People

Gene se “Legacy”

Gene se “Legacy”

Gene Jacobs is die eienaar van een van die mees gesofistikeerde ambulansdienste in die omgewing en het diep spore in die gemeenskap getrap.

Met drome in sy oë, R20 in sy sak en ’n sak klere het ’n jong seun in 1999 met ’n geleentheid na die Steenkoolstad gekom.
“Ek het nie eers geweet waar Witbank was nie. Dit was vir my ’n dorpie iewers op ’n landkaart, maar die dorpie het ’n pos gehad wat ek bitter graag wou hê.”
Hy het ’n pos aanvaar as ’n basiese ambulans assistent by Medi-Taxi en vandag is Gene Jacobs die eienaar van een van die mees gesofistikeerde ambulansdienste in die omgewing.
Vir die afgelope 18 jaar het Gene diep spore in dié plattelandse stad se gemeenskap gestap.
Gene se liefde vir die nooddienste het opgevlam toe hy vanaf 1994 op brandweertrokke uitgehelp het.
“Ek wou altyd ’n verskil in iemand se lewe maak. Brandweertrokke het hul eie bekoring.”
Medi-Taxi het later Ambu Doc geword en in 2004 het ER24 oorgevat.
In 2005 het hy besluit om sy kritiese sorg assistent kursus te voltooi. Maar die noodlot het ’n paar harde klappe uitgedeel en die kursus is halfpad gestop.
“My hart was stukkend en my drome aan skerwe. Ek het gedink ek gaan vir ewig sit waar ek sit en doen wat ek doen. Daar was net geen ligpunt nie.”
Maar vir Gene het dinge begin omdraai toe ’n vriend sy eie ambulansdiens begin het.
Saam met Jakkie Boshoff het die span die ambulansdiens die hartklop van die stad gemaak. Almal het Jakkie, Gene en die span geken.
“Ek het in 2005 by Jakkie aangesluit en twee weke daarna vir die kritiese sorg kursus ingeskryf. Ek het geld geleen vir petrol en Kaap toe gery vir die kursus. Daar moes ek drie dae lank in my kar slaap, maar ek het geweet dit was wat ek wou doen.”
Die daaropvolgende jaar het Gene saam met Jakkie sy aan sy 365 dae, 12 ure lange skofte gewerk. As jy ’n kans kry het jy sommer in die ambulans ’n oog toegemaak. Ons was op elke toneel.”
Om Gene se mond het ’n glimlag wegkruipertjie gespeel toe hy vertel hoe hy en Jakkie ’n tweede ambulans in Jakkie se garage opgebou het.
“Dit was goeie tye, onthou tye, ‘memory-making’ oomblikke”
Gene het die operasionele kant van die ambulansdiens oorgevat.
Jakkie het later sy aandeel verkoop en Gene ook.
“Ek het ’n idee gehad van hoe ’n ambulans moet lyk en hoe hy moet funksioneer.”
Met die idee in sy kop het Gene ’n nuwe uitdaging aangepak.
Verlede jaar het daar ’n groen ambulans skielik op die paaie verskyn. Niemand kon dit mis nie.
Legacy het die modernste tegnologie in hul vloot en die span agter die sukses van die ambulansdiens is mense met harte wat weet hulle is instrumente in God se hande.
“’n Ambulansman is meer as iemand wat deur mediese sorg lewens moet probeer red. ’n Ambulansman is ’n predikant, sielkundige, partykeer die laaste stukkie hoop. Ons is ook maar net mense. Ons weet ook maar nooit wie ons kry by ’n noodtoneel nie,” het Gene vertel.
“As dit jou tyd is, is dit so. As dit nie is nie, dan kry ’n ambulansman die geleentheid om ’n lewe te red.”
Gene meen dis ’n ondankbare werk, maar die grootste dankie bly, wanneer jy op straat verby iemand loop, wat nie eens weet in watter toestand jy hom of haar gevind het toe jy hulle lewens gered het nie.
“Jy doen dit nie vir jouself nie. Jy doen dit vir die Here en vir jou gemeenskap.”

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.