseblief die blomme moet vars hou vir die bruidspaar sodat hulle dit in hul huis kan sit, as hulle van ’n twee-wekelange wittebrood af terug kom. Of ’n ander bruid wat wou hê dat haar tafelruikers eetbaar moes wees.

“My motto is dat elke bruid verdien om soos ’n prinses of ’n rock star te voel, watter een sy ookal verkies.”

Sy sê dat as sy agterkom iets gaan bots of moontlik nie werk nie, sy subtiel ander voorstelle gee. Op die einde, bly die besluit egter by die bruid.

Volgens Leticia is ’n rok wat by die bruid se bou pas, haar hare en grime-ring, die kos en fotograaf die belangrikste elemente van ’n suksesvolle troue.

“As die bruid mooi lyk beteken dit sy is gelukkig. As daar is iemand is om dit op kamera vas te vang en die mense eet lekker, dan was die troue ’n sukses,” sê sy.

Gaan loer gerus na haar webblad lovelinessevents.co.za of op Instagram by lovelinessevents om te sien waarmee Leticia besig is.

 

Get it Middelburg – October 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.