Décor & Gardening

Haal die ‘traumaties’ uit jou troukoek uit

Haal die ‘traumaties’ uit jou troukoek uit

Ouers is gevra en die ja-woord is gegee, Nou begin die bruid in alle erns droom oor haar trourok en die troukoek.

Get It het by die bekende bakker, Werner Nienaber gaan inloer en gesels oor troukoeke, nuwe modegiere en wat die bruid moet onthou as sy haar troukoek bestel.

Troues word al van antieke tye af met ’n spesiale koek herdenk. Vir goeie geluk het die Romeine koek oor die bruid se kop gebreek. Die gaste het krummels huis toe geneem vir hul eie geluk. Dié krummels het later konfetti geword.

Die afgelope paar dekades het troukoeke meer informeel geword en kontemporêre troukoeke word verpersoonlik in alle kleure, geure en vorms. Die belangrikste is dat dit smullekker moet wees.

Werner se oë het opgekreukel toe hy vertel dat een van die bruide ’n koeklaag van elke geur moes maak om ’n familietwis te voorkom.

“Dis my ervaring dat ma’s, skoonma’s en bruide soms mekaar verkeerd kan verstaan. Dit is ‘n ope vraag wie die finale besluitnemer van die koek geure is.”

Werner bly op hoogte van die nuutste modeneigings en het gesê hedendaagse bruide verkies koeke met ’n meer ‘vintage’ gevoel en soortgelyke temas.

“Dan is die ‘Country-feel’ met hessian, denim en sagte kantwerk ook baie gewild.

Net soos die bruid en die bruidegom en hul ouers is die bakker net so onder stres voor die koek afgelewer moet word, enige iets kan verkeerd gaan en dan is weke se handewerk daarmee heen.

“Die mees uitdagendste koek van my loopbaan was ’n sewe-laag silwer en wit troukoek met delikate kantwerk. Ek het die koek ook toe vervoer na Groblersdal met baie uitdagings op die pad.”

Volgens Werner is dit ook baie belangrik om jou koek reg ten toon te stel.

“Die belangrikste deel van die koek is wanneer dit in ’n ongelooflik manier vertoon word. Op ’n klein tafel in die middel van die dansbaan is ’n goeie idee. Skyf net die tafel eenkant wanneer die dansbaan geopen word. Belig die koek mooi en praat met die klank en beligtingsmaatskappy vooraf om te besluit hoe dit gedoen gaan word. Onthou om jou troukoek deel te maak van die gevoel van jou troue en maak dit ’n kunswerk. Almal sal praat daaroor vir ’n paar jaar.”

Behalwe dat hy ’n bakker van formaat is, is Werner ook ’n fiksheidinstrukteur en fokus hy ook op sportmasseringsterapie.

Al tower hy die mooiste troukoeke op, is hyself baie streng op sy eie eetgewoontes.

“Ek spandeer baie tyd in die gimnasium en berei my etes reeds Sondae voor vir die week wat voorlê. Jy is wat jy eet.”

Hy het tot onlangs sportmasseringsterapie toegepas by skoonheidsalonne, maar gaan nou pasiënte se huise toe om massering in ‘n gemaklike omgewing te doen.

Werner is hier in eMalahleni gebore en het by Laerskool Panorama en later by Hoërskool Generaal Hertzog skoolgegaan.

Hy het grootgeword in ’n huis waar albei sy ouers troukoeke gebak het en wou van kleins af hand bysit as hulle troukoeke versier het.

Werner se eerste koek het hy op agtjarige ouderdom gebak, met hulp van sy ma natuurlik.

“Ek wou ook die rosies en kantwerk uit fondant maak en kon ure kyk hoe hul dit doen. Ek wou altyd so goed soos hulle wees en het begin in hoërskool met hotelhouding en spyseniering. My eerste troukoek het ek op die ouderdom van 17 gemaak en dit was ‘n reënboog koek met fondant, handgemaakte rose met kantwerk and satyn lint. Dit was my vuurdoop en het sedertdien omtrent 150 troukoeke al gemaak.”

“In Engeland het ek by die Koninklike Lugmag (RAF) gewerk en moes ek alle stoppe uittrek om aan my hoof sjef te bewys dat hierdie Suid-Afrikaner sy land kan trots maak met kook en bak. Ek het van daar af nog nie ophou bak nie.”

Vir Werner is die koeke wat hy bak, nie net nog ’n koek nie. Hy werk saam met die bruid en bruidegom en ontwerp vir hulle ’n oorspronklike en pragtige eetbare meesterstuk wat hul persoonlikheid en unieke styl weerspieël.

 

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.