Latest News

Aan die Brand(t) bouer wat die dorp help vestig het

Aan die Brand(t) bouer wat die dorp help vestig het

Ontmoet Freddie Brandt, die man wat as hoofkontrakteur in die 60’s saam met sy span die Witkerk gerestoureer het.

Op 91 is daar steeds niks wat hom onderkry nie en hy is selfs nog ouderling in die NG Kerk, Kanonkop gemeente!

Hy is in 1926 in Pretoria gebore en het later skoolgegaan by die Pretoria Duitse skool. Sy ma en suster is destyds voor die oorlog Duitsland toe vir ’n besoek van sewe jaar en Freddie het by sy pa agtergebly.

Sy pa het geglo dat seuns skrynwerkerswerk moet doen en hy het as opgeskote seun van 16 al met skrynwerk begin.

Later jare het hy ook bouwerk bemeester en was hy deel van die span wat onder andere Hoërskool Lydenburg en Hoërskool Nylstroom gebou het. Dit is juis tydens die bouwerk van die Lydenburgse skool, wat hy sy vrou, Clara (nou 97), ontmoet het.

Die egpaar is in 1949 getroud.

In 1951 het hy die Ohrigstaddam help bou en het kort daarna na Middelburg verhuis.

Hier het hy en sy vrou omgesien na haar ouers op die plaas, Keerom (naby waar mnr. Goodie Erichsen se plaas nou is).

Oom Freddie begin werk vir mnre. Paul Bosch en Piet Bezuidenhout (laasgenoemde was ’n bekende bouer en later burgemeester van Middelburg).

Hy onthou hoe hulle die suiweringswerke by Krugerdam gebou het en hoe hy saam met die mans verskeie huise op die dorp opgerig het.

In 1959 begin hy sy eie bou-onderneming en kort daarna kry hy die groot taak om die restourasie van die Witkerk aan te pak.

Dié restourasie het ses maande geduur, want hulle moes die vloere en dak vervang en selfs die mure oorpleister. Die kerktoring was van hout en hulle moes dit vervang met ’n staalkonstruksie.

Die gaslampe is met elektriese lampe vervang en hy onthou dat mnr. Jean Heydenreich nog die elektriese bedrading gedoen het.

Al die kerkbanke is ook vervang en mnr. Roelf van Heerden het gehelp om die gallery op te knap.

Die gesin het later verhuis na Naboomspruit en in 1969 teruggekeer na die Middelburg omgewing toe hy De Voetpadkloof, wat destyds die gedeelte waar Ruby Cliff nou is, ingesluit het.

Oom Freddie het die pragtige vyfvlakhuis vir sy vrou gebou, wat hom mooi gevra het dat die huis spesifiek so gebou moes word dat dit lyk of dit in die berg insmelt. Sy broer, Gustav, het die huis ontwerp en hy het dit gebou.

Terwyl hy besig was om die huis te bou, het vroulief die massiewe tuin gereed gekry sodat haar dogter Laurina (bekende onderwyseres van Laerskool Middelburg), haar troue daar kon hou. Die huis en tuin is in 1973 voltooi en in 1974 is sy getroud.

Oom Freddie het daardie jare sy werk in die dorp as boukontrakteur hanteer en ook met mielies geboer (die landerye was waar De Voetpadkloof nou is).

Hulle verhuis in 1981 weer na Naboomspruit en keer in 1995 finaal terug na Middelburg, waar hy vir hom en sy vrou ’n woonstel aanbou by sy dogter se huis.

Met sy terugkeer was hy nie meer ’n voltydse boukontrakteur nie, maar was net so besig soos voorheen.

Boukontrakteurs het hom by vele projekte betrek, waar hy moes help met van vloerlyste tot plafonne en deure hang.

As nutsman ken byna die hele dorp hom, want nie net het hy gehelp by huise nie, maar ook restourasiewerk van meubels vir mense gedoen.

Selfs by Laerskool Middelburg was hy ’n bekende gesig voordat hulle ’n voltydse nutsman gehad het.

Oom Freddie moes banke, stoele en rakke regmaak, asook ander nutsmanwerk doen.

Verder het hy gehelp met die vervang van die blokkiesvloer toe die koshuis in woonstelle omskep word. Hy moes selfs ’n onderwyser se bed regmaak, toe dié uitmekaar val.

Deesdae hou hy hom besig om werkies in en om die huis te doen en sy vrou in die tuin te help.

Oom Freddie se hande getuig van ’n man wat hard gewerk het in sy jare. Aan sy handewerk kan egter geen ouderdom gekoppel word nie met geboue soos die Witkerk wat sy stempel trots kan uitdra.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.