Fashion & beauty

Woordeloos laat Chicco drome waar kom

Woordeloos laat Chicco drome waar kom

Chicco Barreto is doof. Hy kommunikeer met vingertaal en handgebare en al kan hy nie hoor nie hy sien hoe ’n bruid se oë ophelder as sy haar trourok die eerste keer sien.

“Dis wanneer tyd vir my stilstaan,” het die 35-jarige rokontwerper met sy hande vertel.

In die agtergrond het die bome hul somersklere begin afskud en Chicco het opgewonde verduidelik dat die diep aardse oranje, bruin en roeskleure hom inspireer net soos bruide die kunstenaar in hom na vore bring.

“Bruid, jy is pragtig en uniek. Ek kyk eers na die bruid se persoonlikheid, dan neem my ontwerp vorm aan.”

Hy raak ernstig wanneer hy benadruk dat die trourok presies moet wees wat die bruid altyd oor gedroom het, maar in ag geneem dat dit bekostigbaar is en hoe dit haar lyf sal komplimenteer.

Om ’n trourok te gaan soek is die opwindende deel van die beplanning. Maar wanneer ma, skoonma, ouma en tannies saamgaan om te gaan kies kan die bruid heeltemal oorweldig voel. Dis wanneer hulle dan besluite neem waaroor hulle ongelukkig is.

“Dis  belangrik dat jy gemaklik is op jou troudag en tevrede is elke keer as jy na jou troufoto’s kyk.”

Chicco besef dat hy verantwoordelik is vir elke klein-dogtertjie droom.

Elke troue bly spesiaal. Alles móét perfek wees van die kerk tot die onthaal en alles tussenin.

“Die trourok is sekerlik die belangrikste. Ons weet mos almal hoeveel dae en ure daaraan spandeer word wanneer dit by die meet en pas daarvan kom.

“Tot op hede ontwerp ek al my patrone met die hand. Ek hou daarvan om verder te leer en só pak ek nou ’n kursus aan om al my patrone, spesifiek tot elke kliënt digitaal te skep en manipuleer en ten einde dit te kan druk. Dit sal my ontwerpsproses versnel en die bruid kan sommer daar en dan uiting gee aan haar verbeelding.”

Die mode-wiel draai elke dag en op die loopplanke van bekende modehuise word die volgende tema vir elke seisoen ten toon gestel.

Chicco se raad aan bruide is, “Ek sal ons nuwe bruide aanraai om mooi te beplan rondom hul proporsie en liggaamsbou.

Verskeie style, soos die ‘meermin styl’ en ‘A-lyn silhoeëtte is pragtig met sagte kantwerk in room, ivoor en wit palette.

Country en Western temas is populêr en denim materiaal word op die sagte wit satyn aangebring.”

Oor nog ’n koppie warm Milo neem die gesprek ’n ander rigting in en Chicco verduidelik dat beplanning die sukses agter enige trourok-soektog is.

“Dit is vir die bruid belangrik om te hoor wat ander van haar rok dink. Ek stel voor sy neem net die opinies van mense wie se opinies werklik saak maak. Hou in gedagte dat jy moet besef ’n warm rok gaan jou laat sweet en jou grimering soos ’n ‘train-smash’ laat lyk op ’n heerlike warm somersdag. So ook wil jy nie bibber en beef op ’n yskoue winterdag nie.

Moet nie te veel rokke aanpas nie! Dit sal jou net deurmekaar maak. Kry ’n styl waarvan jy hou en wat jou figuur pas en soek daarvolgens. Moet nie meer as 10 rokke aanpas nie.”

Chicco is nie ’n nuweling op die modelloopplank nie. Hy het modelwerk op skool gedoen en sy eerste modeparade op 14-jarige ouderdom gehou.

Ons vergeet dikwels hoe stresvol die beplanning van ’n troue kan wees. Vir elke bruid het ek ’n boodskap, “Ontspan en omhels die vreugde en trane van die dag. Graveer elke oomblik van hierdie mooi dag in jou geheue. Wees die prinses waarvan jy kleindogtertjie tyd gedroom het.”

Chicco is doof gebore en het eers op 15-jarige ouderdom begin met spraaklesse.

Met of sonder woorde en klanke maak Chicco ’n verskil in duisende bruide se lewens wat toustaan om een van sy ontwerpe te dra op hul spesiale dag.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.