Fashion & beauty

Modelmooi Grethe argitek van haar eie toekoms

Modelmooi Grethe argitek van haar eie toekoms

Sy is ’n argitektuurstudent, ’n model, ’n entrepreneur, ’n dromer – maar met ’n gesonde respek vir die harde werklikheid – ’n digter en vele meer.  Nee, ons praat nie hier van ’n internasionale superster nie (of, altans, nog nie), maar van Middelburg se eie Grethe Maritz.

Dié oud-leerling van HTS Middelburg word deesdae deur modelagentskappe soos Boss Models en Contact Model Management verteenwoordig, en sy is te siene in alles van modeparades tot televisieadvertensies.
Tog is daar baie wat onder ’n wanpersepsie verkeer van wat die modelwêreld presies behels, terwyl flieks soos Zoolander van die stigmavure juis meer helder laat opvlam.
“Solank as wat mens by ’n goeie agentskap is, is alles baie professioneel en georganiseerd – alhoewel dit beslis ’n baie onvoorspelbare bedryf is. Ek geniet dit verskriklik om saam met so baie kreatiewe mense (van fotograwe tot grimeerkunstenaars en regisseurs) te werk en te sien hoe alles saamgestel word. Dit is definitief ’n vername kunsvorm.”
So van kuns gepraat, modelwerk behels baie meer as net ’n mooi meisie wat vir ’n kamera glimlag.
“Dit gaan eerder oor interessante hoeke en kunstige fotografie,” vertel sy.
“’n Mens moet dus baie gemaklik en natuurlik voor die kamera wees en verstaan hoe om ’n sekere gevoel of idee met lyftaal en gesigsuitdrukkings oor te dra. Aan die begin is mens maar effens onseker, maar die foendies gee goeie raad en jy verbeter só met elke fotosessie.”
Moes sy al hoërgraad dinge vir die perfekte foto doen?
“Ek het ’n fotosessie saam met Leani du Plessis in ’n dam gedoen en die water was ongelóóflik koud. Ek moes diep inloop en probeer om glad nie ongemaklik te lyk nie. Selfs al het ek daarna vir ’n uur onder ’n warm stort gestaan, kon ek steeds nie my tone voel nie!”
Buiten haar modelwerk is sy ’n voltydse argitektuurstudent aan die Universiteit van Pretoria – sy was immers die Rooies se Dux-leerling, onthou. Dit is egter nie ál hooi wat dié mooi 20-jarige op haar vurk het nie.
Sy het onder andere as ’n kelnerin in Brooklyn gewerk, terwyl sy vir hoërskoolleerlinge (graad 10-12) in Wiskunde en Wetenskap tutor. Met die geld wat sy hieruit gemaak het, het sy haar eie leerprodukbesigheid begin.
Kyk gerus na die @coolbananasbrand op Instagram en Facebook – dit dra beslis die Maritz-goedkeuringstempel weg.
“Ek doen die ontwerpe self, kies al die materiale en doen – vir alle praktiese doeleindes – alles, behalwe die fisiese maak van die produkte.”
Vir ’n jong meisie het sy ’n besonders volwasse uitkyk op die lewe. En dié volwassenheid is nêrens meer duidelik as wanneer sy oor haar toekoms praat nie.
“Ek dink altyd dit is gevaarlik om ’n vaste idée te hê van waarheen jy op pad is. Ek sê dit want situasies, geleenthede en die wêreld verander aanhoudend en dit is dan noodsaaklik om voortdurend ’n mens se doelwitte en uitkyk daarvolgens aan te pas.”
Sy het drome van ’n sterk en selfstandige besigheid, ’n gepubliseerde digbundel en ’n pelgrimstog (as jy wil) deur Frankryk.
“Ek maak einde 2018 klaar met my graad, waarna ek eers ’n breuk wil neem om oor my pad vorentoe te besin.”
Sy wil onder andere die Camino de Santiago stap en ’n program volg waar sy meer vertroud raak met die Franse kos, taal en kultuur.
“Ná die pelgrimstog sal ek vir die res van die jaar in Frankryk wil werk – hetsy dit modelwerk, argitektuur, of iets anders is. Die heel belangrikste vir my is om nie weg te smelt tussen die hordes wat almal die generiese idée van sukses jaag nie, maar om anders, individualisties en ’n aanwins vir die wêreld te wees.”
Het sy enige raad vir meisies wat graag hul kleim buite Middelburg wil afsteek?
Natuurlik – basies moet jy net nie vasgevang word in die groot-vis-in-klein-dam-sindroom nie.
“As jy wil uitstyg en dit wil ‘maak’, gaan niemand jou help of vir jou jammer wees nie. Step up, kry ’n dik vel en maak nie saak hoe jy voel nie, get up, dress up and show up!”
Grethe se pad na sukses is soveel meer as net ’n skets op ’n blad. Dit is ’n fynbeplande plan van aksie wat oorgenoeg talent, harde werk, intelligensie en ja, baie meer as net ’n tikkie skoonheid, insluit.
Kyk maar goed na haar foto’s en onthou gerus haar naam. Jy gaan nog baie van haar hoor.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.