People

Dinamiese Dobbie

Dinamiese Dobbie

‘n Lewensafrigter wat help om jou volle potensiaal te bereik.  Dit is wat Dobbie met volle oorgawe doen, nadat sy haar roeping in die lewe om mense van Jesus te vertel besef het.

Ontmoet dinamiese Dobbie Booy, wat nie net haar pligte as leraarsvrou, koster en werk op die NG Kerk se sinode met oorgawe pak nie, maar ook deesdae as “lewensafrigter” mense help om hul volle potensiaal te bereik.
Dobbie verduidelik hierdie sessies word privaat gedoen en binne vier sessies kan sy al ’n verskil by haar kliënte sien.
Baie mense se stresvlakke is so hoog dat hulle sukkel om te bereik waartoe hulle eintlik in staat is. Dit lei tot hulpeloosheid wat ook hul prestasies kan beïnvloed.
Dit is hier waar Dobbie kan help.
Sy stel dit duidelik dat sy nié ’n sielkundige is nie. Sielkundiges werk meestal met mense se verlede om hulle emosioneel gesond te maak daaruit.
Dobbie raak net effens aan die verlede, maar spits haar meer toe op die toekoms van hierdie persoon en dat hy die talente wat hy ontvang het, ten beste kan toepas, sonder die bagasie van ander probleme.
Daar word gekyk tydens die assesserings na verhoudinge, die persoon se werk en werkswaardes, asook na die persoon se eie probleme en toekomsvisie.
“As daar ’n blokkasie is, kan ’n persoon nie sy volle pontesiaal bereik nie.”
Dobbie verduidelik dat die ekometriese assesserings onder andere te doen het met die mate van balans tussen lewende organismes en hul omgewing, met ander woorde hoe ’n persoon in sy omgewing aanpas.
Sy werk ook met gesig emosiekaarte, oftewel spieël neurone. Dit is die selle in die observeerder se brein wat reageer op ’n aksie van iemand anders. (When monkey sees why does monkey do?)
Dobbie sê hierdie “Lewensafrigting” word absoluut hanteer op Christelike beginsels. “Dit gaan daaroor om te help dat die persoon sy volle potensiaal bereik waarvoor God jou geskep het. Sukses sonder God is net tydelik.”
Sy vertel dat sy hierdie opleiding gaan doen het om iets vir ander te beteken. “God het ons geskep om daar te wees vir mekaar. Ek is nie ’n predikant nie, maar dit is my roeping dat mense by my moet hoor van Jesus.”
Van kleins af het die bekende liedjie, “Moet ek gaan met leë hande?” soos ’n refrein in haar brein afgespeel.
“Ek wil nie eendag voor God staan met leë hande nie.”
Dobbie sê dis vir haar baie bevredigend as sy met hierdie verrykende hulpmiddel sien hoe mense wat in hul omstandighede stagneer het, na slegs ’n paar sessies begin ontluik, groei en verander.
Haar gunsteling boeke is dié van die skrywer Caroline Leaf. “Sy sê in haar een boek dat wanneer jy die krag van jou verstand begryp, dan kan jy jou lewe verander.” En dit is presies wat Dobbie mense mee help.
“Baie mense is slagoffers van wat met hulle gebeur het. Jy kán egter jou omstandighede en optrede kies. Sommige keuses is moeiliker, maar jy kán kies.”
Sy het aangesluit by een van haar man, dr. Casper Booy, bekende leraar van die NG Kerk, Kanonkop gemeente, se preke waar hy gesê het dat “voordat God die aarde geskep het, het Hy al jou naam uitgeroep. As jy besef hoe amazing dit is en dat alles net genade is, dan sal jy jouself nooit afbreek nie.”
Dobbie het haar opleiding gedoen deur die Potchefstroomse Universiteit en dit word internasionaal erken.
Sy staan bekend as ’n MLP (Multi-Level Processing Coach) en is, soos enige afrigter, daar om te help met die “afrigting” van jou potensiaal. “Mense oefen hul liggame, hoekom dan nie ook die brein nie?”
• Dobbie het ’n baie bedrywige lewe. Sy is al vir die afgelope sowat ses jaar die NG Kerk Kanonkop se koster, sorg dat sy saam met haar man hul pligte as herderspaar by die Kerk nakom en ook altyd op haar pos by die susters van die kerk se projekte.
Sy is ook deel van die Algemene Sinode van die NG Kerk se vroue wat ’n spesiale taakspan het.
“Ons opdrag is om aan die unieke behoeftes van die vroue in die N G Kerk te voorsien. Vroue is omgeewe-sens.”
Daar is van al nege die sinodes verteenwoordigers gekies om op hierdie die taakspan te wees en Dobbie is die verteenwoordiger van die Oostelike Sinode. Sy is verder die sekretaresse van die taakspan en die projekleier (voorsitter) van die Oostelike Sinode se Vrouebediening.
Sy doen dit met oorgawe soos daar opgedrag gegee word in Prediker 9:10(a) “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…”

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.