Lifestyle

Dominee geniet adrenalien van boogjag

Dominee geniet adrenalien van boogjag

As dominee Anton Kemp nie besig is met sy leraarspligte by die Witkerk nie, vat hy graag ’n blaaskans om met sy boog ’n bok of twee plat te trek.

Met die jare se boogjag was daar gevaarlike oomblikke ook, soos die keer wat ’n buffel hom gegaffel en hy 10 dae in die hospitaal beland het.

Maar hierdie staaltjies sal later vertel word. Eerste dinge eerste met hoe alles begin het.

Ds. Kemp vertel dat hy al 19 jaar jag en dat hy die eerste twee jaar meer net teiken geskiet het. Hy het aanvanklik ook net met jaggewere geskiet, totdat die boogjaggogga hom aan die begin van die nuwe millenium gebyt het.

Die eerste bok wat hy met sy pyl en boog platgetrek het, was ’n rooibok en het hy sedertdien al ’n totaal van 151 bokke met die boog gejag! Hy sê sy gunstelingbok om te skiet is ’n Blouwildebees en aan die hand van foto’s wys hy trots sy trofeë.

Hy gebruik ’n Matthews Z7 boog, “want dit is ’n lekker stil boog.”

Deur die jare het hy kruis en dwars in die Bosveld gejag in veral die Musina omgewing en selfs ook in Zimbabwe.

“Die boogjag bring jou so naby aan die natuur…” en hy val weg met staaltjies wat min ander grootwildjagters hom sal kan nadoen.

Hy onthou die buffelaanval van sowat ses jaar gelede soos gister.

Ds. Kemp het ’n vriend vergesel wat Amerikaners uitgevat het vir ’n jagsessie sowat 100 km oos van Musina.

Een van die Amerikaners het ’n buffel gekwes en ds. Kemp is saam met die span, waaronder die spoorsnyers, die veld in om die dier te vind.

Die buffel het hom gekies as sy prooi.

“Terwyl sy kop so naby aan my was, terwyl hy oor my gebuk en my gegaffel het, het ek die moord in sy oë gesien. Dit was bloedrooi.”

Hy sê mense het hom later gevra waaraan hy gedink het terwyl die aanval besig was. “Baie mense sê hulle wil graag op ’n plek sterf waar hulle gelukkig is, soos in die jagveld. Ek het egter net die hele tyd gedink: ‘ek wil nie só doodgaan nie.”

Sy vriend, Gerrit Kleinhouse, het die buffel bo-op hom doodgeskiet. Ds. Kemp het vyf ribbes aan die voorkant van sy borskas gebreek, asook vyf agter waar die kraakbeen aan die rugstring vasmaak. Hy het ook beserings aan sy lewer en milt opgedoen en moes ’n operasie ondergaan.

Ds. Kemp sê mnr. Kleinhouse, met wie hy nog al die jare bevriend was, is vroeër vanjaar oorlede en dat hy die begrafnis hanteer het.

Sy jongste seun, FC (21), jag graag saam met die boog en hulle twee het al twee keer noue ontkomings gehad.

Soos die keer wat hulle in ’n skuiling gesit het en ’n buffel by die skuiling probeer inbreek het. Die dier was só naby dat hy hom ’n paar keer met die pyl gesteek het, maar hy het nie geval nie en hulle moes hom met die 30.06 jaggeweer doodskiet.

Met ’n jagsessie in Tshipise het hy en FC in ’n skuiling gesit, toe hulle deur die gate in die skuiling twee mans, wat kapmesse en wapens gedra het, na hulle aangestap kom.

Die wildstropers was onbewus daarvan dat hulle daarbinne sit en het die skuiling oopgemaak. Hulle het gelukkig vir ds. Kemp en sy seun geskrik en weggehardloop.

Dan was daar die keer wat hy ’n tandarts vergesel het na Zimbabwe om ’n leeu te gaan jag (darem nié met die boog nie!). Die leeu het probleme in die area veroorsaak en daar is gevra dat hy geskiet word.

Ds. Kemp sê hulle het vanuit hul skuiling die leeu gelok met luidsprekers wat die klank van ’n bronstige leeuwyfie namaak.

Die leeu was geweldig vinnig daar en hulle het hom sowat ’n uur vanuit die skuiling dopgehou. Die dier was op ’n stadium ongemaklik naby aan hulle. “Ek het naderhand vir die tandarts gesê: ‘As jy hom nie nou skiet nie, dan skiet ek jou!”

Hy onthou ook die keer toe hy gevra is om ’n kameelperd te gaan skiet, wat ’n strik om sy been gehad het en weens die beserings aan sy been van kant gemaak moes word.

Ds. Kemp sê die plan was om hom met die boog te skiet en hy het reeds aangelê om te skiet, terwyl sy seun oor sy skouer sê: “Skiet pa! skiet pa!”

Hy het egter die boog laat sak en sy 3.75 geweer gevat en hom doodgeskiet. “Die dier het klaar genoeg gely en en was bang ek kwes hom. Dit is hoekom ek hom eerder die doodskoot met die geweer gegee het.”

Wat hom so trek na boogjag is die uitdaging van die voorbereiding en uitoorlê van die dier en dan die feit dat jy baie naby aan die dier moet kom. Hy glo ’n veilige afstand om ’n bok met die boog te klits is sowat 30 m.

Hy sou graag by die plaaslike boogklub wou aansluit, maar sy pligte as leraar hou hom te besig in die week om by hul aandsessies uit te kom.

Ds. Kemp het voorheen aan ’n klub behoort en sê hy hou van die kameraderie tussen die boogjagters.
Hy het nog nie vanjaar ’n bokkie platgetrek nie en sodra die geleentheid hom voordoen, gaan hy beslis wegbreek om agter sy boog in te skuif.

• Ds. Kemp se ouer seun, Waldo, jag ook graag, maar sy gunsteling wapen is ’n geweer..

Hulle almal hou daarvan om saam te gaan jag, maar FC studeer tans in Port Elizabeth en Waldo is ’n operasionele bestuurder by ’n besigheid in PE en dit maak gereelde jagsessies ietwat moeilik.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.