Latest News

Natalie dra die kroon

Natalie dra die kroon

Met haar donkerbruin hare en oë beskik Natalie van Biljon oor al die fisiese eienskappe om jou twee (óf selfs drie keer) te laat kyk wanneer jy verby haar in die straat stap. Maar dit is wanneer jy tyd saam met haar spandeer wanneer jy haar moeiste eienskap begin waardeer: haar hart.

Die 21-jarige glimlag spontaan wanneer sy oor haar rol as die nuutgekroonde Mejuffrou Middelburg begin praat. Dit is ’n glimlag wat jou regop laat sit; nie net weens die prag daarvan nie. Maar vir ’n dieper feit: haar glimlag wys dat haar hart warm vir haar naaste klop.
’n Hartklop wat ’n Mejuffrou Middelburg soos ’n handskoen – of dan ’n kroon as jy wil – pas, want met dié titel loop liefdadigheid en aandrokke hand-aan-hand.
“Ek het ’n baie sagte plek vir kinders en hul geluk en welstand is vir my baie belangrik. Dus sal ek myself onder andere op kinderliefdadigheid toespits,” sê sy een Donderdagmiddag by Middelburg Buiteklub.
“Ek wil vir hulle geleenthede reël wat hulle vir lank sal onthou…dalk ’n hanswors kry om hulle te vermaak,” laat hoor sy ingedagte.
“Maar dit sal ’n cool hanswors wees!” voeg sy vinnig en met ’n breë glimlag by.
Buiten kinders het Natalie ’n groot liefde vir diere en jy kan haar gereeld in Gholfsig se strate sien waar sy saam met haar jong Amerikaanse pitbull-terriër, Marilyn, stap.
Sy sal dus ook haar jaar as Mejuffrou Middelburg gebruik om diere se lewens op te vrolik.
Die donkerkop-skoonheid is van Portugese herkoms en sy het ’n unieke storie om te vertel.
“My pa wou altyd ’n babadogter met krulhare gehad het en só het my ma daarvoor gebid. Ek is op Kersdag gebore en my ouers het my Natalie genoem – wat toevallig Portugeus vir Kersfees is!” sê sy terwyl ingedagte aan haar krulhare vat.
Sy het modeldrome en is baie gemaklik voor die kameralens.
“Ek wil ’n Vogue-model word, maar ek is hopeloos te kort daarvoor!” laat sy laggend hoor.
Tydens die keuringproses vir Mejuffrou Middelburg het sy onder andere die pryse ontvang vir die bes geklede en mees fotogeniese deelnemer. O ja, dan het sy ook die beste op die loopplank gedoen – ’n stapsessie wat sy met natuurlike talent aangepak het.
“Jy moet maar net oogkontak maak en die heeltyd glimlag – al begin jou mondhoeke naderhand te bewe!”
Anders as die meeste jong mense van haar ouderdom, het sy nie ’n rolmodel nie.
“Natuurlik was daar rolmodelle toe ek klein was, maar soos wat jy ouer word, leer jy om tevrede te wees met wie jy is en wat jy doen. Jy is basies ok daarmee om jou eie mens te wees.”
Hoe sal sy skoonheid beskryf?
“Dit is iemand wat van nature mooi is. ’n Persoon wie se skoonheid van binne na buite straal.”
En Natalie van Biljon is een van daardie unieke meisies wie se uiterlike skoonheid slegs by haar innerlike prag kan kers vashou.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.