Food & Wine

Danie se droom: krokodilvleis op elke bord

Danie se droom: krokodilvleis op elke bord

Krokodilvleis is ’n unieke gereg in restaurante wat jou ’n plaas se prys kan kos. ’n Jong krokodilboer van ons omgewing wil dit egter verander en krokodil op elke huishouding se inkopielys kry.

Jana Boshoff het by Danie Venter gaan kuier en is verstom met die smaaklikheid van sy krokodilsosaties.
Lees meer oor haar besoek aan die krokodilplaas.

Tussen die skilderagtige koppies van Roossenekal, op die plaas Bon Amanzi, skuil daar 4 000 krokodille.

Danie Venter, krokodilboer, sê dat hulle al 14 jaar met die krokodille woeker. Dit was eers maar net ’n snaaksigheid.

“Ek dink die Here wou iets vir my gee wat op die lang termyn vir my sou sorg. Toe gee Hy vir my krokodille.”

“As jy lank genoeg na die gediertes kyk word hulle amper vir jou mooi,” grap Danie, terwyl hy langs ’n tamaai mannetjie, wat 14 jaar oud is, kniel vir ’n foto.

“Ongelukkig, as jy met iets boer, moet jy een of ander tyd begin geld maak uit hulle. Ons bemark hierdie jaar vir die eerste keer ons produkte,” vertel hy verder, gebukkend met sy hand op ’n krokodil se stert.

“Pasop net vir jou hand. Moenie dit oor die muur laat hang nie. Hierdie diere het maande laas geëet, hulle hiberneer mos eintlik in die winter. Maar as dit so warm is soos vandag, dan vergeet hulle partymaal dat dit winter is,” waarsku hy terwyl ek oor die muur leun om ’n foto van hom te neem.

Daar is drie verskillende afdelings op die plaas. Dit begin by die teeldiere, wat in hul eie kamp bly. Sodra hulle eiers lê word dit weggevat om in broeikaste uitgebroei te word. ’n Krokodilwyfie kan enige iets van 20 tot 60 eiers op ’n slag lê.

“In die natuur oorleef net vyf persent van die kleintjies. As jy met hulle boer is jou mikpunt dat net vyf persent dit nie maak nie,” sê Danie.

Die klein krokodilletjies word in hul eie kampe, in ’n spesiale stoor wat die son se hitte opvang, groot gemaak. Hulle eet iets wat amper soos ’n haas of hondepilletjie lyk, wat uit ’n vitamien mengsel en hoender bestaan.

Sodra die krokodille ’n sekere grootte bereik, word hulle uitgeskuif na ander kampe. Danie sê dat hulle tot drie ton hoender per week op die plaas voer in die somer. In die winter eet hulle aansienlik minder. Die ideale slaggewig en grootte vir krokodille is as hulle drie jaar oud is.

Daar word gekyk na die kwaliteit van hul velle asook na hul lengte.

Omdat ’n krokodil nie soos ’n bees aangejaag en op ’n lorrie gelaai kan word nie, en omdat dit baie moeilik is om permitte te kry om die diere lewendig te vervoer, word hulle op die plaas dood gemaak.

Slagkrokodille word op ’n vinnige pynlose manier dood gemaak en heel gevries. Hulle word dan per bakkie na ’n spesiale slagpale in Mookgopong vervoer. By die slagpale word die diere volgens streng gesondheidsmaatreëls verwerk tot vleis en vel produkte.

“Krokodilvleis is iets wat op die oomblik baie eksklusief en duur is. Ek wil dit verander. Ek wil hê mense moet so gewoond raak aan die vleis dat hulle later eerder krokodil as hoender koop,” sê Danie. Hy meen dat krokodilvleis ’n baie hoë proteininhoud het en bykans geen cholestrol nie en naas volstruis van die gesondste vleis op die mark is.

Sy produkte word alreeds by die winkel God’s Grace op Laersdrift oorkant die polisiestasie asook by die Windpomp winkel in die Midpark Sentrum naby die ou Pick ’n Pay verkoop. Hy sê dat die plaaslike gemeenskap aanvanklik heel skepties oor die vleis was.

“Baie mense het nog bygelowe ook wat hulle terug hou. Maar daar is al hoe meer belangstelling,” sê Danie.
Hy droom daarvan om krokodilvleis aan die gemeenskap te kan verskaf as ’n gesonde en goedkoop alternatief wat nie net op die duurste en beste restaurante se spyskaarte as ’n snaaksigheid verskyn nie.

Daar is ook planne om self krokodilvelle in produkte te omskep, eerder as om dit uit te voer of deur iemand anders te laat verwerk.

’n Pakkie krokodilsosaties is saam terug Middelburg toe. Dit is die aand tussen meer tradisionele boerewors en biefstuk op die kole gegooi. Die beste manier om die vleis te beskryf is ’n kruising tussen vark en hoender. Dit het geen wilde smaak nie en was heerlik met ’n suurlemoen en kruie sousie. Loop lig om dit nie te gaar te probeer maak nie omdat dit dan effe droog kan wees.

Krokodilvleis sal in die nabye toekoms volstoom in die Middelburg omgewing bemark word. Indien jy met Danie in kontak wil kom bel hom gerus by 083 327 1080.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.