Latest News

Fred hou tred met tyd

Fred hou tred met tyd

Die getiek-tok, tiek-tok in die Du Preez’s se huis word verbreek met die gedong van ’n ou staanhorlosie wat eenkant knipoog, terwyl dit die nuwe uur aankondig.

Skielik bars 31 ou muur horlosies een na die ander uit en stem saam met die staanhorlosie.
Eenkant, versonke in sy eie gedagtewêreld sit Fred (55) en met Job se geduld draai hy nog ’n piepklein ratjie vas.
Die ou muur- en staanhorlosie gogga het hom in September verlede jaar gebyt toe hy ’n ou gebreekte koekoekhorlosie gekoop het. Vandag kan hy nie voorbly om hierdie oudhede te restoureer nie.
“Ek was ’n ketelmaker van beroep en toe dit tyd raak om af te tree het my vrou, Ria gesê ek beter iets kry om my hande mee besig te hou anders gaan ek dood,” het hy vertel.
Hy het niks van houtwerk af geweet toe hy die eerste horlosie onder hande gehad het nie.
“My vrou het jare terug vir my ’n houtwerk gereedskapstuk -’n ‘router’ gekoop. Ek het dit nog in die boks verkoop omdat ek dit nog nooit gebruik het nie. Sy was natuurlik boos, maar ek was die keer reg met ’n antwoord. Sy het vergeet om vir my ’n plank saam met die ‘router’ te koop. Nou hoe moes ek die gereedskap dan gebruik?”
Maar tyd is ’n goeie leermeester en binne net ’n kort tydjie het Fred homself geleer om ook die horlosies se ‘gesiggie’ reg te maak.
Een van die oudste muurhorlosies wat hy reggemaak en verkoop het, was een wat uit die 1800’s gedateer het.
Moenie dink Fred rus wanneer hy en Ria op vakansie is nie. Hulle het al die pad Mosselbaai toe by elke oudhede winkeltjie op hul pad gestop. Toe hulle in Mosselbaai stop het Fred 21 ou stukkende muurhorlosies opgekoop.
“Ek kon nie net sit en weet die horlosies is in my kattebak nie. Ek het gereedskap gaan koop en al 21 daar in Mosselbaai in die vakansiewoonstel reggemaak. Almal het gepraat van die horlosie-oom en tannie, want elke uur het daardie horlosies seker gemaak ons verloor nie tred met tyd nie.
Fred het genoem dat parte baie skaars is, as hy iemand raakloop wat parte verkoop koop hy sommer als op sodat hy genoeg kan hê vir die volgende ou horlosie wat sy pad kruis.
Die jaar se tyd het amper uitgeloop en almal skarrel rond om die laaste goedjies in plek te kry voor Kersfees. In die Du Preez’s se huis is Fred hard besig om die laaste verstellings te maak voor sy geliefde muur- en staanhorlosies na hul nuwe eienaars toe gaan.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.