People

Roland se klein pophuise betower

Roland se klein pophuise betower

Roland Kleynjan se unieke houttrokke, -pophuise en VW Bussies maak dat ma’s en pa’s eerder op die mat daarmee speel as die kinders!  Hierdie is nie gewone speelgoed nie. Elke stukkie van hierdie “speelgoed” is uit hout gemaak en eenvoudig te mooi en duursaam vir kinders om mee te speel!
Roland het al die jare wat hy gewerk het, daarvan gedroom om eendag voltyds sy liefde om te skep uit hout te kan beoefen.
Nadat hy afgelê is by die werk, het hy op al wat ’n stukkie hout is, sy hande gelê en artikels begin maak wat ’n mens nie kan glo dat dit gesny, afgewerk en gevorm is uit hout nie.
Hy is al vir jare ’n bekende waar dit kom by die restourasie van ou meubels en bou en herstel van houtkaste. Een van sy groot projekte kan gesien word in die kiosk van Laerskool Middelburg.
Roland kan egter nie voorbly met die maak van hout “speelgoed” nie. ’n Mens kan dit amper nie speelgoed noem nie, want die maande en detail in elke stuk werk, moet eintlik agter glas uitgestal word.
Terwyl daar net ’n paar van die artikels wat nog in die huis oor is (die ander is al almal verkoop) kry ’n mens ’n nader kykie in sy passie vir die werk wat hy doen.
Elke deel van die Interlinktrok werk. Van die deurtjies wat oopmaak na die slaapgedeelte, tot die stuurwiel, wieletjies en sleepwaens wat kan oopmaak.
Hy gebruik géén ander materiaal soos staal met hierdie projekte nie.
Van die kleinste handvatseltjie tot die grooste gedeelte, word met sorg afgewerk.
“’n Mens kan byna nie glo dat daardie groot hande sulke klein goedjies kan maak nie,” sê sy vrou, Rosa, laggend.
Hy wys trots die brandweerwa wat pa en seuns vir ure sal besig hou. Die brandleer kan sowaar verleng én draai in die rondte soos ’n regte brandweerleer.
Kyk jy nog nader is daar álles wat jy op ’n brandweerwa gaan kry, tot by die opgerolde waterpyp!
Die eerste pophuis is al afgelewer en gaan wys hy in sy werkskamer die volgende pophuis waarmee hy al ver gevorder is.
Die pophuis word in twee dele gebou dat hy heeltemal oopmaak met sy eie vertrekke en draaitrappe. As daar klaar gespeel is, skuif die pophuis weer toe en lyk van buite af soos ’n regte huis.
Met elke vertrekkie word daar gekyk na die fynste detail. Die kombuis is so te sê klaar en is daar selfs ’n koolstoof en mikrogolfoond.
Loer jy by die badkamer in, kan jy nie help om te giggel vir die oulike toilet nie. En die wasbak en bad het sowaar krane!
Beide die badkamer én kombuis het vloerteëls en die hele huis se vloere lyk soos houtvloere. Om hierdie effek te skep, het Roland die houtstokkies (spatelle) waarmee dokters jou tong platdruk om in jou keel te loer, almal eenders gesny en afgewerk vir hierdie effek.
Vroulief Rosa help so hier en daar wanneer sy die gordyntjies vir die venstertjies en die beddegoed vir die kamers moet maak.
Hierdie pophuis vertrek eersdaags na sy nuwe eienaar in Abodabe!
Op ’n ander werkstafel staan daar ’n halfgeboude karavaan en Roland sê hy gaan selfs die karavaan se ‘tent’ van hout maak.
Roland se plan was nog altyd om ’n paar artikels te maak om ’n uitstalling te hou dat mense kan sien wat hy doen, maar sodra iets klaar is, het hy weer ’n baas.
So is daar byvoorbeeld een van sy VW kombi’s reeds in die Kaap. Vir hierdie kombi het hy selfs ’n branderplank gemaak wat op die dak staan gemaak is, met die jong man vir wie dit gemaak is, se naam daarop!
’n Ander bakkie-kombi is saam met iemand na Saoedi-Arabië.
Noem dit en hy maak dit. Onlangs het ’n vriend hom gevra om vir hom ’n Ford Fiësta houtmodel te maak en dié is ook reeds afgelewer.
Boonop het elke voertuig wat hy maak sy eie registrasienommer (in hout natuurlik!).
Roland gooi nie ’n stukkie hout weg nie, want elke stuk wat afgesny word, kan dalk gebruik word vir ’n handvatseltjie of ’n pophuisdeurtjie.
Een van sy nuutste houtprojekte is houtdasse en strikdasse. Hy het sy houtdas onlangs na ’n begrafnis gedra en ’n paar mense het reeds bestel.
’n Handvol matriekseuns het ook trots hul hout strikdasse na die matriekafskeid gedra.
Sy eie kleinkinders word gereeld bederf en spog die klein-seuns met hul eie Interlink trokke.
Kleindogter Aneska Bodde (10) het ’n oulike popwiegie met eie stoel, wat aan die wiegie vas is.
Hierdie wiegie is so gemaak dat die wiegie later as boekekas gebruik kan word, waar sy op die stoel sit, met haar boeke in die kas langs haar.
Sy hande skep nie net uit hout uit nie. Hy skilder al vir jare en vele van sy skilderye hang al teen mure.
Roland is baie nederig en sê alles is net Godgegewe talente.
• Persone wat van dié ongelooflike houtartikels van naderby wil gaan bekyk of bestellings wil plaas, kan hom bel by 082 858 7257.

 

Get it Middelburg – October 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.