People

Van stoflap na Tweed…

Van stoflap na Tweed…

Arnoux Maré is ’n naam wat op elke klein en medium besigheids-eienaar se lippe moet wees. Met net R500 in sy sak het hy sy eie besigheidsryk met ’n omset van R800 miljoen van die grond af opgebou. Arnoux gesels met Get It oor sy resep tot sukses.

 

Arnoux ken van besigheid. As sy besigheid, Innovative Solutions Group™ nie jaarliks sy eie vooruitskattings en teikens haal nie, hersien hy sy hele maatskappy van bo tot onder.
Hy is al aangewys as Beste Uitkontrakteringsdiensverskaffer in die Afrika Leierskap Toekennings vir 2017 tesame met die toekenning vir die Beste Uitvoerendedirekteur in Afrika tydens dieselfde prestige geleentheid.
Arnoux moes nadat hy die korporatiewe wêreld vir entrepreneurskap verlaat het, die grond van meet af al hardlopende tref. Smôrens sesuur was hy uit die vere na net drie ure se slaap ’n nag. Hy sou van besigheid tot besigheid ry om sy dienste as menslikehulpbronne en arbeidspesialis te bemark en maklik was dit nie altyd om hardkoppige besigheidseienaar wat met alle mag self al die leisels van die besigheid wil vat, te oortuig nie.
Maar met vasberadenheid het Arnoux die nee’s omgesit in ja’s in net nege maande. En vandag pluk hy die vrugte van sy arbeid.
Arnoux se resep is eenvoudig: Wees manhaftig, glo in jou idees en visie, en laat die dinge gebeur. Hy sê besigheid gaan oor hoe jy jou risiko bestuur, al beteken dit die besigheidstrukture moet verander word.
Arnoux se eerste kliënt was Yankee kitskosrestaurante met ’n skamele maandelikse diensfooi van R780 in plaas van die geraamde R60 000 salaris wat dit ’n voltydse menslikehulpbronne spesialis Yankees sou kos. Arnoux het hom so uitstekend van sy taak gekwyt, dat sy naam sommer gou uit een sakeman se mond in ’n ander sakeman se ore gefluister is. Vandag staan hy pa vir bykans 8000 voltydse werknemers wat staatmaak op sy maatskappy.
In die raadsale en arbeidshowe is Arnoux klitsgras vir sy teenstanders. Oor sy sukses hiér draai hy ook nie doekies om nie: “Daar is twee goed wat jy moet bewys in enige arbeidsdispuut en dit is of die regte prosedures gevolg is en of die sanksies wat geneem word regverdig is vir elke spesifieke oortreding in die werkplek”.
Arnoux glo dat klein en medium besighede moet fokus op diens en die arbeidsake vir spesialiste moet los. Derhalwe het hy Innovative Staffing Solutions sowat sewe jaar gelede op die been gebring, wat bestuursgebrekke in besighede aanspreek. Namate dié filiaal gegroei het, het hy besluit om die oudit van die firma uit te kontrakteer aan ’n klein onafhanklike ouditeursfirma, wat Arnoux later by sy besigheid ingekoop het om Innovative Accounting Solutions op die been te bring.
Met sy fokus op die inkorporasie van bestaande besighede was dit nie lank voor Arnoux die volgende stap geneem en ’n klein BEE konsultasiemaatskappy by sy portefeulje te voeg en Innovative BBE Solutions is gebore. Vandag spog hy met altesaam 17 affiliale onder Innovative Solutions Group™ se sambreel.
Volgens Arnoux moet enige entrepreneur wat sukses wil bereik sy advies gratis aanbied in die begin om die ore na jou toe gedraai te kry. Hy sê emosie moet uit jou besigheid gehou word en dat beginners nooit moet dink hulle het die plafon met hul kennis van die besigheid bereik nie, “hou aan met leer,” sê hy.
Arnoux glo met alle negatiewes kom groot lesse en wat jy insit is wat jy gaan uitkry, kyk net na hom wat van ’n eenman opset gegroei het na ’n duisende sterk raamwerk wat gestalte gee aan Innovative Solutions Group™. Noudat hy bietjie meer vrye tyd het leef hy sy voorliefde vir sportmotors uit.

 

Get it Middelburg – October 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.