Décor & Gardening

Colette reik na die sterre

Colette reik na die sterre

Colette Angelucci, oudleerling van Hoërskool Kanonkop, is besig om vinnig naam te maak in die binnenshuise versieringsindustrie. Haar reis na ’n handelsnaam wat al hoe meer bekendheid verwerf en herwaarts en derwaats erkenning inhark, bevat genoeg avontuur om ’n boek te skryf. 

Die borrelende blondekop het in die jaar 2000 matriek geskryf in Middelburg. Toe dit tyd word om te gaan swot, het haar ouers haar aangeraai om iets te studeer waarmee sy ’n goeie salaris sal verdien.
“Hulle het gedink ek gaan iets soos IT swot. Maar toe gaan swot ek skelm interior design,” vertel Colette.
Sy het egter nadat sy haar studies voltooi het, in die motorindustrie gaan werk. Eers jare later het sy ’n pos by Weylandts gekry. Dit was daar, tussen die reuke van hout en leer, waar haar passie ontwaak het.
Na die hoeveelste maal wat Colette moes trek na ’n kleinerige woonstel, en teleurgesteld moes agterkom dat haar geliefde bank of tafel nie daar gaan inpas nie, het sy besluit om haar eie meubels te ontwerp.
“Ek was so moeg vir goed wat nie pas nie. Spasie is duur in Johannesburg. Leef areas word al hoe kleiner. Ek het besluit om my eie meubels, wat kan skuif en pas en waarby jy “add-ons” kan bysit, te ontwerp.”
Terwyl sy in haar spaartyd in Weylandts se koffiewinkel gesit en haar meubels geteken het, het sy die oog van bekende binnenshuise versierder, Andrew Mckenzie, gevang. Hy wou by haar weet wat sy so verwoed teken en het daarna gereeld by haar kom sit en gesels.
“Eendag vra hy my ‘Colette, as jy so groot visie het vir hierdie meubels van jou, hoekom maak jy nie jou eie besigheid oop nie?’ Op daardie stadium het ek nie eens gedink dat dit ’n opsie is nie,” sê Colette.
Sy het later bevordering gekry en begin om werk vir groot kliënte te doen.
“Now you watch Colette fly” was een van haar base se woorde toe sy in die pos aangestel is. Haar nuwe pos het haar instaat gestel om baie goeie kontakte in die ontwerp en binnenshuisse versieringsindustrie op te bou.
In 2013 het Colette uiteindelik die groot stap geneem en haar eie besigheid, Colette Living, begin. Sy het intussen ’n hele string toekennings gewen met haar Decorex Excellence Award 2017, die mees onlangse.
Colette vertel hoe haar dogtertjie Dakota (13) haar moes help om tekstiel ontwerpe te maak, nadat die fabriek laat weet het dat hulle haar ontwerpe binne ’n uur nodig het of dit nie vir haar op lap sal kan druk voor haar uitstalling nie.
Colette was op daardie stadium by haar pa in Middelburg, wat haar gehelp het om meubels vir haar uitstalling te maak. Sy kon onmoontlik nie binne 60 minute terug in Sandton kom om by die 70 ontwerpe, waartussen sy nie kon besluit nie, uit te kom nie.
“Ons het my kind se verf gegryp en begin skrabbel op papier. Ek het dit toe sommer met my foon afgeneem en deur gestuur, toe bel ek die fabriek en sê dat hulle nie die foon moet antwoord as ek weer bel nie, want dit gaan wees om vir hulle te sê ek het van plan verander en wil ander ontwerpe deurstuur,” lag Colette.
Na Decorex het T & Co Fabrics haar gekontak. Hulle was mal oor haar tekstiel ontwerpe en wou graag haar lap aanhou. Haar ‘Play on shadows’ reeks is tans by hulle te koop.
As jy haar vra wat haar resep vir sukses is, sal Colette jou antwoord dat meeste van haar prestasies ‘per ongeluk’ gebeur het. “Dit voel regtig asof die Here blessings oor my pad stuur,” verduidelik sy.
Gary Player het gesê “The harder you work, the luckier you get.” Dit is beslis die waarheid in Colette se geval. Van nagte om werk om by afsnytye te hou en self inspring en hand bysit, kan jy haar niks vertel nie.
Buiten vir uitstallings en winkelvensters, doen Colette ook binnenshuise versiering vir privaat kliënte.
“Onthou, binnenshuisse versiering is nie ’n luuksheid nie, dit is die proses om die spasie waarin jy lewe, so te rangskik dat jy gemaklik daarin pas,” verduidelik Colette.
Sy sê dat een van haar grootste pluimpies ’n huis is wat sy sowat 10 jaar gelede vir kliënte versier het en waar ’n tydskrif onlangs ’n fotosessie gehou het.
“Toe ek hulle weer sien en vra of daar nie iets is wat hulle wil verander of vernuwe nie, toe sê hulle vir my dat hulle so mal is oor hul huis, en dat dit hulle so perfek pas, dat hulle absoluut niks wil verander nie. Dit maak my gelukkig om so iets te hoor.”
Colette Living bied ’n alles-in-een benadering tot versiering met Colette wat meubels, lappe en muurpapier intern kan verskaf. Sy het ook haar eie klerereeks, wat vir dieselfde rede as haar meubels gebore is, omdat sy sukkel om dit waarvan sy hou in die winkels te koop te kry. Sy teken haar ontwerpe en stuur dit dan vir ’n patroonmaker voordat dit aanmekaar gestik word.
As jy haar vra waarheen vorentoe, gooi sy haar kop agteroor en lag uitbundig voor sy antwoord: “The sky is the bloody limit darling!”

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.