People

Die skoonheid van Clivias

Die skoonheid van Clivias

As jy die naam “Clivia” sê, dan spits Gideon Bean sy ore, want net dalk is dit ’n nuwe variëteit wat hy nog nie in sy versameling het nie.

Gideon is al vir meer as 10 jaar bedrywig met sy Clivias op die plaas en jy sal hom gereeld by Clivia skoue of ander versamelaars sien om te kyk of daar nie nóg ’n unieke Clivia is wat hy kan aanskaf nie.
Sy belangstelling in Clivias het sowat 15 jaar gelede begin toe hy as diaken een dag by ’n ene me. Raath gaan inloer het.
Hy het dadelik die groot pot met die ongelooflike mooi blomme in, op haar stoep gesien.
“Ek het vir haar gesê dit is die mooiste blomme wat ek nog ooit gesien het. Ek het nie ’n idee gehad watse blomme dit is nie.”
Daar is vir hom van die plante in die pot gegee en hy het dit dadelik in sy tuin gaan plant.
Hy was só trots, dat hy dadelik vir mnr. Freddy de Kock (bekende plantkenner) gebel het om te kom kyk na sy nuwe plant.
Mnr. De Kock het kom kyk en laggend gesê: “dit is ’n gewone oranje Clivia!”
Hy het egter gesien dat mnr. Bean belangstelling toon en het hom saamgenooi na ’n Clivia skou.
Oorkant die skool waar die skou gehou is, het Clivia kweker, mnr. Ammie Grobbelaar gebly en hy het daar gaan kuier. Met hierdie kuiertjie het hy R1 000 betaal vir ’n plant. “Vyftien jaar terug was dit baie geld vir ’n Clivia!”
Terug in Middelburg het mnr. André van Rijn hom vertel van ’n bekende Clivia boer in die Louis Trichardt omgewing, mnr. Bertie Gillome. Hy het ’n paar rand gevat en dadelik Louis Trichardt toe gery.
“Bertie het tussen 600 000 en ’n miljoen plante onder skadunette gehad!”
Mnr. Bean het hier gevat en daar gelos en besef hy net te min geld vir al die plante wat hy graag sou wou hê.
“Hy het my gehelp kies, maar ek het gesê ek het nie genoeg geld vir al hierdie plante nie! Bertie het daardie 20 plante vir my verniet gegee en gesê hy wéét ek gaan terugkom.” En hy het!
Die twee mans was vir die volgende 12 jaar die beste vriende en mnr. Bean het gereeld by hom plante gaan koop.
“Op my 50 ste verjaardag het hy vir my ’n Clivia Caulescens” gegee. ’n Plant wat R6 000 werd is.”
Mnr. Gillome het gesê hy moet die unieke “Berties Bronze” kleur kry en het mnr. Bean altyd spottend gesê: “as ek eendag groot is, sal ek een kry.”
’n Jaar voor mnr. Gillome se afsterwe het hy vir hom gesê dat hy vir hom ’n “Berties Bronze” het en hy was baie opgewonde. Hy het egter nooit by hom uitgekom nie.
Kort na sy dood het hy egter mnr. Gillome se dogter gevra sy moet kyk in die kwekery, want hy is seker sy vriend sou sy naam op die plant gesit het. En sowaar, daar was sy plant!
Mnr. Bean sê die mooiste kleure Clivias is die “Berties Bronze”, die geel Caulescens en die Hirao, ’n groen Clivia, wat sowat R6 000 per plant kos.
Tien jaar gelede het hy besluit om ’n plaas te huur, want daar was eenvoudig net nie meer plek in sy tuin nie.
En soos die uitdrukking sê: is die res geskiedenis!
Hy het al 6 000 plante en hy verkoop van die plante om die onkostes soos spuitstof en sakkies te dek.
• Mnr. Bean het so ’n stukkie geskiedenis vertel van Clivias.
Die Clivia is ’n inheemse plant wat bekend staan as ’n boslelie. Die grootste kwekers in die wêreld is egter Chinese en Japannese. Daar is ook groot Clivia klubs in Australië, Amerika, Nieu-Seeland en België.
In die koue maande hou hulle die Clivias in glashuise.
Die Clivias is aan Europa bekend gestel na die Anglo Boere-oorlog toe die Engelse van die plante saamgevat het.
Die verskillende soorte Clivias wat weens ons Hoëveldse koue, blom die plant eers na vier of vyf jaar, vandat hy geplant is. Maar die unieke blomme, maak die wag die moeite werd.
• Mnr. Bean wil jong mense aanmoedig om ook die Clivia stokperdjie te begin beoefen en nooi hulle om hom te kontak by 082 566 6782. Die plaas is geleë sowat vier kilometer ná die Middelburgdam op die ou Belfastpad.
• Sy seun, Deon, werk vir ’n Clivia boer in Howic (Kwazulu Natal). Hendrik, sy ander seun, is saam met hom op die plaas. Hendrik hanteer hul landskapplante op die plaas en vervaardig unieke plaveisel-stene.
• Mnr. Bean het in September ’n silwer medalje gewen met sy “Devil’s Peach” Clivia by die Laeveld Clivia Skou by die Botaniese Tuin in Nelspruit. ‘n Mens kry ook: Nobilis, Miniata, Gardenii, Caulescens, Mirabilis en Robusta.

 

Get it Middelburg – October 2018


View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.