People

Elke dag is ‘n geskenk

Elke dag is ‘n geskenk

Eunice van der Merwe vertel meer wat MS is en hoe dit haar lewe affekteer.

“Ek het MS. MS het my nie.”
Vanuit die klein, brose Eunice van der Merwe kom die sinnetjie ferm.
Eunice (36) is gediagnoseer met veelvuldige sklerose. In Engels staan dit bekend as MS.
Die twee letters hou meer in as wat ek en jy besef.
Vir Eunice beteken dit dat elke dag ’n geskenk is.
Haar stem het gebreek toe sy sê, “Ek wil net my kinders grootmaak ….”
Eunice se pad met die siekte, wat gewoonlik gediagnoseer word deur letsels op die brein, het twee jaar terug begin.
“Ek was gesond, tot eendag wat ek ’n snaakse gevoel soos dooie stukkies op my gesig gekry het. Die dokter kon niks verkeerd vind nie, en het die gevoel toegeskryf aan ’n bietjie spanning.”
Eers na ’n volgende opinie by ’n neuroloog het sy ’n antwoord gekry.
Die letsels op haar brein en rugmurg was duidelike tekens dat die siekte sy tentakels in haar ingeslaan het.
“Dit was ’n oorweldigende oomblik. Behalwe vir die erns daarvan was ek dankbaar dat ek uiteindelik kon weet dat alles nie my verbeelding was nie.”
MS val Eunice se brein se immuunstelsel aan. Daarom is die kommunikasie tussen haar rugmurg en brein nie soos wat dit moet wees nie.
“MS is gewoonlik ‘n progressiewe siekte wat jou sentrale senuwee sisteem aantas. Dit was vir my ‘n vreemde konsep om te snap omdat ek nie werklik kon verstaan hoekom my liggaam homself wou aanval nie.”
Sy noem dit ’n vernederende siekte.
“Ek moet so hard konsentreer om nie te val nie. Vir ander lyk dit partykeer of ek dronk is, maar ek het geen balans nie. Mense dink seker my wederhelfte rand my aan, want ek is gedurig vol blou kolle soos ek myself stamp.”
Die onderhoud neem ’n ander wen-ding toe Eunice begin vertel dat haar geloof haar kruk in hierdie kronkelpaadjie is.
“Ek vertrou. Ek het geen twyfel dat die Here hierdie vir my beplan het nie. Hy plaas sulke spoedbulte op ons pad, maar Hy sal dit nie daar plaas as Hy weet ons kan dit nie hanteer nie.”
Eunice vra nie vrae nie. Haar onwrikbare geloof is nou genoeg vir haar.
Trane biggel oor haar wange toe sy sê, “Ek glo dat die Here my sal toelaat om nog ’n mamma te wees vir Stiaan en Zuné en saam met my man, Tiaan genoeg herinneringe op te bou.
“Maar ek kan nie wag om Hom te ontmoet nie. Ek wil Sy hande en voete soen en vir Hom dankie sê dat Hy my opgetel het toe ek Hom die nodigste gehad het.”

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.