Food & Wine

Chuckwagon se geure terug!

Chuckwagon se geure terug!

Al die ouer inwoners van Middelburg en eMalahleni sal die gewilde Chuckwagon restaurant onthou en dan natuurlik daardie Chuckwagon steaks!  Nou kan jy in die gerief van jou eie huis ’n Chuckwagon biefstuk geniet met Danie en Marina Esterhuizen se unieke bedruipsous.

Middelburgers sal verheug wees om te hoor dat die Chuckwagon bedruipsous reeds by Frank’s Meat, Farm Inn en OK Grocer Meyerstraat beskikbaar is. Tydens ’n besoek aan Middelburg het die paartjie gesê dat hulle nog besig is in dié omgewing om oral by slaghuise hul bedruipsous beskikbaar te maak sodat almal dit in die hande kan kry.
Hierdie bedruipsous is uniek in die sin dat die resep vir lank nagevors en “geproe” is voordat Chuckwagon destyds oopgemaak het. Daar is 16 bestanddele in, maar géén water nie.
Danie sê die oliebasis in enige bedruipsous sorg dat dit die vleissappe in die vleis in seël as hy gebraai word.
Daar is ’n groot verskil tussen marinade en hierdie bedruipsous.
Dit is ’n konsentraat en jy kan nie jou vleis in hom laat lê nie. Jy smeer hom op as jy hom op die vuur sit, dan halfpad nog een keer en as jy hom afhaal nog eenkeer. Die sous kan op enige vleis gebruik word.
Vir dié wat nie weet nie. Danie en Marina Esterhuizen met hul Chuckwagen restaurant en later die bykomende bloutreinrestaurant was so eie aan Middelburg soos kol Saunders en sy KFC hoender.
Die twee se staaltjies sal vele met ’n glimlag laat terugdink aan die “goeie ou dae”.
Chuckwagon het in 1984 sy deure geopen en binne ’n kort tydjie het die restaurant te klein geraak om almal te akkommodeer.
Vroeg in 1987 het hulle gehoor dat die Zambesi bloutrein se eetwa op ’n veiling te koop gaan wees. Die plaaslike munisipaliteit is genader vir toestemming en op 20 Augustus 1987 het hulle gaan bie op die eetwa op die Johannesburg stasie.
Rowan Vos (Rovos Rails), wat die treinkombuis gekoop het, het nog vir hulle die eetwa tot op eMalahleni getrek.
Op 7 September daardie jaar is die trein, saam met ’n heerlike ontbyt, getrek tot by Middelburg op ’n sylyn en het die harde werk begin om die trein te restoureer.
Alles wat in die eetwa moes wees, is gerestoureer na sy oorspronklike, tot by die oorspronklike silwerware, wat hulle by die Spoogwegmuseum gekoop het. Selfs die lugversorger en die bypassende musiek (met die trein se klikke-klak geluide).
Marina se verjaardag is op ’n hoë noot “gevier” met die amptelike inwyding van die trein, waar die redakteur van die Middelburg Observer, Tobie van den Bergh, in ’n stasiemeester mondering die seremoniemeester was!
Die dorp het tot stilstand gekom toe die trein, met die hulp van Middelburg en Optimum Myne se vragbakvoertuig en hyskrane van die stasie tot by die OK Basaar sentrum geneem is. Almal het al die pad van daar af tot by die sentrum agter die petalje aangestap.
Die Esterhuizens het tot 1990 die restaurant op Middelburg bedryf, waarna hulle een op eMalahleni oopgemaak het. In 1992 het hulle beide restaurante verkoop en ’n sousfabriek in Middelburg begin waar die Chuckwagon restaurante hul souse gekoop het.
In 1994 het hulle Chuckwagon op Kempton Park geopen en hierdie restaurant bedryf tot 2012 toe hulle op daardie stadium gedink het aan aftree.
Hulle kon egter nie stilsit nie en het Marina vir drie jaar ’n gastehuis bedryf. ’n Paar maande gelede het hulle op aandrang van hul kliënte besluit om die unieke Chuckwagon bedruipsous te bottel.
As Danie en Marina hulle terugdink aan hul jare in die restaurantbedryf, is dit nie die 18 ure per dag werk wat hulle onthou nie, maar die herinneringe wat elke persoon wat by hul restaurant kom eet het, vir hulle agtergelaat het.
• Daar was die keer wat die Engelsman met die oulike meisie met die groot buuste kom eet het. Die murgbene was baie ryk en het die man besef dat hy nie nog die “Surf en Turf” sal kan baasraak nie.
Hy wou die hoofgeregbestelling kanselleer, maar dit was reeds gemaak en hy het dit maar laat kom.
Ook dié gereg is baie ryk en na ’n paar happe het hy sy bord teruggestoot en gevra Danie moet dit maar wegvat.
Danie het beleefd gevra of hy dit vir hulle in ’n “doggy bag” kan sit, waarop die man verergd gevra gesê het: “do you want my dog to die?”
• Die aand toe ’n paar gesiene manne van die gholfklub by Chuckwagon kom kuier het, is daar musiek gemaak en gedans. Een het selfs hard saam met die musiek teen die baksteenmuurtjie saam geklap.
Met een so ’n harde klap het hy die boonste baksteen sommer heeltemal uit die muur geklap dat hy met sement en al op die grond geval het.
Danie het vir hom gesê dit sal reg gemaak moet word voor die volgende gaste die volgende oggend 09:00 begin aankom.
“Ek was nog half deur die slaap toe ek om 07:30 die volgende oggend oopsluit toe drie manne in deftige pakke klere opdaag met ’n kruiwa, bakstene en aangemaakte sement. 08:00 toe is die muurtjie reg, stof hulle hul baadjies af en sê: ‘goed nou kan ons werk toe gaan.”
• Hulle onthou ook laggend die vrou, geklee in haar nagklere en pantoffels, wat een aand deur die Chuckwagon se venster geloer het. Kort daarna het sy haar man, wat gekoer het met sy skelmpie in die hoekie, uit die restaurant kom pluk.
So vertel hulle verhaal op verhaal en onthou selfs dat hulle ’n ton “spare ribs” per maand in Middelburg verkoop het!
• Hulle is baie nederig oor die jare wat hulle aan die stuur van die Chuckwagon was, hier op die Hoëveld en later in Kempton Park.
Daar moet egter genoem word dat die restaurant wat hulle vir meer as 18 jaar in Kempton Park bedryf het, verskeie toekennings gewen het. Hulle was twee keer naaswenners as Steakhouse van die jaar in Suid-Afrika en is agt keer aangewys as beste “Steakhouse” in Gauteng.
Hulle kyk met dankbare harte terug op die jare wat verby is. “Dit was ’n voorreg om elkeen van julle te ken en te bedien en ons dank ons Skepper wat ons die krag gegee het om dit te doen.”
• Persone en besighede wat met hulle kontak wil maak om van die bedruipsous in hande te kry vir die rakke, kan hulle bel by 082 954 8111 (Danie) of 083 592 9251 (Marina) of stuur ’n e-pos na wagon@mweb.co.za.
Hulle is ook op Facebook by “Chuckwagon Basting Sauce”.
• Die egpaar vra dat al hul kliënte van desjare hul Chuckwagon kuierfoto’s vir hulle moet aanstuur of deel op hul Facebookblad.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.