People

‘Van gee het niemand al ooit arm geword nie’

‘Van gee het niemand al ooit arm geword nie’

As dit kom by gee, is daar geen keer aan Annemarie van Heerden nie.

Die engel, soos die gemeenskap haar sal beskryf, is as ‘Uitblinker’ van die Mpumalanga-streek aangekondig deur Solidariteit Helpende Hand.

Annemarie is die voorsitter van Witbank-tak. Sy het betrokke geraak net voor die Highveld afleggings in eMalahleni. Die plaaslike tak het ingespring en eienaarskap geneem van die projek deur besighede en netwerke te mobiliseer vir skenkings – alles sodat 226 gesinne kospakkies kon ontvang oor ’n tydperk van drie maande.

Verder het sy voorgeloop met die beplanning en opening van die heel eerste Helpende Hand-gesondheidsentrum met die naam ‘Ons Spreekkamer’.

Sy het leiding hier geneem en vir ’n jaar lank saam gedroom en planne gemaak tot die fasiliteit op 1 April 2017 amptelike geopen is.

Sy is ’n ware ambassadeur vir Helpende Hand en as jy haar vra waar al hierdie moed vandaan kom om so betrokke te raak by die gemeenskap meen sy. “Ek het ’n lieflike pa gehad, Pieter Hugo, wat my lewensvoorbeeld was van toewyding, omgee, versorging en hulpverlening. Ek dink dit het maar daardeur wortel geskiet.

Daar was maar altyd ‘n persoon of ’n geleentheid op my pad, waartydens ek koshulp en bystand verleen het aan mense wat dit benodig het, nadat ek en my man ’n sopkombuis vir haweloses begin het by die gemeente waarin ons toe bedien het.

Daarna is ons genader deur Solidariteit Helpende Hand om ‘n tak in Witbank te heropen, en hierdeur het ons fokus verskuif,” het sy vertel.

Nie net is sy bekend as die vrou wat altyd bereid is om te gee in die gemeenskap nie, maar by die huis ’n mamma van twee kinders en twee kleinkinders waarop sy versot is.

“Die voorreg om elke weeksdag ook met hul te mag spandeer, kosbare weelde oomblikke van ouma oomblikkies te kan geniet met armpies wat om jou nek vleg en te hoor: “ouma, ek mis jou elke, elke dag”.

Dan is daar ‘n nuwe kleinpop om te voel koppie vryf in jou nek, ai… dit is ‘n genade oomblik nie te versmaai nie,” het sy opgewonde vertel.

Wat die lewe vir haar ’n lied maak is die lewensreis vol vriendskap en ondersteuning en die ongelooflike aanvaarding en liefde van haar man, verstom haar.

Ek lief musiek en geselsies, vriendinne wat uitbundig lag en koffie drink, my honde wat opgewonde rondspring elke liewe keer asof hul my die eerste keer vir die dag sien en die geleentheid om dalk my kleindogters te leer klavier speel en sing,” vertel sy sonder ophou.

Volgens die gemeenskap is daar geen einde aan haar nederigheid en gee nie en word sy as ’n leier geag.

Annemarie geniet kuns en het vrolik vertel, “ek het maar ‘n kunstenaarshart en het ‘n massiewe passie vir musiekmaak en sing. Ek was vir jare die Lof en Aanbiddingsleidster by ‘n plaaslike gemeente.

My gesin was nog altyd, selfs deur moeilike jare, vir my die hoofrede tot my bestaan en ek het die voorreg om ‘n besigheid te bedryf, Anjo’s Property Management Services tesame met my pragtige kinders, Chris-Mari en Nico de Klerk.”

As jy haar vra oor haar toekomsplanne sê sy, “dit borrel in my werklik soos daardie borrelkinderliedjie, as ek dink aan die toekoms. Ek is opgewonde en vol entoesiasme dat God ‘n nuwe wending vir ons Helpende Hand tak het in eMalahleni. Daar is vir seker ‘n nuwe gebeurtenis aan die kom, God lei en voeg vir ons lieflike dinamiese mense daagliks by wat ‘n proaktiewe dinamika aan ons Helpende Handtak bied. Ons kan nie net voedsel verskaf, of kleding, of komberse nie.

Opleiding moet gebeur vir opheffing en die toerusting van mense vir die toekoms met vaardigheidskennis en hulle moet vir volhoubaarheidsvoordele ontwikkel word.

As ons nou na ons kinders en jeug se denkwyses omsien kan ons ‘n vormende maatskaplike krisis binne die volgende 10 jaar voorkom…” het Annemarie uitgeblaker van blydskap.

Annemarie se hart en siel is Helpende Hand. Wanneer sy gee, gee sy denkend en pas deurentyd die “gee reg” beginsel toe.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.