People

Ouma Pieternella  op die Harley!

Ouma Pieternella op die Harley!

Baie spesiale Ouma Pieternella du Preez se 90 jare op aarde is herdenk met ‘n baie spesiale bederf. Die ne-derige oumatjie vertel van dinge wat sy al beleef het en van genade.

Waar het jy gesien ’n 90-jarige vlieg helikopter en klouter agter op ’n Harley Davidson!
Op Middelburg natuurlik, waar tannie Pieternella du Preez glad nie dink dit is snaaks dat hulle so stadig met haar gery het nie!
Terwyl die breipenne klik-klak vir ’n geskenkie vir ’n familielid, vertel sy op aandrang van die joernalis haar lewensverhaal.
“Ek weet nie waarom julle juis oor my wil skryf nie, daar is baie interessanter mense as ek.”
In ’n blaadjie wat sy aangesê is om te skryf oor haar lewe (gedeeltes word hierin aangehaal) vir haar 90 ste verjaar-dag, onthou sy hoe dinge verander het.
Van misvloer tot persiese matte.
Van perdekar tot stralers en die Gautrein.
Van ‘longdrop’ tot spoeltoilet.
Van kerse tot knoppie druk vir daglig.
Van verebed tot Sealy Posturepedic.
Van koolstoof tot gas of krag.
“Negentig jaar klink baie lank maar as jy werklik daaroor dink, baie kort. Jare van vreugde, bekommernis, moeite en bowenal soveel seën.”
Sy onthou hoe hulle die 37 myl dorp toe gekom het op ’n perdekar en dat die diere moes rus. Hul kombuis het nog misvloere gehad. “Beeste het net gras gevreet en mis het nie so gestink nie.”
Sy is in 1950 getroud met die liefde van haar lewe, Willie.
In haar verhaalboekie vertel sy van dae van armoede en hoe hulle begin het met net een trekker, ’n ploeg en vyf koeie.
Op Keerom het hulle gesukkel om die kinders by die skool te kry.
Oupa Willie het skool gehou by HTS Middelburg “en ek moes die boerdery en die kinders aan die gang hou.”
Sy glimlag as sy hul Austinkarretjie sonder remme onthou, asook hul eerste telefoon, ja, wat met die slinger gewerk het!
Haar verpleegsters opleiding het handig te pas gekom toe sy een van die plaaswerkers se vrou se pasgebore baba moes inneem en voor die antrasietkaggel vir ’n paar dae moes behandel.
Die baba is vroeg gebore en die hospitaal wou hom nie hê nie.
So gaan die staaltjies aan van die boerdery met kalkoene, die grootmaak van varkies, aflewer van bottels op Kriel, ’n roomyskarretjie wat gesorg het vir lekker familie-etes op Sondae en interessante verhale uit die hospitaalgange.
Sy was ook voorsitter van die Vrouefederasie en selfs tersourier van die Vroue Sendingvereniging.
Tannie Pieternella was nog altyd aktief en het laat in haar lewe geleer selfs om lintborduurwerk te doen. Oral in haar sitkamer pryk van hierdie besondere kunsstukke.
Sy is ’n kranige bakster en het ’n pragtige Witkerkkoek gebak wat tydens die Kerk se 150 ste vieringe almal aan die raai gehad het om te weet wat is die gewig.
Vir haar eie verjaardag het sy sommer twéé vrugtekoeke gebak.
Aan die einde van die gesels, keer sy weer terug na die spesiale verjaardag wat haar kinders vir haar gereël het.
Sy is met ’n blinknuwe Mercedes opgelaai en is rondgery tot anderkant Doornkop.
Vandaar is sy gevat na die vliegveld waar sy met ’n helikopterrit oor hul ou familieplaas bederf is. “Hulle kyk mooi na ons plaas. Ek sien daar is selfs nuwe store!”
Sy was verbaas oor hoe ons dorp en Mhluzi uitgebrei het en dankbaar dat sy die Witkerk uit die lug kon sien.
Die helikopter het met haar geland by Hoërskool Middelburg, waar sy agter op ’n driewiel Harley Davidson na die verjaardagpartytjie gevat is.
“Die motorfietsrit was net te stadig, want my hare was nie eens deurmekaar nie!”
Haar trots is haar vyf kinders, skoonkinders, 16 kleinkinders, 14 agterkleinkinders “en die twee halwetjies wat nog op pad is.”
Sy is ook dankbaar dat haar suster, Nina (85) en broer, Andries (85) nog leef.
“Alles in my lewe is net genade.”

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.