Entertainment

Zzzzzzzzzipline pure adrenalien

Zzzzzzzzzipline pure adrenalien

Op soek na pure adrenalien? Middelburg het nou sy eie zipline, Cycad Zip X, wat deur Loskop Adventures bestuur word.

Die plaas buite die dorp behoort aan drie vriende en besigheidsvennote, mnre. Thys Taljaard, Markus Venter en Kobus Pretorius wat iets anders aan die omgewing en sy mense wou bied.

“Jy hoef nou nie meer ver te soek vir ’n onvergeetlike adrenalieninspuiting nie en boonop kan jy seker wees van ’n veilige zipline-ervaring.” sê mede-eienaar, mnr. Taljaard.

Die Cycad ZipX is een van net elf volledige ziplines in Suid-Afrika en ook een van die hoogste ziplines in die land.

Dit is naby Middelburg se Loskopdam Natuurreservaat geleë en het sewe lyne wat in totaal 1,38 km strek oor ’n pragtige kloof.

Die sewe lyne het elk verskillende name, lengtes, hoogtes en spoed wat voorsiening maak vir ’n verskeidenheid behoeftes en braafheid van kliënte:

1. Cycad – 136 m met ’n spoed van omtrent 45 km/h

2. Breezer – 108 m met ’n spoed van omtrent 33 km/h

3. Mamba – 240 m met ’n spoed van omtrent 68 km/h

4. Gold Rush – 284 m met ’n spoed van omtrent 72 km/h

5. Cliffhanger – 230 m met ’n spoed van omtrent 64 km/h

6. Klipspringer – 191 m met ’n spoed van omtrent 50 km/h

7. Finale – 188 m met ’n spoed van omtrent 52 km/h

Die besigheid is redelik nuut en het 20 Desember 2015 die eerste groep op die ziplinetoer gevat.

“Ná die vakansie se stormloop, fokus ons nou meer op skole, besighede, kerke en ander organisasie wat wil spanbou doen.” sê mede-eienaar, mnr. Venter.

Mnr. Pretorius sê dat hulle ook bereid is om met groepe te onderhandel vir ’n beter prys.

“Ons is ook gewillig om groepe vanaf die Sasol-vulstasie te vervoer teen ’n klein fooi aangesien die pad nie noodwendig vir ’n plat voertuig geskik is nie.”

Dit is werklik ’n gesonde aktiwiteit wat jou uitdaag om vas te byt en jou limiete te toets in die vars buitelug en skone natuur.

Daar is ’n kiosk en kuierarea waar jy kan ontspan en die eienaars beplan om braaigeriewe ook te bou.

“Intussen kan jy steeds braai as jy wil, ons bring vir jou ’n rooster en jy’s selfs welkom om in ons swembad te kom afkoel.”

Die gashere is baie vriendelik en toeganklik, en mens voel sommer onmiddellik welkom.

Wat die zipline se funksionering betref, is die goed opgeleide gidse uiters professioneel en jou veiligheid is hulle prioriteit.

“Ek doen dit al vir ses jaar en is mal daaroor om met mense en die toue te werk. Ek geniet dit ongelooflik baie.” sê gids en noodhulpman, mnr. Nicholas Skhumbande.

Aan die einde van die ziplinetoer, kry jy nog ’n gratis 4×4-ervaring wanneer die span jou weer opvat huis toe in die hulle bakkie.

Indien jy skrikkerig is, is daar drie punte waar jy kan besluit om jou avontuur kort te knip of jy kan een van die gidse vra om saam met jou af te gaan.

Die Cycad Zip X is die ideale wegbreekplek vir almal van omtrent agt tot sewentig jaar met toerusting wat van die nuutste is.

“Alle toerusting en platforms is goedgekeur deur SABS. Die zipline is ontwerp en goedgekeur deur Anton Kloppers, Siviele Ingenieur van Tirisano Consulting Engineers. Koos Grove het die platforms opgerig en die kabels gespan. Veiligheid is deurentyd die mees belangrike aspek van die hele toer.”

Indien jy wil oornag, is chalets en kamers beskikbaar by Sunset View wat grens aan Loskop Adventures.

“Kom geniet die uitsig van die kloof met honderde broodbome waarvan sommiges tot 850 jaar oud is.”

Hierdie is beslis ’n avontuur wat jy in jou leeftyd moet aanpak – hoogtevrees of nie.

Vir meer inligting, kontak Engela (Besprekings): +27 76 576 1620; Betsy (Besprekings): +27 83 325 6888; Thys: +27 82 923 1982 en Anthea: + 27 72 7081510 of e-pos hulle by thys@htws.co.za.

Volg hulle ook op Facebook by Loskop Adventures en besoek gerus hulle webtuiste by www.loskopadventures.co.za.

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.