Latest News

’n Toksak vol rugbyherinneringe

’n Toksak vol rugbyherinneringe

Die platteland het ’n ryke rugbygeskiedenis. En niemand kan die stories, die drieë, die kuiers én die plettervatte beter onthou as Middelburg se Schalk Breytenbach nie.

Die 76-jarige oom Schalk het aan Hoërskool Middelburg gematrikuleer, maar hy het nooit vir dié skool se eerste rugbyspan uitgedraf nie. Tog was rugby so deel van sy lewe soos Signal-tandepasta, die Beatles en Mum-deodorant (vra vir jou oupa wat en wie dit is) en hy het saam met sy ouer broer vir Middelburg Rugbyklub (die Swartes) begin speel.

Kort voor lank het hy sy debuut vir die klub se eerste span gemaak.

“Sjoe, ek het saam met groot name soos Manie le Roux, Jan Holder en Errol Cason gespeel en ek het my eerstespanbuiging teen Groblersdal gemaak. Ek onthou nog goed hoe ek teen Faantjie – hul bulsenter – te staan gekom het. Dit het egter taamlik goed gegaan en vandaar was ek pal in Middelburg se eerste span,” sê hy met ’n breë glimlag.

Sy spel op senter het keurders en administrateurs beïndruk en op 28-jarige ouderdom was hy lid van die eerste Suidoos-Transvaal span wat in 1969 aan nasionale toernooie begin deelneem het. Hy het uiteindelik 10 wedstryde vir die unie tot en met sy uittrede gespeel. Hy het egter by die spel as afrigter betrokke gebly en is vandag nog ’n gereelde gesig by Middelburg Rugbyklub, waar hy as ere-president die span van langs die veld aanmoedig.

“Middelburg het nie altyd op die Kees Taljaard Stadion gespeel nie. Ons het aanvanklik op Hoërskool Middelburg en HTS Middelburg se velde gespeel, waarna ons na die veld – dáár waar die provinsiale hospitaal se terrein nou is – geskuif het. Daar was nie eens pawiljoene nie – net sulke houtstellasies. Ek het egter baie goeie herinneringe van daai veld…”

Soos die keer toe hy die oud-Springbok – Jan Schlebusch – laat les opsê het in ’n wedstryd teen die Shimlas.

“Ek en ou Sybrand Botes was die senters en Schlebusch was die heeltyd in ons gesigte. Nou têkkel was nog altyd my sterk punt en in die tweede helfte kon ek sien dat Schlebusch besig is om te fade – hy is nie meer so sterk soos vantevore nie. Ek was ook maar lekker moeg, maar ek het krag bymekaar geskraap vir ’n laaste groot duikslag.”

En wat ’n duikslag was dit nie!

“Die bal het uit Schlebusch se hande gespring, Sybrand het dit op volspoed opgepik, dit na Piet Malherbe uitgegee en dié het onder die pale gescore. En só wen ons die Shimlas!”

Volgens oom Schalk het rugby ook baie van sy speeldae verander. Buiten die samesyn – “daar was na elke wedstryd ’n onthaal en ons almal se gesinne het elke Sondag by Towers gaan eet” – glo hy dat die spel vandag nie meer so vloeiend as vantevore is nie.

“Ons het toe ’n volle agterlynbeweging gehad. Die bal het gereeld tot by die vleuel gevorder – vandag hardloop die eerste ou wat die bal kry in iemand vas. Ek glo dat Sam Gerber en Louis Roos deesdae Middelburg se beste klubspelers is. Maar ek raas gereeld met Roos – hy maak op senter hópeloos te veel kontak.”

Hy onthou sy gunsteling-drie asof hy dit gister gedruk het. Dit was tydens ’n wegwedstryd teen Nelspruit en Johnny Roelofse was oom Schalk se sentermaat, met Wolfie Wolfaardt die losskakel.

“Johnny het nog vir die bal geskree en ek het gemaak asof die bal na hom gaan uitgee, maar het die bal teruggetrek en self onder die pale gaan druk. In die tweede helfte doen ons presies dieselfde move, maar in plaas van die fopaangee, pass ek toe die bal na Johnny en hý score onder die pale!”

Oom Schalk is ’n rugbyspeler met 76 seisoene se ervaring. Iemand wat wéét hoe om rugby te speel. En dit te geniet.

• Oom Schalk was ’n lid van Middelburg Rugbyklub se eerste wedstryd op die Kees Taljaard Stadion. “Dit was teen Ermelo. Ons het gewen.”

• Hy glo dat die Middelburgspan van 1972/1973 die beste span nóg in die klub se geskiedenis was. “Met ouens soos Polla Fourie en Ben Badenhorst in ons geledere, was ons onstuitbaar.”

• Sy seun, Conrad, is ’n Sewesspringbok en was lid van die Blou Bulle se seëvierende Curriebekerspan wat die trofee in 1998 gewen het.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.