Entertainment

Mosambiek – ’n paradys op ons voorstoep

Mosambiek – ’n paradys op ons voorstoep

Almal droom van ’n eilandvakansie. Een met spierwit strande, palmbome en helderkleurige hout vissersbootjies wat op ’n helderblou see rond dobber.

Met die rand wat wipplank ry, die petrolprys wat styg en al hoe meer gate wat toegestop moet word, dink baie dat dit net vir die ryk en beroemdes beskore is. Daar is goeie nuus! Mosambiek wink vir jou.

Die land lê soos ’n onontdekte juweel en wag, met vriendelike glimlagte en spierwit strande, en as jou tydsberekening goed is, spotgoedkoop verblyf.

Ek was onlangs deel van ’n groep van vier wat die land in ’n dubbelkajuitbakkie aangedurf het. My wildste drome is oortref.

Ons het vroeg die oggend (03:30) uit Middelburg weggespring en was kort na sonopkoms by die Lebombo grenspos.

Nadat ons die bakkie vol brandstof gegooi en ’n koffie gedrink het, het ons die grenspos aangedurf. Dinge by die grens kan nogal oorweldigend wees. Dit is ’n miernes van bedrywighede, selfs so vroeg in die oggend. Ek was gelukkig om saam met iemand te gaan wat Mosambiek gereeld besoek.

Moenie jou steur aan die mense wat op jou toesak as jy uit jou voertuig klim nie. Moet ook nie by hulle geld ruil nie. Gaan klop aan by een van die kantoortjies vir leiding. Ons het met ’n baie bekwame man gewerk.

Hy het selfs ingestem dat ek iemand van buite af innooi om in sy kantoor te kom Meticas ruil, omdat die man my ’n beter wisselkoers aangebied het. Die man het vinnig sy storie verander toe hy in die kantoor voor bekwame oë die geldruiling moes doen.

Omdat ons vroeg by die grens was, is ons paspoorte blitsvinnig gestempel en ons was weer op pad, eindbestemming Inhassoro (so 1 100 km van Middelburg af).

Maak jou reg vir lank ry, en wees geduldig. Sorg dat elke persoon in die voertuig ’n reflektorbeffie het en hang een oor elke sitplek. Moenie dink omdat jy nou in Mosambiek is, kan jy maar ’n bier oopmaak om die vakansie te begin vier nie. Wag liewer vir jou eindbestemming.

Hou by die spoedgrens en hou jou sitplekgordel vas.

Alhoewel ons met ’n lelike grondpad ’n gedeelte van die hoofweg en die besige Maputo uitgesny het, kan jy met ’n kar tot in Inhassoro ry as jy op die hoofpad bly. Die pad is vir 90 % van die tyd so mooi soos ons N11 (die Groblersdalpad). As jy deur Maputo ry, is daar heelwat tolhekke en verkeerskonstabels. Die verkeer kan ook besig raak.

Onthou dat Mosambiekse verkeerskonstabels se inkomste hoofsaaklik van boetes gemaak word. En hulle is dag en nag op hul pos. So hou by die verkeersreëls.

Doen jouself ’n guns en leer ’n paar frases Portugees aan. So het ’n verkeersman ons afgetrek toe ons skaars Mosambiek in is. Hy het aangedring dat die twee mans, wat voor gesit het, met mekaar in Portugees praat en hulle entoesiasties geleer wat om vir mekaar te sê. Na die klein konsertjie, tot groot vermaak van ons vrouens agterin, kon ons weer verder ry.

Die pad is mooi, maar die spoedgrens verander kort-kort. Tussen dorpies ry jy 100, dan skielik 80 en dan 60, en daar is baie dorpies. Elke paar kilometer moet jy spoed verminder. Doen dit maar.

As jy afgetrek word (ons is net twee maal afgetrek, die een keer moes ons Portugees praat en die ander keer het die man geskimp vir koeldrank), wees vriendelik en nederig. Ons het nie een boete gekry nie.

In Maxixe, het ons gestop en weer brandstof ingegooi. Daar was ’n KFC om kos te koop. Oral in Mosambiek sien jy winkels met die naam Handling. Hier het ons koeldranke en 250 ml bierbotteltjies gekoop. Jy moet ongelukkig in grootmaat koop, maar dit bly die moeite werd.

Die rit was lank, ons het bykans 15 ure geneem om ons bestemming te bereik. Baie mense kies om halfpad te slaap. Ons toerleier slaap gewoonlik oor by East African Safaris. Dit is naby Xai-Xai so 250 km van Maputo af.

As jy Mosambiek met ’n kar aandurf, reël vooraf met die lodge eienaar om jou kar êrens langs die pad te los. Die paadjies na die lodges is dikwels sanderig.

Inhassoro was hemels en beslis die lang rit werd, met tonele wat op ’n poskaart hoort. Om alles te kroon is daar heelwat Suid-Afrikaners en selfs Middelburgers om mee saam te kuier.

Ons het by Dugong Lodge geslaap. Dit het R300 per nag per persoon gekos. Daarvoor kry jy ’n heerlike woonstel met lugversorging. Die lodge het ’n reuse ysmasjien waar jy jou koelbokse na hartelus kan volmaak. Vir omtrent R150 per dag (afhangende van die wisselkoers) kon ons ons eie sjef hê.

Ons het heerlik in die swembad gekuier wat op die strand uitkyk. Die swembad is meestal in die koelte van groot bome so jy kan heeldag daar vir die tropiese hitte wegkruip.

Vir R600 per persoon kan jy met ’n bootjie na Paradise Island ry en daar snorkel en seekos eet. Die bekende Survivor reeks is daar geskiet.

Daar is ook bote beskikbaar vir diepsee hengel.

Ek noem net die plekke waar ons aangegaan het, maar daar is so baie mooi plekke, die beste manier is eintlik om op die strand te gaan stap tot jy iets sien wat vir jou mooi is en dan daar te gaan vra of hulle verblyf beskikbaar het.

Middagete was by Brisa Mar wat aan ’n plaaslike sakeman behoort en heerlik gekuier by Middelburger Hendry van Tonder se plek, Pensoa Inhassoro. Ook hier het gaste hul eie sjef gehad en lugversorgde kamers.

Drink maar jou malaria pille vooraf. Ons het in Mosambiek by ’n apteek (’n Farmacia) ook pille gekry wat jy na die tyd kan drink as jy voel jy word siek. Jy kry ook malaria toetse te koop.

’n Goedkoop maar doeltreffende muskietweerder is om Dettol en babaolie om die helfde te meng in ’n spuitbotteltjie en dan ’n skoot sitronella olie daarby te meng. Dit het baie goed gewerk.

Op pad terug van Inhassoro het ons by Canda Island (naby Xai-Xai) gaan bly vir ’n paar dae. Om daar uit te kom het jy beslis ’n viertrek voertuig nodig. Jy ry deur vlak mere, oor ’n houtbrug en jaag teen ’n duin op.

Skielik kyk jy uit op die see met pragtige houthuisies, afgesonder van die wêreld. Waar Inhassoro meer aan ’n eiland herinner, is Canda ongerep.

By Canda het ons ook R300 per persoon per nag betaal vir ’n luukse tweeslaapkamer grasdak hut wat op die see uitkyk. ’n Rif so 100 meter in die see in maak ’n pragtige baai waar kinders kan baljaar. Dit is die ideale plek om met ’n boot uit te gaan omdat die rif die groter en gevaarlike golwe keer. ’n Gaping in die rif, waardeur jy tot in die diepsee ry, word met ’n ellelange paal op die strand gemerk.

Mosambiek is ’n land vol geleenthede. Ek voorspel dat toerisme in die toekoms baie gaan toeneem, so gaan nou, voor die pryse as gevolg van die toenemende aanvraag, styg.

Alhoewel daar politieke konflik in die land is, is die Inhambane provinsie, onder die Save Rivier veilig om te besoek. Almal met wie ek gepraat het sê Mosambiek se nuwe president is passievol oor toerisme. Daar is ook sprake van ’n nuwe hoofweg wat van Phalaborwa na Inhambane gebou gaan word. Dit sal veroorsaak dat die land, en veral die meer tropiese strande, nog makliker bereik kan word.

Gaan sluit gerus by die DriveMoz Facebook groep aan. Daar is ’n klomp ervare reisigers wat kan help met navrae en stringe dokumente wat jy kan aflaai om te help met jou reis en jou voertuie se papierwerk.

Al die plekke wat ek hier bo genoem het, het webtuistes en Facebook blaaie vir meer inligting en hul kontakbesonderhede.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.