Fashion & beauty

Skoonheid is deel van elke vrou se lewensreis

Skoonheid is deel van elke vrou se lewensreis

Grimering is ons voorreg. Party vroue oordoen dit en steek hulself onder die lae grimering weg, terwyl met die nodige fynere kunsies jy soos ’n model uit ’n modetydskrif kan stap.

Die gesig wat soveel advertensieborde by Highveld Mall versier, het by Get It kom kuier en meer kom vertel oor haar passie vir grimering en ook skoonheidswenke met ons lesers kom deel.

Vernonique Vorster weet wat sy doen en daarvan kan haar getuigskrif getuig. Veronique het ure se studeer agter die rug en het diplomas verwerf in onder andere professionele grimering, bruids-, dag- en aand grimering, grimering vir fotografiese doeleindes en ‘airbrush’ grimering en ook grimering vir spesiale effekte, soos verhoogkuns.

Sy het die huidige Mev. Suid-Afrika, Hlengiwe Twala, en die eerste prinses, Olwethu Leshabane, onder hande gehad en hul grimering vir die groot kroningsaand gedoen.

“Ek was deur Sormé Cosmetics gekies om die twee pragtige dames te grimeer. Dìe ondervinding het my lewe op soveel maniere verander. Ek het ongelooflike mense ontmoet en met die mees inspirerende vroue gewerk.”

Sy het met ’n glinster in haar oog gefluister dat sy die enigste grimeerkunstenaar van Mpumalanga was wat die kans gegun was om die skoonhede nog mooier te laat lyk.

“Ek besef dat die geleentheid is reguit uit die Vader se hand is en daarvoor is ek ongelooflik dankbaar! Ek het in die tydperk wat ek met hul gewerk het soveel geleer en gegroei! Dit was vir seker ’n droom wat waar geword het,” het sy nederig gesê.

Maar hoe het sy op die groot advertensieborde beland en die gesig van Highveld Mall geword?

Veronique kon skaars stilsit toe sy die vraag beantwoord, “Ek en die bekende fotograaf, Mandy Klopper het besluit om ’n projek saam aan te pak! Die projek se doel is om ons altwee se besighede te bemark.

Ek was natuurlik die model en sy as fotograaf het die mooiste asem-wegslaan-foto’s geneem. Die foto’s weerspieël die werk wat ons doen en tot wat ons in staat is om te verrig.

Die foto’s wat ons vir bemarking gebruik het, is deur Highveld Mall raakgesien en so het my gesig op die groot advertensieborde verskyn.”

Die stukkie prag-vrou loop oor van entoesiasme as sy oor grimering begin gesels.

“Vergeet van duur operasies. Met oulike grimeerkunsies kan jy blitsig 10 jaar jonger lyk,” het sy gesê en deel van haar geheime.

Geen vrou se vel lyk elke dag dieselfde nie. Soms sal dit lieflik sag en glad voel; net om die volgende dag weer effens droog te wees. Merkies en probleemareas op jou vel hang van baie faktore af. Van die skommelings in jou hormoonvlakke, die weer, wat jy eet en ook die produkte wat jy gebruik, het ’n invloed op jou vel se voorkoms.

’n Foutlose voorkoms is slegs moontlik as jy jou vel reg voorberei voor jy grimering aansit.

Oor onderlaag kan sy ure gesels en het dit gelukkig in ’n paragraaf saamgevat toe sy vertel is, sy het net ’n beperkte spasie in die tydskrif tot haar beskikking.

“Daaglikse grimering moet sag en natuurlik lyk. Grimering wat reg aangewend word kan jare van jou gesig af haal en jou sommer baie vinnig laat jonger lyk. ’n Ligte onderlaag of ’n BB-room (Beauty Balm of Blemish Balm) is ’n moet! Dié rome bevog, dien ook as basislaag wat die vel se tekstuur verglad, dit  beskerm teen sonskade, verbloem merkies en is einde ten laaste ook ‘n onderlaag. Moenie verbloemer vergeet,om enige ongewenste merkies toe te maak nie.

Gebruik ook gerus ’n poeier wat een skakering ligter is as jou eie kleur.

Om die regte kleur onderlaag vir jou vel te kies is die belangrikste faktor voor ons begin, dis die fondasie van jou grimering.

Stel vas wat is die ondertoon van jou velkleur voor jy op ’n inkopietog gaan. By kosmetiese afdelings sal die personeel jou help om die regte onderlaag te kies.”

Natuurlik het wenkbroue ook gou ’n besprekingspunt geword.

“”Wenkbroue wat mooi gevorm en vol is laat jou dadelik jonger lyk. Die geheim vir mooi wenkbroue is ’n natuurlike voorkoms, vul daarom net die dele in waar jy dink te min hare groei.

“Om jou wangbene te beklemtoon kan jy jou blos strookgewys aanwend van jou wang opwaarts na jou tempels. Jy lyk sommer baie jonger met ’n bietjie ‘tan’ en dis waar ‘bronzer’ ’n groot rol speel. Eksperimenteer daarmee,” is Veronique se raad.

En om daardie lippies baie meer soenbaar te maak stel sy ’n neutrale of rooskleurige lipstiffie aan want dis altyd vleiend. Weereens sê sy vroue moet nie bang wees om te eksperimenteer nie en kan gerus daardie lipglans uithaal en opsit.

Vernonique is passievol oor wat sy doen en dit straal sommer by haar uit.

“Ek is absoluut verlief op die grimeer-wêreld en hoe verskillend dit gebruik kan word vandag. ’n Mens kan letterlik enige iemand in enige iets transformeer met die regte gereedskap en vaardigheid. Grimering is vir seker vir my ’n manier waarop ’n vrou ’n bietjie meer van haarself vertel. Sonder woorde.. ’n mens sien dit op haar gesig!”

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.