People

Suretha Middelburg se goue heldin

Suretha Middelburg se goue heldin

’n Vegtersbeurt met ’n reuse glimlag. Dít is hoe mens Suretha Campher se lewe kan beskryf. Want die 30-jarige Middelburger se lewensverhaal sluit hoofstukke van deursettingsvermoë, wilskrag en ja – emmersvol talent – in.

In 2010 het sy geweldige hoofpyne ontwikkel en weens ’n besonderse hoë bloeddruktelling (op ’n stadium was dit 240/130) het sy haar visie begin verloor. ’n Besoek aan die dokter het haar kwaaiste vrese bevestig: sy het geen nierfunksie oor nie.
Sy is in September van dié jaar met algehele nierversaking gediagnoseer en in Desember moes sy met dialise begin. Dít en die medikasie het egter nie gehelp nie en daar is aan Suretha en haar gesin meegedeel dat gebed die enigste uitweg is.
Maar wonderwerke gebeur steeds en op 19 Januarie 2011 het haar ma (“wat ’n ystervrou!”) een van haar niere geskenk. Die operasie was ’n sukses en kort voor lank het sy haar buiging by die Wêreld Oorplantingspele gemaak.
“Op skool in Senekal (in die Vry-staat) het ek atletiek gedoen en ek was juis na die Noordwes Universiteit vir hokkie. Maar na die nieroorplanting is impaksport taboe en die dokter het my van die Oorplantingspele vertel.”
In 2013 het sy haar buiging by dié kampioenskap gemaak en sommer gou die medaljes laat inrol.
Tydens verlede jaar se Spele in Malaga het sy die podium haar eie gemaak deur met vier medaljes van dié Spaanse stad weg te stap. Sy het goud in die verspring, silwer in die 100 m en 200 m en brons in die aflos verower.
Met vier medaljes is dit seker moeilik om jou gunsteling-item te kies, tog is haar antwoord vinnig: die aflos.
“Die geleentheid om iets saam met ander vrouens te bereik wat dieselfde as jy deurgemaak het, het die oomblik net soveel meer spesiaal gemaak.”
“Ek wil kompeteer vir so lank as wat ek kan! Daar is ’n ou oom van 90 jaar wat aan die 1 500 m deelneem en hy is werklik ’n inspirasie vir my. Elke atleet moet egter eers ’n strawwe mediese toets slaag voor hy toegelaat word om deel te neem.”
Omdat haar werk (sy is ’n juffrou by Hoërskool Kanonkop) en die gejaagdheid van die lewe (sy is onlangs getroud!) met haar oefening inmeng, probeer sy eerder om algeheel sterk en fiks te wees, as wat sy in een item spesialiseer.
My storie het my geleer dat mens nie jouself oor nietighede hoef te bekommer nie. Ek het baie gou geleer om te onderskei tussen dinge wat ewigheidswaarde tot jou lewe toevoeg en dit wat geen waarde het nie.”
Suretha is ’n inspirasie vir baie en ’n voorbeeld vir soveel meer. Sy is werklik Middelburg se goue meisie.
• Haar prestasies by die 2017 Wêreld-oorplantingspele:
Verspring: goud
100 m: silwer (in ’n tyd van 14.2 sekondes)
200 m: silwer
Aflos: brons.

 

Get it Middelburg – October 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.