Latest News

Talent kom al van dogtertjiedae af

Talent kom al van dogtertjiedae af

Dorrette Badria het al as klein dogtertjie by haar ma haar talente aangeleer en het selfs haar eie matriekafskeidrok gemaak!

Dorrette is die dogter van die bekende egpaar, Louw en Janet Maartens (van Middelburg). Terwyl sy vir ’n paar dae by hulle kuier, het sy alweer ’n magdom unieke artikels gemaak, wat almal wil opraap as kersgeskenke.
Haar nuutste idees het so ‘n maand gelede begin terwyl sy gestaan en kyk het na deurskynende glasklippe. Sy het ’n sak vol gekoop, prentjies begin uitknip, naellak en gom nadergetrek en die mooiste pendante begin maak vir hangertjies.
Met dieselfde glasklippe maak sy ook sleutelhouers.
Dorrette het haar eerste naaimasjien in standerd vier (graad ses) gekry. Al van haar vroegste hoërskooldae af, het almal geweet sy kan ongelooflike klere maak.
In haar graad 11 jaar wou hulle hê dat sy al die klere maak vir die graad 11’s wat hulle sou dra vir hul werk by die matriekafskeid.
Haar juffrou het groter drome gehad en gesê sy moet eerder inskryf vir ’n nasionale kompetisie waar sy ’n gevoerde driestuk pakkie en ’n aandrok moes maak.
Tussendeur die maak van hierdie klere, het sy sowaar nog die helfte van die graad 11’s se Hawaise klerasie gemaak!
Dorrette behaal ’n tweede en derde plek met die klere wat sy gemaak het vir die nasionale kompetisie en wen ook destyds geld vir haar skool.
Net daar en dan het haar juffrou be-sluit dat sy daardie rok die volgende jaar vir haar matriekafskeid ook moes dra! Later jare het sy ook haar eie trou-rok ontwerp en gemaak.
Dorrette is nie net ’n vernuftige kleremaker nie, alles waaraan sy raak verander sy in unieke artikels.
Sy maak byna al haar en haar kinders se klere. Koop sy wel iets, verander sy dit so dat dit heeltemal anders lyk. “Ek wil nie iets dra wat presies dieselfde is as ander nie!”
Noem dit en Dorrette maak dit!
Sy speel graag met interessante idees vir lampskerms. Sy het byvoorbeeld ’n lampskerm vir ’n neurochirurg in Gauteng (waar sy praktykbestuurder is) gemaak uit MRI- en X-straalplate. In haar ouers se huis is ’n lampskerm wat jou laat voel of jy in New York se strate rondstap.
Drukwerk op T-hemde is haar spe-sialiteit en het sy vanjaar die drukwerk gedoen op die T-hemde vir Laerskool Staatspresident C.R. Swart se revue.
Dorrette maak verder van geskenkpakkies tot trou- en ander uitnodi-gingskaartjies.
Voeg daarby papiermaché, glasrandwerk (waar sy chemikalieë gebruik om etswerk op glas te doen), wynsakke en selfs juwele en ’n mens wonder wanneer sy kans kry vir ’n blaaskans!
Dorrette sê sy het ’n Silhouette Cameo masjien wat sy saam met haar rekenaar gebruik om die fynste sny- en etswerk te doen op van karton tot viniel, papier en selfs materiaal.
Sy het selfs alles self gemaak vir haar 50ste verjaardagpartytjie se tafels en het sy persoonlik vir elke persoon ’n geskenkpakkie gemaak.
Sy nooi mense om op haar Facebookblad, “Ladybird Crafts” te gaan kyk wat sy alles kan maak. Koerierdienste maak dit vir haar maklik om bestellings vinnig by kliënte te kry.
Vir enige navrae, bel of WhatsApp haar gerus by 082 923 7819 of stuur ’n e-pos na dorrette.badria@vodamail.co.za
• Dorrette het laat weet dat een van die winkels in die Middelburg Mall belangstel om van haar hangertjies en sleutelhouers aan te koop en beskikbaar te stel vir Middelburgers om te koop.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.