Latest News

Die vroue agter die GTR

Die vroue agter die GTR

Of dit nou ’n wedloop of ’n funksie is, agter elke suksesvolle projek is daar altyd ’n paar vasvat vrouehande wat seker maak alles verloop vlot.

Die jaarlikse GTR (Greatest Train Race) het ’n sterk komitee van 20 lede, waarop ses vroue dien wat sorg dat alles agter die skerms vlot verloop.

Elsabé Dawson is al 11 jaar deel van hierdie wedloopprojek, wat in 1986 deur die drie Rotariër klubs, Middelburg, Middelburg Cycad en Witbank, gestig is.

Volgens Elsabé is die GTR hul grootste fondsinsamelingsprojek van die jaar en word daar al van November elke jaar gewerk om die volgende GTR, wat altyd in Augustus plaasvind, klopdisselboom te laat ‘hardloop.”

Elsabé is aan die stuur van sake by die administratiewe kant en hanteer al die geldsake. Liz-Marie van Aarde is haar regterhand waar dit kom by al die inskrywings en prosessering daarvan. Aanlyninskrywings is baie gewild en hulle hardloop rond om by alles uit te kom.

Met soms tot 20 000 atlete wat deelneem, moet Elsabé op 10 plekke gelyk wees om seker te maak al die atlete is ingeskryf.

•Chantal Bekker is voorsitter van die GTR komitee en uittredende president van die Middelburg Cycad Rotariërklub.
Sy koördineer ál die afdelings van die GTR en help Elsabé om al die drade van die reëlings bymekaar te hou soos skakeling met die hoofborge en die medaljes.

•Natascha Robberts is Chantal se regterhand met koördinering. Sy is die Middelburg Cycad Rotariërklub se nuwe president.

Sy staan ook aan die stuur van sake by die biertent.

•Mary Gavure (Witbank Rotariërklub) moet sorg dat alles reg verloop by die wegspring in eMalahleni.
Sy koördineer al die Interacters (junior Rotariërs) wat deel uitmaak van die beamptes by die wegspring en op die pad.

Mary moet haar hand op die pols hou by die besluite en beheer van watter organsisasies die GTR se fondse gaan bevoordeel.

•Monica Joao hanteer die bemarking en media, soos persvrystellings en die rondry van die media in die bus.

•Regina Watson het hierdie jaar deel geword van die GTR komitee. Almal ken dié bekwame sekretaresse van die Middelburg Care Village.

Sy het sommer uit die staanspoor ingeval by al die reëlings vir die GTR en help met die bemarking van die wedloop.

Al dié vroue is dit eens dat hulle nie hul werk sou kon doen sonder die ondersteuning van die manne in die komitee nie.

Die Rotariër mans sorg dat ál die fisiese werk gedoen word soos met die verkeer, bou van die verhoog en ander harde werk.

“Dié mans en ons families is ons ankers wat almal deel is van ’n span wat sorg dat die GTR elke jaar ’n sukses is!”

Pret by die GTR:

Daar is altyd die prettige verhale na elke wedloop.

• Die sekuriteit was só goed verlede jaar dat hulle nie eers vir Josiah Thugwane wou inlaat nie. En hy moes die spanwedloop afsit!

Chantal het nader gestap om te kyk waaroor die kabaal gaan en toe sy sien wie dit is, moes sy hom oor die versperring laat klouter om gou sy werk te kom doen. Sy het juis vir hom gewag, maar kon nie deur die skare sien waar hy is nie.

• Monica vertel van die span atlete at ’n ‘trein’ met hulle koelbokse op wiele gemaak het en dit die hele pad gestoot het. Teen die tyd wat hulle in Middelburg gekom het was hulle klaar ‘voor’.

• Elsabé weet van ’n atleet wat te vertel gehad het dat sy op 15 km ’n tent gesien het wat masserings doen vir krampe. Sy was baie moeg en het maar gemaak of sy ’n kramp kry, net om ’n bietjie gemasseer te word en te rus!

Vinnige feite oor die GTR

• Die GTR is vanjaar 31 jaar oud.

• GTR 2017 is hierdie jaar op 19 Augustus en tussen 15 000-20 000 atlete word verwag wat aan die 32 km, 15 km en 4.9 pretloop sal deelneem.

• Verskeie organisasies help elke jaar die Rotariërs, soos St Joseph’s Ouetehuis wat sorg dat die beamptes kos kry.

• Die span van GTR het vanjaar die biertent by die Lugskou hanteer.

• GTR is ’n geregistreerde Nie Winsgewende Organisasie.

• GTR het só groot geword dat verskeie Rotariërklubs nou elke jaar kom handjie bysit. Rotariërklubs van sover as Witrivier, Warmbad en Ermelo tree op as beamptes by die wedloop.

• Buco eMalahleni skenk vanjaar die boumateriaal vir die trein en die leerlinge van WH de Klerkskool bou die trein wat die atlete met polisiebegeleiding sal vergesel. Verlede jaar het die atlete die trein uitgestof, maar die plan is dat vanjaar se nuwe trein die wedloop moontlik kan wen!

• Teen druktyd het Eastdene Combined voorgeloop as die skool wat die meeste spanne ingeskryf het. Hulle het agt spanne wat aan die GTR gaan deelneem.

• Talle pryse vir onder andere die bes geklede en snaaksste spanne, is op die spel.

• Die sluitingsdatum vir inskrywings vir die GTR is op 1 Augustus, maar besighede wat nou reeds vir volgende jaar as borge wil optree, word gevra om van hulle te laat hoor.

Vir enige verdere navrae rakende die GTR, bel Elsabé by 013 243 2253 of stuur ’n e-pos na admin@gtr.co.za

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.