People

Oorwinningstap tussen Eden en Addo

Oorwinningstap tussen Eden en Addo

“Dit was nie maklik nie, maar tou opgooi was nooit ‘n opsie nie…” so gesels Friena Scholtz oor die oorwinningstap tussen Eden en Addo van 400km wat sy en haar sus Lucia aangedurf het.

Om vir drie weke, oor 400 km oor berge, deur plase en in vlaktes te stap, is nie maklik nie, maar HTS Middelburg se Friena Scholtz (63) en haar suster, Lucia Prinsloo (60) het dit pas gedoen.
Friena noem dit ’n persoonlike oorwinning.
“Dit was nie maklik nie, maar tou opgooi was nooit ’n opsie nie, want my man en kinders het in my geglo” begin haar verhaal.
Van die stappers in hul groep het vertel dat baie van hulle al die Camino staproete gestap het, maar dat hulle nog nooit iets beleef het soos die “Eden to Addo Corridor Walk” op enige ander plek in die wêreld nie.
Friena was die enigste in die groep wat ’n voltydse beroep beoefen. Al die ander stap elke dag van hul lewens en was verstom dat sy die roete klaargemaak het.
Al die ander stappers wat deel was van die groep, behoort aan stapklubs. Daar is byvoorbeeld van die mense van die Kaap wat elke tweede dag Tafelberg gaan uitklim as deel van hul voorbereiding vir hierdie roete!
Friena het nie bergklim geoefen nie, net Saterdae en Sondae lang afstande om Middelburg aangepak.
Sy sê sy kan nie in woorde haar ervaring reg beskryf nie. “Jy doen fisies boendoe bashing, want daar is nie ’n paadjie vir jou uitgelê nie.”
Die gids het die laaste aand vir hulle gesê dat daar geen manier is hoe jy hierdie ervaring in woorde aan iemand kan oorvertel nie. “Jy moet dit beleef om dit te verstaan. Dit was ’n ongelooflike belewenis vir elke persoon in die groep.”
Op 1 September het hulle die ‘Garden of Eden’ ontmoet. “Dit voel vreemd, want jy weet nie wat op die pad vorentoe gaan gebeur nie.”
Op dag een het hulle van Diepwalle af in die Knysna bos afgestap na Klein Bavaria. Hierdie 25 km roete was vir haar nie te moeilik nie.
Die tweede dag takel hulle die pad van Bavaria na Takamma, weer eens ’n pad waar sy nog gemaklik kon bybly.
Alhoewel dit die nag by Takamma -2 grade celcius was in hul tent, het sy en haar suster nie koud gekry nie, want hul mans het seker gemaak hulle koop goeie opblaasmatrasse en slaapsakke.
Die derde dag was hulle in ’n rivierbed en het sy bekommerd na die krans geloer waarteen hulle moes uit.
“In daardie rivier het ek vir die gids gesê: ‘hoe kom ek hieruit?’ Sy het vir my gesê: ‘jy stap hieruit.’ Daar het ek geleer jy stap daaruit, tree vir tree, een voet voor die ander, teen jou eie tempo. Van toe af het ek gewéét, ek kán dit doen.”
Friena sê daar het ’n vrou saam met hulle gestap wat nie ’n kolon het nie en ’n sakkie gedra het.
“Ek het besluit, ek kan nie kla as ek moeg word en sukkel, as ek so ’n rolmodel het nie.”
Sy beskryf die groep wat saam met haar en haar suster gestap het, as “fantasties. Hulle is daar vir motivering, lag vir mekaar en wag vir mekaar. Dit wat ons in hierdie groep gedeel het, sal jy nooit weer deel met iemand anders nie. Jy is dan vir drie weke elke dag die hele tyd in mekaar se geselskap.”
Weens die onherbergsaamheid, kon sy eers op die sesde dag “op die soveelste berg in die Langkloofgebied” haar man, Willie, bel.
Dit was juis in hierdie Langkloofgebied wat hulle van die mooiste vrugtebome op boere se plase gesien het. By die rivier is hulle egter gemaan om nie van die rivierwater te drink nie, want die boere gebruik gif vir hul uitvoervrugte.
“Sover as wat jy stap, so besef jy die impak wat die mens op die natuur het.”
Van Langkloof is hulle oor die Kougarivier en Kougaberge tot in die Baviaanskloof. “Woorde kan nie beskryf hoe mooi dit daar is nie. Dit is nog ongerepte natuur.”
Hulle het ook in die area gestap waar die brande onlangs verwoesting gesaai het.
“Reg rondom ons het proteas en fynbos pikswart gestaan, met geen voëls en diere om jou nie. Net om in die volgende area in te stap, met die mooiste natuur, voëls en diere. Absoluut ongelooflik.”
By Geelhoutbos het hulle oorgeslaap en was daar ’n huis tot hul beskikking waar hulle vir die eerste keer ’n warm stort kon gaan neem.
“Soms het ons ‘wet camps’ gehad, dit is ’n emmertjie met lekker warm water om jou hare, lyf en wasgoedjies te was. Ander kere was dit ’dry camps’ en moes jy maar met jou wet wipes bad.”
Vanaf Geelhoutbos het hulle die pad gevat Rooihoek toe. Sy sê dat ’n foto nie eers hierdie besondere prentjie, van hoe rooi die berg is en die weerkaatsing daarvan in die water, sal kan vasvang nie.
“Dit is net jy en die natuur – dan hardloop daar ’n bok en jy hoor die buffels en jakkalse.”
Vanaf Bergplaas het sy besef dat sy nie meer agterbly nie en dat sy gemaklik begin saamstap. “’n Mens word fiks op die pad.”
Dit is vanaf Bergplaas wat hulle oor die laaste Baviaansberge geklim het. “Ons het op die berg se kruin gestap, ’n klim van 1 200 meter tot daar.”
Hulle was nog op die berg, toe hulle die onweerswolke sien aankom en moes hulle bergaf na Springbokvlakte toe.
Oor klippe en takke, “waar jy mooi moet kyk waar jy jou voet neersit, of jy slaan neer,” het hulle uiteindelik 16:00 by die kamp aangekom vir “middagete”.
Van Springbokvlakte af het hulle baie kilometers gestap, omdat die terrein bietjie meer gelyk was. Op een dag het hulle byvoorbeeld 31 kilometer afgelê!
Met net ’n paar kilometer oor, het die gids vir Friena gesê dat sy en Rosslin Els (van Thabazimbi) voor moet kom.
Friena onthou nog hoe sy vir “Ross” vertel het dat sy die volgende dag vir ’n rolstoel gaan vra vliegtuig toe, want sy glo nie sy gaan dit maak nie.
Hulle het opgekyk en ’n bakkie in die verte sien staan en aangeneem dit is een van die spanne wat vir hulle wag met iets te ete.
’n Paar treë vanaf die hek, het ’n persoon, wat alte bekend lyk, uit die bakkie geklim.
“Willie het uit daardie bakkie geklim en vir my gewag. Dit was só emosioneel om daar te kom en daar staan jou man vir jou en wag!”
Lucia se man, Dappie, het hulle ook ingewag.
Dit was egter nie die eindbestemming vir die stapgroep nie. Willie en Dappie het gery en vir hulle in Kirkwood gaan wag. Die groep moes nóg agt kilometer aflê tot by die kamp.
Elke tree tot by hul laaste kampplek was die moeite werd, want by die eindpunt het ’n feesmaal, baie beter as wat jy nog ooit op Survivor gesien het, vir hulle gewag.
Die laaste aand was die emosioneelste ooit met gemengde gevoelens van trots om daar te wees, hartseer om afskeid te neem van die beste vriende en opwinding om môre met jou familie herenig te word.
Interessante feite van hul staptog:
• Van die 17 stappers wat die staptog aangepak het, het 15 klaargemaak.
• Eers op die 20ste dag het hulle vir die eerste keer reën gekry. Op hul laaste oggend het hulle tot 10:30 in misreën gestap.
• Die ondersteuningspan (“ons backup crew”) het hulle elke dag by hul kampplekke ingewag met ongelooflike etes wat ’n mens gewoonlik net in hotelle kry.
– Van sop, tot warm vetkoek, die heerlikste kerriegeregte, seekosse en vrugte.
– Al die kos is op die vuur gaargemaak!
• Die ondersteuningspan het gesorg dat al die tente opgeslaan is voordat die groep elke aand by die kampplekke aangekom het. Al wat groeplede moes doen, was om hul matrasse en slaap-sakke reg te kry.
• Daar is een dag vir die ondersteuningspan gesê dat hulle moet kamp opslaan by die “geelhoutboom”. “Hoe het hulle geweet by watter geelhoutboom om kamp op te slaan en dat ons daar sou opdaag? Daar is honderde geelhoutbome!”
• Die groep het mekaar deurentyd ondersteun en was ingestel op mekaar. As iemand bietjie agter geraak het, het almal dadelik gewag. Friena sê van die mans het menigmaal selfs haar skoenve-ters vir haar vasgemaak.
• ’n Spesiale ervaring is dat die mense almal hul kennis en ervaring met mekaar gedeel het.
– Daar was onder andere ’n geoloog, “Willo” (70) wat almal vertel het hoe berge vorm en ook hoe bergreekse verskil.
– Natuurlik moes Friena, as taalonder-wyseres, ’n paar spelreëls aan hulle verduidelik. “Ons het ongelooflik baie sports gehad!”
• Friena en haar suster se groepnaam was die “Elephants”.
• Lucia het die meeste van die tyd haar sambreel gebruik teen die son en het bekend geword as: “Mary Poppins”.
• Friena sê die gidse was fenominaal.
– Colin Wylie was in beheer van die uitstappie. “Hy moes verantwoordelikheid neem vir die groep. Hy moet ’n ongelooflike mensekennis hê. Op die derde dag het hy vir my gesê: ‘jou kop is reg, jy sal dit maak.’ Dit terwyl ek nog nie eers behoorlik met hom gepraat het nie.”
– Fran (Friena kan nie haar van onthou nie) is die gids wat vir hulle loopplek moes soek, as daar eenvoudig nie ’n roete was nie. “Hulle noem haar die path finder. Sy soek ’n pad in die veld as daar nie een is nie. Sy is fenominaal.”
• Met die hulp van die gidse is daar baie voëls gesien en geïdentifiseer, baie wild gesien en selfs luiperdspore gekry. “Hier-die mense het ’n passie vir die natuur en bos.”

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.