Fashion & beauty

Inspirerende Denise nou smeulend

Inspirerende Denise nou smeulend

Almal het ’n fiksheidstorie. En Middelburg se Denise Roux sorg sonder twyfel vir ’n lekkerleesverhaal met inspirerende hoofstukke van begin tot einde.

Die 35-jarige ma vertel dat sy dit eers drie jaar gelede gewaag het om by Virgin Active aan te sluit. Maar soos enige skrywer wat sy sout werd is jou sal vertel, is die sleutel tot ’n blitsverkoper soms doodeenvoudig: jy moet net begin.

“Ek het destyds foto’s van myself op my seun se eerste verjaardag gesien. Ek was oorgewig en baie sieklik – ek het onder andere met slaap-apnee gesukkel. Kortom: ek was glád nie gesond nie en moes ’n plan maak.”

Hoewel die gimnasium aanvanklik ’n baie intimiderende plek was – “ek het nie eens geweet waar om die trapmeul aan te skakel nie” – het sy volhard en in die proses ’n verstommende 55 kilogram verloor!

“Ek het maar die internet gebruik om myself touwys te maak oor die verskillende oefeninge en myself só geleer.”

Vandag oefen sy vir ses dae per week (oggend én aand) en is een van die meer bekende en vriendelike gesigte in die gimnasium. O ja, sy was onlangs derde in haar kategorie tydens haar debuut op die fiksheidsloopplank by die Millennium Gold Plate-kompetisie in Kemptonpark!

Was sy op haar senuwees gedurende dié kompetisie?

“Ja, kwaai! Ek is ’n Namakwalandse meisie en was maar lekker skaam – veral gedurende die loopgedeelte. Jy moet letterlik soos ’n skouperd loop en ek moes dit baie vooraf geoefen het!” vertel sy met ’n groot glimlag.

Haar fiksheidpad het egter nie net voordele vir haarself ingehou nie, sy dien ook as inspirasie vir ander.

“Daar is sóveel mense wat daagliks na my kom en sê dat hulle nie kan glo hoe ek ’n paar jaar gelede gelyk het nie. Die belangrikste is dat jy net geniet wat jy doen – jy kan immers enige tyd begin skaaf aan die nuwe jy!”

Denise het van die meer indrukwekkende bo-beenspiere in die gimnasium en dit is nie snaaks dat beenoefeninge haar gunsteling is nie. (Haar oefenprogram verskyn onderaan die artikel).

“Ek wil nog vir baie jare oefen. Jy voel net sóveel jonger en gesonder.”

Een ding is seker: Denise Roux se fiksheidhoofstukke sal nog vir hope inspirasie sorg. En sy skryf dit met ’n reuse en vriendelike glimlag.

• Denise se beenoefendag. (Verskoon die Engels…om een of ander rede klink “squat” net soveel beter as “hurk”!)

* Roei vir vyf minute om op te warm.

* Four sets of 20 walking lunges; alternating with four sets of sumo squats.

* Four sets of 20 wide leg jump squats; alternating with four sets of curtsy lunges.

* Four sets of 20 Bulgarian split squats; alternating with four sets of narrow squats.

* Four sets of 10 one legged deadlifts with a dumbell; alternating with four sets of 20 glute bridges.

* Four sets of 12 lying leg curls.

* Four sets of 12 calve raises.

* Four sets of 20 stiff-legged deadlifts.

• Sy het ook ’n Facebook-blad – Denise Roux From Fat to Fit – wat jy kan volg.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.