People

Louis sit die lekker terug in Wiskunde

Louis sit die lekker terug in Wiskunde

In sy boek To teach – the journey of a teacher beantwoord William Ayers die vraag, watter onderwysers maak die grootste indruk?  “Die onderwyser wat jou hart geraak het, die onderwyser wat jou verstaan het of wat vir jou as persoon omgegee het, die onderwyser wie se passie vir iets, musiek, wiskunde, Latyn, vlieërs, aansteeklik was en jou gemotiveer het.”

In ’n loopbaan wat oor 53 jaar strek het Louis ’n liefde vir wiskunde in menige leerders se harte gekweek. Hy het die afgelope 12 jaar vir die graad sesse en sewes van Hoërskool Kriel wiskundeklasse gegee.
Louis het in 1957 aan die Hoërskool Gimnasium gematrikuleer. Hy wou altyd ’n onnie word en na sy studies het hy vir meer as vyf dekades ingewikkelde wiskundige somme maklik gemaak vir die jonger generasie om te verstaan.
“As jy die basiese wiskundige beginsels teoreties aanbied maak dit die vak waarvoor so baie mense bang is, die maklikste onder die son,” het hy laggend gesê.
Nou het die onnie afgetree en deel hy kleurvolle staaltjies uit sy lewe met Get It, maar na twee ure se lekker kuier en notas maak het die joernalis besef, hierdie onderwyser moet ’n boek skryf.
Louis het by die Universiteit van Potchefstroom vir Christelike Hoër Onderwys aangemeld en daar sy graad behaal. Daarna het hy die geleentheid gehad om in Duitsland by die Universiteit van Köln verder te gaan studeer. Sy natuurlike aanleg vir tale het gehelp en hy het gou Duits aangeleer en met die taal betaal vir karate en judo lesse.
Hy het verduidelik, “’n Groep Japanese het Duitsland toe gekom om die universiteit se gimnastiekspan af te rig vir die Olimpiese Spele. Ek het vir hulle taallesse gegee en hulle het vir my karate en judo geleer.”
Behalwe vir die swartbelt in karate en judo het Louis ook al die Comrades sewe keer gedoen en het hy verskeie rekords in die 800m by die universiteit los gehardloop. As gevolg van die apartheid was vier van die rekords wat hy in Duitsland losgehardloop het egter nooit erken nie.
Terug in sonnige Suid-Afrika het hy weer sy studies voortgesit en ’n honneurs- en meestersgraad in onderwys by die Universiteit van Potchefstroom behaal.
Tussen die hardloop, karate en judo moes hy tyd inruim om sy meestersgraad te voltooi.
“Ek het die hele ding met my hand geskryf ek kon nie ’n tikster bekostig nie. As daar ’n foutjie insluip moes ek die hele bladsy oorskryf,” het hy met nostalgie onthou.
Die debat oor die verskil van gister en vandag se onnies is een waaroor daar ure lank gesels kan word.
“Onderwysers is magteloos. Hulle mag nie pakslae gee nie, ’n kind uitsonder of iemand uit die klas uitjaag nie. Hulle enigste vorm van ‘mag’ is sinnelose detensie klasse en ’n oneffektiewe puntestelsel. Toe lyfstraf weggevat is, is alle dissipline ook weggeneem,” het Louis gesê.
Noudat hy op welverdiende pensioen is gaan Louis hom meer toespits op sy skilderye.
“Terwyl ons pastoor Sondae preek teken ek wat hy sê. So het ek al ’n hele paar skilderye tydens kerk opgedis. Met die ekstra tyd op hande gaan ek myself beslis meer toespits op my kuns. Maar, ek moet eers die tuin ’n bietjie regruk en klein dingetjies om die huis doen voor ek weer aan die kwasse kan raak.”
Louis en Susan is al 30 jaar lank getroud. Sodra al die klein dingetjies in en om die huis reggeruk is beplan hulle om bietjie by die kinders te gaan inloer.
“Een dag met ’n groot onderwyser is beter as ’n duisend dae van ywerige studie,” lui die Japanese slagspreuk.
As daar nou een onderwyser is wat met die slagspreuk vereenselwig kan word is dit Meneer Viljoen wat Wiskunde ’n lekker-onthou-vak gemaak het.

 

Get it Middelburg – October 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.