Fashion & beauty

Milné dra die kroon

Milné dra die kroon

Die eerste ding wat jy van Milné Hammann opmerk, is haar glimlag: groot, vriendelik en innemend. Maar dié jong Middelburger se glimlag lyk nie net goed op ’n loopplank nie.

As die nuutverkose mejuffrou Middelburg gaan sy nog baie se harte deur haar liefdadigheidswerk laat warm klop. En dít is ’n kroon wat sy nie ligtelik dra nie.

Dié oud-leerling van HTS Middelburg wil haar titel gebruik om mense se lewens te verander deur sigbaar betrokke te raak by verskeie projekte.

“Ek wil terselfdertyd ook ander motiveer om hul moue op te rol en te help. Ek glo dat naasteliefde nie net aan ’n titel of instansie gekoppel is nie – enige iemand kan enige tyd daarby betrokke raak.”

Projekte wat sy reeds geïdentifiseer het, is onder andere Feed a Child, die Middelburg Baby Box, ouetehuise en, natuurlik, die Dierebeskermingsvereniging.

“Ek is baie lief vir diere en wil graag op ’n gereelde basis vrywillige werk daar doen. Dalk kan ek sommer ’n span vrywilligers saamneem!”

Die 21-jarige wou aanvanklik siviele ingenieurswese studeer, maar ná haar pa skielik siek geword het, het sy besluit om vir ’n onderwysgraad by UNISA in te skryf. Sy gee tans Wiskunde- en Wetenskapklasse by die Rooies as deel van haar praktiese ondervinding.

Maar hoe het haar pad van studentejuffrou na titelhouer geloop? “Ek onthou hoe ek al op skool vir só iets wou inskryf, maar het destyds gevoel dat ek te jonk is om alles aan te pak. Ná skool het Modelling SA my gekontak en ek het vir hulle gesê dat ek daaroor sal dink.”

Dit was egter toe sy een dag vir Andries du Preez in die Middelburg Mall raakgeloop het, waar die kroondra-wiel in alle erns aan die rol gesit is. Net om haar prestasie vinnig in perspektief te plaas – sy het géén modelondervinding agter haar naam nie.

“Ek was self verbaas oor hoe ver ek gevorder het. Omdat ek besig was met skooldinge en binnenshuise hokkie, het ek videos op YouTube gekyk waar hulle vir jou verduidelik hoe om op ’n loopplank te loop en te draai,” sê sy laggend.

“Hulle het die sewe finaliste op sosiale media aangekondig en ek het Facebook vir dae dopgehou. Toe ek my naam en foto tussen die ander meisies s’n sien, het ek eers almal gebel!”

milne3_37372_tn

Haar kroon is spesiaal vanuit Indië ingevoer en sy vertel dat dit nogal aandag verg om hom perfek te balanseer.

So van ’n gesonde balans gepraat – sy is ook gereeld op die sportveld te siene, waar sy HTS Middelburg se o/16-hokkiespan afrig. Dan is sy ook ’n gereelde gesig by Middelburg se nagwedlope.

“Ek oefen letterlik saam met my hokkiekinders (selfs fiksheid, wat nogal indrukwekkend is) tydens die sessies en ek maak gereeld onder die eerste 1000 deelnemers by die dorp se nagwedlope klaar,” skerts sy.

Milné is baie familievas en spandeer soveel as moontlik tyd saam met haar ouers en sussie.

Soos enige jong mens het sy ook gesonde drome vir haar toekoms. “Ek wil bittergraag my honneursgraad voltooi en dalk eendag ’n departementshoof word by ’n skool.”

Maar vir eers wil sy soveel as moontlik vir ander doen. “Ek wil net die beste maak van elke geleentheid wat my pad langs kom,” sluit sy af.

En Milné Hammann kan nog deur middel van haar projekte vir baie glimlagte sorg.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.