Latest News

VLU skrywer van die jaar

VLU skrywer van die jaar

Bets Smith, die Mpumalanga streek van die VLU se skrywer van die jaar, was ’n oud-Middie!

Dié bekende skrywer is tydens die Mpumalanga VLU se 2015-kongres aangewys as hul skrywer van die jaar.

Sy is in die maande daarna na verskillende takke in die streek genooi om by takvergaderings met hulle lede te gesels oor haar skryfwerk.

“Dit was ’n voorreg, want ek het in die proses ’n besondere groep vroue ontmoet en die geleentheid gehad om ’n rukkie saam met hulle te kuier.”

Bets sê sy het dié kuiers terdeë geniet.

“Glo my, die VLU-vroue is alles behalwe ‘koeksisters en vetkoek’-tannies. Inteendeel. Net soos skrywers van romanses verkeerdelik beskou word as skeppers van hygromans, sit die VLU-dames opgesaal met die ‘image’ van koekbak-tannies – iets wat hulle nie is nie. Die vroue wat ek ontmoet het, is ’n klomp ingeligte vroue wie se ouderdomme wissel van twintig tot tagtig!”

Sy beskryf die Leeuklip-tak van Middelburg “as ’n klomp jong, wakker vrouens wat die betrokke dag in die plaaslike SAVF Tehuis vir Bejaardes vergader het.”

Bets vertel dat die VLU-lede onder andere op ’n gereelde basis wol en ander benodigdhede skenk wat die inwoners dan verwerk.

“Tydens die spesifieke VLU-vergadering het die bejaarde inwoners in werksgroepies gesit en werk aan pragtige artikels wat hulle op deurlopende basis verkoop om spesiale projekte en verbeterings aan die ouetehuis, te befonds.”

Sy sê die VLU-vroue wat sy deur die loop van die jaar ontmoet het, is omgeemense wat op verskeie vlakke aktief betrokke is in hul onderskeie gemeenskappe.

“Vroue wat hul lede bemagtig en toerus met vaardighede wat hulle lewe verryk. Om deur sulke vrouens benoem te word as skrywer van die jaar, meer spesifiek omdat my boeke erkenning gee aan die vrou met waardes, was vir my een van die hoogtepunte van my skrywersloopbaan!”

Wat haar besoek aan die Leeukliptak nog meer besonders bemaak het, was omdat die tak juis in Middelburg is. “Die dorp waar ek op hoërskool was.”

Haar ouers, Awie en Marie Malan, het in die middel sestigerjare daarheen verhuis van Vereeniging af. “My pa het by RMB, soos die vlekvrye staalfabriek, Columbus Stainless, in Middelburg destydse bekend was, gewerk. Ek was dus so bevoorreg om uit die huis skool te gaan.”

Na matriek studeer sy BA by Tuks, met die doel om soos so baie van haar tydgenote, onderwyser te word. “’n Lekker veilige beroep vir ’n vrou, want daar is mos ’n skool op elke dorp waarheen jou man ‘verplaas’ kan word.”

Daarna verloop dinge minder voorspelbaar vir haar. Die afgestudeerde ‘juffrou’ gaan ná haar Honneurs in Geskiedenis ‘army’ toe en word later kaptein.

Daar kon sy haar geskiedenis-agtergrond gebruik om te werk as navorser in weermagsgeskiedenis vir verskeie publikasies, onder andere ook vir Operasie Savannha, ’n geskiedenis van die grensoorlog.

Terwyl sy daar werk, ontmoet sy vir Pieter, met wie sy in 1980 getroud is. Sedert 1986 bly hulle in Witrivier, waar sy tans nog Engelse onderwyser is by Hoërskool Rob Ferreira.

“Ek is dus eintlik ’n juffrou wat boeke ook skryf, heeltemal toevallig en onbepland,” begin sy gesels oor haar skryftalent.

Daar is geen gepubliseerder skrywers in haar familie waarvan sy weet nie, maar haar ma het verskeie kortverhale geskryf wat sy nooit ingestuur het nie.

“Dit was ook nooit vir my ’n brandende ambisie om eendag skrywer te word nie. Die skrywery het maar gegroei uit my voorliefde vir lees wat deur my ouers wakker gemaak en aangemoedig is. Dit het ‘gebeur’ toe ek in die negentigerjare terloops gewonder het of ek nie self ’n storie sal kan skep nie.”

Tot haar grootste verbasing is daardie eerste poging baie positief ontvang, hoewel dit nie die eerste een is wat gepubliseer is nie.

’n Volgende poging, By Omdraai Verby, was ’n romanse met ’n stewige skoot spanning, en het in 1997 by destyds se JP van der Walt-uitgewers (tans LAPA) verskyn. Sedertdien het LAPA 25 van haar boeke gepubliseer, die laaste, Seldsame Man, in Junie 2016.

Van die 25 is drie spanningsromanses, ‘Skrikkelmaan’, ‘Bloedspoor’ en ‘Dodelike Fokus’, wat ’n mengsel is tussen spanning en avontuur. Daar is ook twee historiese romanse, ‘Onder ’n Sterrehemel’ en ‘Goue Dagbreek’, een superromanse, ‘Seldsame Man’ en die res ligter romanse.

“Om ‘’n skrywer’ genoem te word, voel nog steeds vir my vreemd, al beplan ek om aan die einde van 2016 uit die onderwys af te tree en voltyds te begin skryf.”

Haar nuutste manuskrip, nog ’n spanningsromanse, is goed op dreef en behoort vroeg in 2017 voltooi te wees.

Haar raad aan aspirantskrywers?

“Voor jy begin moet jy weet dis harde werk. En dis nié ’n goudmyn of maklike manier om geld te verdien nie. Maar as jy werklik graag wil skryf, moet jy eenvoudig gaan sit en die eerste woorde op papier (of op die skerm) neerpen. Want om eerlik te wees is dit eintlik heerlik om ’n storie te ‘skep’: jou eie breinkind, op papier gesit in jou eie taal soos net jy as individu die taal kan inspan.”

Sy sluit af met: “Khaled Hosseini sê: ‘Writing fiction is the act of weaving a series of lies to arrive at a greater truth’.

Gee dus maar jou verbeelding vrye teuels en manipuleer jou karakters na hartelus om jou storie te pas.

“Skryf oor iets wat jy goed ken, iets wat in die gewone lewe maklik kan gebeur. As jy regtig wil skryf, sal jy die BOSS-beginsel toepas: Bas Op Stoel en Skryf! As ek dit kon doen, kan jy ook.

“Maar wees gewaarsku: as die gogga jou eers gebyt het, is jy vas!”

• Met haar boek, ‘Die Verste Ster’ was sy ’n finalis in die eerste ATKV-Woordveertjiesprys vir romanses in 2008.

 

Get it Middelburg December 2016

Presentation on Saturday 3 December at 9h00 and 12h00 at Protea Highveld Hotel, Jellicoe Street, Witbank. Contact Manny 0737228311 or Karen 0824296315
View magazine

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.