Lifestyle

’n Dieetkundige met ’n passie vir mense

’n Dieetkundige met ’n passie vir mense

Om gesond te eet klink na ’n eenvoudige konsep, tog is dit een van die moeilikste dinge om volhoubaar te doen.

En soos wat jy vir enige fiksheidsentoesias wat met ’n sofapokkelfiguur sukkel kan vra – ’n plat maag begin in die kombuis.

Maar om gesonde eetgewoontes te handhaaf het nie net estetiese waarde (soos vir daardie beplande vakansie na Amanzimtoti) nie, dit beveg en bekamp ook verskeie siektes. Kortom laat dit jou net pleinweg beter oor jouself voel.

En dit is híér waar Chandré Prangley inkom…

Die 26-jarige dieetkundige se gesondeet-padkaart het haar van Durban na die Hoëveld en uiteindelik na Mosselbaai geneem. Sy vertel egter dat sy haar tyd in Middelburg nie sommer vir iets anders sal verruil nie.

Ná sy haar studies aan die Universiteit van Kwazulu-Natal en haar gemeenskapsdiensjaar in eMalahleni voltooi het, het sy in Middelburg by Midwell Dietitians begin werk.

“Ek het Middelburg baie geniet en dit is veral die mense wat van dit ’n ongelooflike spesiale dorp maak. Dis ’n gehegde gemeenskap wat baie vir mekaar omgee.”

Nes die Tolla van der Merwe-grappie, word daar soms net uit selfverdediging Engels op Middelburg gepraat.

“Ja-nee, jy kan dit weer sê,” stem sy laggend saam. “Ek het definitief geleer om beter Afrikaans te praat gedurende my tyd daar. ’n Durbaniet is mos eintlik verplig om oral Engels te praat, dus was dit vir my ’n splinternuwe kultuurervaring om in Middelburg te bly en te werk. Terselfdertyd het ek ook baie van my beroep geleer en besef dat dieetkunde sonder enige twyfel my passie is.”

Om ’n gesonde balans te handhaaf is een van die sleutels tot die lewe se sukses. En ten spyte van die feit dat die meeste van ons gereeld dié sleutels taamlik gerieflik misplaas, stem Chandré 100% met dié stelling saam.

“Altyd wanneer ek oor my eetgewoontes uitgevra word, is my antwoord ’n eenvoudige ‘daar moet ’n balans wees’.

Dit is bloot ’n veilige stelling, ja, maar ek probeer werklik om ’n gesonde lewenstyl te handhaaf in terme van gesonde eetgewoontes, gereelde oefening, sowel as genoeg slaap. Maar ek sal beslis ’n soetding en ’n rooiwyntjie so nou-en-dan geniet! Balans is nodig in alle aspekte van mens se lewe.”

Dus al eet sy dan van jongs af gesond – “ek glo dit is definitief te danke aan my ouers wat my reg geleer het toe ek self nog nie van beter geweet het nie” – is daar tog ’n sondehappie of twee waarvan sy dan hou?

“Ek is ’n gróót soettand, dus is sjokolade (of enige iets wat sjokolade bevat) hoog op my prioriteitslys! Dan is ek ook mal oor ’n goeie pasta of ’n pizza.”

Natuurlik is daar ook tyd om die harde vraag te vra… hoe gesond eet Middelburgers?

“Die stelling ‘gesond eet’ is taamlik wyd. Oor die algemeen glo ek die meeste van ons nie so gesond eet as wat ons veronderstel is om te eet nie. Dit is hoofsaaklik weens ons gejaagde lewens, hoë stresvlakke en dan die gepaardgaande lae aktiwiteitsvlakke. Ek sonder nie Middelburgers uit nie, dit is deesdae oral so.”

Soos reeds genoem werk sy nou in Mosselbaai.

“Ek is tans ’n dieetkundige by M-Bay Dietitians en die privaathospitaal hier. Die hoofrede vir my skuif na die Wes-Kaap is omdat my gesin nou hier woon. En jy wil tog naby jou mense wees.”

Hulle sê mos ’n appel per dag laat ’n doktersbesoek wag. Chandré Prangley is egter mooi, vriendelik en kundig genoeg om toe te sien dat jy nie nét die appel eet nie, maar die besoek óók waag. Sommer lag-lag.

 

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.