Entertainment

Do you fancy Casablanca?

Do you fancy Casablanca?

Toe ’n kliënt vir ’n plaaslike platejoggie vra “Do you fancy Casablanca?” het hy dadelik begin dink aan Morokaanse musiek vir ’n tema partytjie.

Toe hy uitvra oor die temapartytjie en die antwoord kry “No dummy, the city, in Morocco” het hy gedink hy droom.

Hardus Vosloo, ’n plaaslike inwoner en sakeman, was die laaste jaar nege maal oorsee, na stede regoor die wêreld om musiek te maak.

“Ek kan dit self soms nog nie glo nie. Ek dink nie dit omdat ek goed is nie. Ek is net lucky en met genade van Bo” vertel Hardus beskeie as jy begin uitvra oor hoe hy aan die lekker werk gekom het. Terwyl Hardus sy storie vertel kom die woorde van befaamde gholfer Gary Player in my agterkop op: “The harder you work, the luckier you get.”

Dit is beslis die geval met Hardus.

Sy vrou Sanri, by wie hy in 2003 nog vlerk gesleep het, het ’n trou venue in die dorp. Sy het met ’n krisis gesit nadat die platejoggie wat vir die troue bespreek is, ure voor die tyd gebel het om te sê hy kan dit nie maak nie en toe bloot sy selfoon afgesit het.

“Sanri het gevra of ek kan help. Die bruid was in ’n toestand. Ek het niks gehad om mee musiek te maak nie behalwe my guitar amp en my rekenaar. Toe sê hulle dit is reg en ek sit my amp in die tuin en maak musiek van my rekenaar af,” vertel Hardus.

Na die troue het die bruid hom R500 in die hand gestop.

“Ek het gedink dis nie te sleg om betaal te word om iets te doen waarvoor ek lief is nie.”

’n Bruilofgas het hom genader en gevra of hy nie by hulle troue ook wil kom speel nie. Die riemtelegram het van daar af gesorg dat Hardus amper elke naweek besig was met ’n troue. Troues het later besigheidsfunksies ingesluit. Eers in Middelburg en later verder uit die dorp in Mpumalanga, Gauteng en Noordwes.

Hardus meen dat ’n groot deel van sy sukses, of ‘geluk’ soos hy dit noem, te danke is aan sy vrou.

Sy het sy stokperdjie vir hom afgerond deur aan te dring dat hy dinge altyd professioneel moet doen, soos om ’n stel klere te dra wanneer hy sy toerusting opstel en dan skoon te gaan aantrek voor die funksie begin, altyd netjies, altyd betyds en altyd vriendelik.

Baie van die besigheidsfunksies was by Kloppenheim tussen Belfast en Machadodorp. Toe ’n platejoggie vir ’n internasionale rekenaar maatskappy konferensie, twee dae voor die tyd siek word, het die hotel aanbeveel dat hulle vir Hardus probeer.

Die persoon wat al die maatskappy se hoëvlak verkoopsopleiding doen (verkope van miljoene rande op ’n slag), het Hardus daarna vir bykans twee jaar vir al sy nasionale funksies gebruik. In 2014 by Mount Grace in Magaliesburg, het hy weer mense van ’n ander internasionale maatskappy ontmoet. Hulle het vir hom gesê dat hulle mal is oor sy musiek en redigering asook die feit dat hy onder druk kan werk en nie geïrriteerd raak met die gaste nie.

“Hulle vra toe of ek die wêreld saam met hulle wil toer. En ek dog wat is die kanse. Hoekom sal hulle ’n Middelburg outjie gebruik as hulle enige iemand kan kies? Hulle praat sommer maar net,” vertel Hardus.

Bykans ses maande later vra dieselfde mense hom toe vir ’n kwotasie om in Griekeland en in Amerika te gaan optree.

“Ek het toe klaar vir ’n pel gesê dat ek hom sal help met die klank by ’n kerkkamp, so ek moes nee sê vir Griekeland,” sê hy. Hy het ook nie die Amerika funksie gekry nie.

In Oktober 2015 het hy weer met die mense kontak gemaak tydens ’n geselligheid in Sandton. Kort daarna het hy die boodskap gekry “Do you fancy Casablanca?” Die res is geskiedenis.

Van Casablanca was Hardus al in Dubai, Atlanta, Hartford, Chicago, San Fransisco, Amsterdam, Kuala Lumpur, Melbourne en Vancouver. Hy het verjaar tydens sy reis na Maleisië en kon sy vrou saam neem.

“Alles wat ek van kleins af van gehou het, het opgebou tot wat ek vandag kan doen. Om te DJ is my passie, dis nie my werk nie.”

Hardus vertel dat hy van sesjarige ouderdom gefassineerd was met rekenaars. Op skool het hy op bestelling verpersoonlike musieksamestellings op CD verkoop. Hy het MCD (Mpumalanga Computer Distributors) en Shockwave Music, ’n musiekwinkel en opname studio in die dorp saam met sy pa, Vossie en ma, Hannetjie begin.

Die platejoggie geleenthede het verder ontwikkel en deesdae help Hardus met IT ondersteuning, asook met die hulp vir kwotasies omdat hy ’n goeie idee het wat klanktoerusting kos.

Indien hy in ander lande gaan optree, doen hy navorsing oor goed soos die trefferlys in daardie land en die ouderdom van die gehoor.

“As die meeste mense 40 is, dan soek ek vir die trefferlys van 20 jaar terug, toe hulle 18 was. Soms is dit moeilik. Ek was by ’n funksie waar daar mense van vyf verskillende lande bymekaar gekom het. As ek nie die woorde van die liedjies verstaan nie, dan soek ek maar vir ’n paar met ’n catchy tune en ’n lekker melodie en tempo,” sê Hardus.

Hy glo vas dat moeilike situasies op die ou end bydra tot verbetering.

“Ek gee alle eer aan die Here. Dit is eintlik amazing as jy terugkyk en besef hoe alles wat jy gedoen het, en alles waarvan jy hou, so perfek kan saamkom, tot jy uitvind, jy leef jou passie.”

Oral waar hy kom, ontmoet hy Suid-Afrikaners wat hul merk maak.

“Ons is ’n baie spesiale groep mense. Ek dink dit is omdat ons van kleins af blootgestel word aan verskillende kulture, rasse en tale. Ons diversiteit is vir ons ’n groot voordeel.”

Hardus het tot op hede al meer as 600 funksies onder die belt. Hy sê dat hy toe hy nog ’n kind was, die boek ‘Rich Dad, Poor Dad’ van Robert Kiyosaki gelees het. Hy neem dit vandag nog ter harte.

“Moet nooit werk vir geld nie. Werk vir jou passie en geld sal volg.”

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.