Lifestyle

Michelle sprei haar vlerke

Michelle sprei haar vlerke

Sy het nie gedroom daarvan om eendag lugwaardin te word nie, maar sy lééf nou midde-in ’n droom terwyl sy die hele wêreld boonop sien!

Ontmoet Michelle Oosthuizen (27), lugwaardin by die Emirates Lugredery. ’n Oudleerling van HTS Middelburg wat ’n kans aangegryp het met albei haar hande en elke oomblik daarvan geniet.

Terwyl sy vir ’n paar dae by haar ouers, Oosie en Lisette Oosthuizen op Middelburg kuier, ruim sy ’n tydjie in om van haar wedervaringe vir die Get It te vertel.

Sy het ná skool aan Tukkies gaan studeer waar sy haar graad in Bcom Menslike Hulpbronnebestuur verwerf het.
Daarna het sy ’n goeie pos beklee by ’n myn in die omgewing.

Haar idee om ’n nuwe uitdaging aan te pak, het gekom toe haar vriendin, Christie Bester (oudleerling van Hoërskool Middelburg) vir haar foto’s gestuur het van ’n tropiese eiland.

Christi het op daardie stadium vir Emirates gewerk en Michelle was gaande oor wat Christi te vertel gehad het.

In Desember 2015 het sy aanlyn aansoek gedoen en binne ’n paar dae is sy laat weet dat sy een van die kandidate is vir ’n onderhoud.

Tydens die opedag was hulle 160 kandidate en Michelle was verstom toe sy verneem dat sy een van 20 meisies is wat gekies is om by die lugredery te gaan werk.

Op 3 Maart het sy gehoor sy moet by Emirates begin en ’n maand later was sy op die vlug op pad na haar nuwe lewe.

Na ’n intensiewe opleidingsproses van ’n paar weke, was haar eerste vlug in Junie 2016 na Nairobi (Kenia).

Van daar af kan sy nie die presiese volgorde van vlugte onthou nie, want daar is net te veel om op te noem!

Sy loer vinnig na die Toep (App) op haar foon en sê elke keer as sy na ’n ander land vlieg, dan teken sy dit aan. “Ek het nou maar nog net 19% van die wêreld gesien!” sê sy laggend.

Dit was moeilik om te kies watter haar gunsteling plekke was, want daar is net te veel wat op haar ’n indruk gemaak het.

Daar is Nice in Frankryk en natuurlik Monaco waar sy in die Monaco Hotel op die French Riviera gebly het!

Die operahuis in Syndey was ’n ongelooglike ervaring en wie sal vergeet hoe vriendelik Singapoer se mense is en hoe skoon dit daar is!

En die besoek aan NASA sal altyd in haar gedagtes bly vassteek.

Sy probeer in elke land iets eet wat eie is aan daardie land. Soos die skerpioen in Bangkok, wat glad toe nie so sleg was nie.

En “almal weet van Brussels se mossels en wafels!”

Michelle sê haar eerste lang vlug was vroeg hierdie jaar in Maart met ’n 16-ure vlug na Houston.

Sy was aangenaam verras toe sy vier Suid-Afrikaners (almal van één familie) op dié vlug raakloop wat vanaf Delmas (Mpumalanga) op pad was na ’n beesskou in Houston!

Michelle is mal oor haar werk en sê sy voel elke keer soos ’n “celebrity” as sy op pad is na die vliegtuig of wanneer hulle afklim. Baie toeriste neem foto’s van die kajuitpersoneel, omdat hulle klere so netjies en indrukwekkend is.

Sy is dan ook baie trots op haar uitrusting met sy rooi hoedjie en skoene en die res roomkleurig.

Die roomkleurig verteenwoordig die sandkleur van die land met sy baie woestyne. Die sewe plooitjies van die shiffonsjaal wat aan die hoedjie vas is en om haar nek gedrappeer word, verteenwoordig die sewe state van die UAE (United Arab Emirates).

Michelle sê sy hou van beide die vliegtuie waar sy deel van die kajuitpersoneel is. Daar is die A380 Airbus en die Boeing 777. Al waarvan sy so ’n bietjie méér hou van die Boeing 777 is die feit dat hy kleiner is as die Airbus en dit vir haar lekker is om al haar mede-kajuitpersoneel te ken, omdat hulle minder is.

Sy sal beslis meisies wat daarvan droom om eendag ’n lugwaardin te word, aanraai om hul droom na te streef.

Dit is nie net maanskyn en rose nie, want hulle werk láng ure, passasiers is soms moeilik en jy kry beslis nooit aan boord tyd om rustig met ’n boek te gaan sit nie!

“As jy egter bereid is om hárd te werk, is jou pad oop om nie net jou passie as lugwaardin uit te leef nie, maar sommer ook die wêreld te sien.”

Michelle sê dié woorde van ’n goeie vriend, som beslis haar werk op: “If you love the job you do, you will never work a day in your life!”

Sy hoop om eendag op een van haar vlugte ’n Middelburger raak te loop, dat sy dalk in Afrikaans dié woorde, wat oral op uithangborde om die lughawe staan, met hulle kan deel: “Emirates: 125 Destinations. A warm welcome, in over a 100 languages!”

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.